Groot opkoms vir opvolgspuite

Syfers wys beleid word pligsgetrou uitgevoer deur net nuwe AstraZeneca-voorraad vir opvolgimmunisering te gebruik, maar ‘n voortgesette toename in nuwe inentings is steeds nie te bespeur nie.
Dani Booysen
Dani Booysen – Soos toe ‘n nuwe besending Sinopharm-entstowwe teen Covid-19 in Namibië aangekom het, was daar Maandag ook ‘n rekordaantal tweede inentings met AstraZeneca.

Nuwe voorraad het Sondag in die land aangekom.

Maandag is 2 982 tweede AstraZeneca-spuite toegedien teenoor 21 eerste immuniserings met die entstof. Gesondheidsowerhede het die nuwe voorraad vir opvolginentings gereserveer nadat baie mense weens ‘n tekort nie aanvanklike opvolgdatums kon nakom nie.

Die meeste van die eerste inentings, 12, is in die Otjozondjupastreek gedoen.

Byna twee derdes van tweede inentings met AstraZeneca, 65% of 1 938 inentings, het in Windhoek plaasgevind. In die Erongostreek is 714 sulke opvolgspuite toegedien, 171 in Hardap en 96 in Otjozondjupa.

Data toon daar was Maandag nog nie AstraZeneca in Kavango-Wes, Ohangwena, Omusati, Oshana en Zambezi beskikbaar nie. Die ||Kharasstreek het geen data vir Maandag ingedien nie.

‘n Bykomende 934 opvolginspuitings met Sinopharm is ook Maandag gedoen.

Die totaal van 3 916 opvolgspuite is ‘n nuwe rekord.

SLAKKEPAS

Hierteenoor is Maandag net 1 813 nuwe inentings gedoen in vergelyking met twee tot drie weke gelede se meer as 2 000 en 3 000 op sekere dae.

In totaal is verlede week 14 355 inentings gedoen teenoor 18 384 en 24 855 die twee weke voor dit.

Afnames is in al 14 streke gerapporteer.

Ons grafika wys streke se vordering met die doelwit om aan 60% van inwoners ‘n wegspringvlak van beskerming te gee.

Teen Maandag het 7% van die land se bevolking ‘n eerste inenting ontvang en 2% was volledig geïmmuniseer.

As gesondheidsowerhede teen die einde van September 600 000 eerste inentings wil toedien, sal elke week 85 000 eerste inentings gedoen moet word – meer as drie keer meer as die hoogste weektotaal dusver.

ANDER DATA

Vir Maandag is net 96 nuwe gevalle van Covid-19 gerapporteer.

Dit is die eerste keer sedert 6 Mei en 10 Mei se 92 gevalle vir beide dae dat die getal minder as 100 was.

Gemeet oor sewe dae was Namibië se gemiddelde nuwe gevalle per dag teen Maandag 231.

Die syfer was net meer as 1 800 tydens die kruin van die pandemie se derde golf en is nou op dieselfde vlakke as laat in Mei. ‘n Duidelike afplatting van die kurwe is sedert die begin van Augustus sigbaar.

Die vyf distrikte met die hoogste gemiddeldes per dag is tans Windhoek (29 teenoor 804 op 24 Junie), Oshakati (27), Eenhana (19), Walvisbaai (17) en Engela (14). Katima Mulilo se 11 gevalle per dag is die enigste ander gemiddeld hoër as 10.

In verskeie vorige brandpunte is daaglikse gemiddeldes nou mimimaal. Otjiwarongo teken byvoorbeeld gemiddeld agt gevalle per dag aan; Lüderitz sewe; Rundu ses; Gobabis vyf en Rehoboth net drie.

Hoewel meer as 1 900 gesondheidswerkers tydens die derde golf positief getoets het (byna die helfte, of 47% van die totale 4 165 gevalle dusver in die frontliniegroep), toets minder as 10 nou daagliks positief.

Sterftes toon ook ‘n duidelike afname.

Teen 10 Augustus is 83 sterftes in die huidige maand aan Covid-19 toegeskryf.

In gesondheidsannale sal Junie en Julie van 2021 opgeteken staan as die land se grootste lewensverlies dusver weens die wêreld se jongste griepvirus.

Gesamentlik is in die twee maande nou 2 234 sterftes aangeteken wat direk of indirek deur Covid-19 veroorsaak is. In Junie 1 007 en 1 227 in Julie – 69% van die 3 226 Covid-19-sterftes sedert Julie 2021.

STERFTES

In Namibië verteenwoordig sterftes 2,65% van positiewe gevalle – meer as die wêreldgemiddeld van 2,1%.

Die volgende agt streke het gemiddeldes hoër as die nasionale gemiddeld: Omaheke 6,73%; Zambezi 3,58%; Omusati 3,56%; Oshana 3,54%, Hardap 3,48%; Kavango-Oos 3,21%; Ohangwena 3,09% en Otjozondjupa 2,98%.

Tuissterftes staan op 381; 12% van die totaal of net meer as een uit tien. Vyftien persone het volgens beskikbare data onderweg na die hospitaal gesterf.

Die volgende tien distrikte het teen Maandag die meeste gevalle van die siekte aangeteken: Windhoek 41 049, Walvisbaai 9 001, Oshakati 8 470, Swakopmund 6 380, Rundu 4 702, Rehoboth 4 421, Otjiwarongo 3 658, Gobabis 3 627, Lüderitz 3 501 en Katima Mulilo 2 796.

Teen Maandag het die aantal persone wat in formele kwarantyngeriewe gehuisves was tot 1 724 afgeneem teenoor 4 540 op 30 Junie.

Op die oomblik word sowat 1 500 toetse per dag verwerk. Die meeste nog per dag was 5 790 op 15 Junie.

Maandag was net 6% van toetsuitslae positief. Die gemiddeld is tans 15% terwyl dit op die kruin 44% was, met 57% as hoogste daaglikse positiwiteitskoers op datum. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!