Groot makietie by Windhoek Braaifees

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die Windhoek Braaifees vind op 29 en 30 Maart by die Hage Geingob-rugbystadion in Windhoek plaas, waartydens die land se kampioenbraaiers gekroon gaan word.

Die Krugers van die Kaiserstraat Boerevereniging (BV) het verlede jaar koning gekraai op die Namibië Landbou-unie (NLU) se Agribraai op Gobabis. Omuramba BV was die naaswenners en Aroab BV in die derde plek.

Kaiserstraat BV se kampioenbraaiers van 2018, Nic, Elsada, Corné en Charmoni Kruger, het belowe 2019 se NLU Agribraai, die Windhoek Braaifees, gaan 'n groot makietie wees.

Corné Kruger het met Republikein gesels en gesê die vure gaan hoog brand en baie boereverenigingspanne het reeds ingeskryf, asook sosiale spanne.

Vermaak gaan volop wees met plaaslike kunstenaars soos Hannes Kaufmann, Joggie en André, en Jacob & Taylor, die Suidwes Boereorkes, asook bekende Suid-Afrikaanse sangers wat gaan optree.

Vrydag gaan Robbie Wessels en Bok van Blerk besoekers laat saam sing, en Saterdag gaan Karlien van Jaarsveld, Broers en Die Campbells die voete laat jeuk.

Daar gaan vet pret vir oud en jonk wees met baie stalletjies, ’n pretpark vir kinders, 'n wildsveiling Saterdag om 12:00, ’n vleiswerkdemonstrasie en ’n bakkompetisie.

Vir Bakpro se bakkompetisie moet 'n uithaler appeltert gebak word. Appelterte nie groter nie as 23 cm moet Saterdag om 10:00 vir beoordeling gereed wees. Vir verdere navrae, kontak Sanet Prinsloo by 081 124 6023 of Rodger du Plessis by 081 146 4730.

Hekke maak Vrydag om 14:00 en Saterdag om 08:00 oop. Kaartjies is by Pick n Pay, Webtickets of die hekke te koop.

Vir kinders onder ses is toegang gratis en vir kinders tussen 7 en 16 kos kaartjies N$50. Almal bo 16 betaal N$100 per dag, maar as albei dae bygewoon word, beloop toegang N$180.

Daar is slegs 300 Golden Circle-kaartjies beskikbaar, wat N$900 vir albei feesdae beloop.

Kaiserstraat BV nooi Namibiërs uit om saam te kom fees vier en kyk wie met 2019 se braaikroon wegstap.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer