Groot pyn by die petrolpomp in April
Benewens potensiële stygings gaan motoriste in die buurland reeds 20c per liter meer vir petrol en diesel betaal.
Hanlie Stadler – Die pyn by die pomp gaan in April dalk nóg seerder wees as in Maart. Dis nou byna-byna seker dat petrol meer as R1 per liter duurder gaan word en diesel baie na daaraan.
Dis volgens die syfers net mooi in die middel van die oorsigtydperk wat April se brandstofpryse gaan bepaal.
Teen Vrydag was daar ’n onderverhaling (dus potensiële styging) van byna 96c per liter op 95-oktaan-petrol en van 98c per liter op 93-oktaan.
Die onderverhaling op die groothandelprys van diesel wissel van byna 69c per liter (0,05% swaelinhoud) tot 70c per liter (0,005%).
Benewens dié potensiële stygings, wat bepaal word deur internasionale brandstofpryse en die rand-dollar-wisselkoers, gaan motoriste reeds 20c per liter meer vir petrol en diesel betaal. Die jaarlikse verhoging in die algemene brandstofheffing en die Padongelukkefonds word in April ingestel en vanjaar beloop dit onderskeidelik 15c en 5c per liter.
Twee weke lê nog voor voordat die finale brandstofpryse op 28 Maart vasgestel word en die onderverhaling kan nog verminder – of selfs vergroot. Die pryse sal vanaf die eerste Woensdag in April, dus op 3 April, geld.
Dit sal die derde maand agtereenvolgens wees dat brandstof duurder word.
· In Februarie het petrol 7c per liter duurder geword en in Maart 74c, ’n totaal van 81c per liter oftewel R36,45 per tenk van 45 liter.
· In Februarie het diesel met 0,005% swael 2c per liter duurder geword en in Maart 93c, ’n totaal van 95c oftewel R42,75 per tenk van 45 liter.
Die grootste rede vir die enorme onderverhaling is die skerp styging in internasionale brandstofpryse. Dit dra tussen 72c en 74c per liter tot die onderverhaling op petrol by en 42c tot 43c per liter vir diesel.
Volgens Oilprice.com het oliepryse gestyg weens die ineenstorting van produksie in Venezuela, tesame met die nuwe produksieperke wat die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opul) en sy vennote, wat Rusland insluit, in Januarie ingestel het. Die teiken is om produksie met 1,2 miljoen vate per dag te besnoei.
Oliepryse is nou naby die hoogste vlakke sedert November verlede jaar. Brent-ruolie het Donderdag bo $68 per vat gedraai.
Die algemene verwagting is dat die prysstygings deur skalie-olieproduksie in die VSA teengewerk sal word. Dié land se energie-inligtingsadministrasie het egter pas sy verwagting vir olieproduksie in die land tot 12,3 miljoen vate per dag verminder.
Die rand, wat nou op die swakste vlak in drie maande teenoor die dollar verhandel, het ook sy tol geëis.
Intussen bly die rand onder erge druk. Dit sluit nou al twee weke lank, sedert 28 Februarie, bo R14 per dollar en het Vrydagoggend reeds by R14,55 gedraai. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie