Groot seeswaeltjies van Europa kuier op Lüderitz

Vakansiegangers word versoek om slegs op gemerkte paaie te ry ter wille van onder meer die Damara-sterretjie.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Van die groot seeswaeltjies wat tans aan Lüderitz se kus kuier, het waarskynlik sowat 10 700 km afgelê om vakansie in Namibië te kom hou.

Boonop verkies die geveerde toeriste skynbaar om jaarliks hierheen te kom.

‘n Hele klompie groot seeswaeltjies is die afgelope weke deur Lüderitz Marine Research by Grosse Bucht afgeneem – waarvan verskeie gering was. Die ringe help wetenskaplikes om die voëls te identifiseer en vas te stel waarvandaan hulle gevlieg het.

Lüderitz Marine Research het foto’s van verskeie groot seeswaeltjies op hul Facebook-blad gedeel en gesê die voëls is gereelde besoekers aan die Namibiese kus en die sterk suidewind steur hulle oënskynlik nie.

GEREELDE BESOEKERS

Volgens rekords was twee van hierdie swaeltjies, wat tans by Lüderitz is, ook tydens verlede jaar se somerseisoen hier te sien.

KJ6 is een van hulle en kom oorspronklik van Norfolk in Engeland af, en die ander een, N5L, is van Nederland se Suid-Holland-provinsie afkomstig.

“Sommige individue het die afgelope jare keer op keer na Lüderitz teruggekeer,” het Lüderitz Marine Research op hul Facebook-blad geskryf.

“Hulle kom meestal van die noorde van Europa af en hou skynbaar baie van ons produktiewe mariene lewe. Hulle broei daar in die somer.

“Oor die afgelope jare het ons van die swaeltjies van so ver as Holland, Skotland, Ierland en Engeland gehad,” het Lüderitz Marine Research gesê.

Die groot seeswaeltjie is – soos sy naam aandui - groter as ander plaaslike seeswaeltjies soos byvoorbeeld die geelbeksterretjie. Hulle broei nie dié tyd van die jaar nie. Kenmerkend aan hulle is hul swart bekke met die geel punt, het Lüderitz Marine Research verduidelik.

DAMARASTERRETJIE

Foto’s van die ikoniese Namibiese Damara-sterretjie is ook gedeel, en die eerste kuiken vir die somer is op 12 Desember by Grosse Bucht afgeneem.

Die kuiken kon reeds vlieg, maar sy ouers het toe steeds klein vissies in die vlak branders gevang en vir hom gebring.

“Hierdie kuiken het waarskynlik uitgebroei van ‘n eiertjie wat tussen 30 Oktober en 3 November iewers naby Grosse Bucht gelê is. Die eiertjies weeg sowat 7,5 g en is sowat 3 cm in deursnee,” het Lüderitz Marine Research verduidelik.

“Hopelik is hierdie die eerste van vele suksesverhale van hierdie kolonie vir die seisoen.

“Damara-sterretjies maak hul nessies in die woestyn, dikwels etlike kilometers van die kus af. Hulle lê ‘n enkele, gekamoefleerde eier,” het Lüderitz Marine Research verduidelik.

“Ná 20 dae broei ‘n klein kuiken uit en verlaat die nessie ná twee dae. Dit lyk soos ‘n klein ‘donsballetjie’ wat met die woestyngrond kamoefleer sodat dit nie maklik raakgesien kan word nie.

“Eers 20 dae later het die kuiken se vere op hul vlerke genoeg gegroei sodat dit kan begin vlieg. Tydens hul broeityd is die voëls uiters kwesbaar vir die verwoesting van hul habitat of enige steurings.

“Hulle is ikonies van ons land omdat tussen 80% en 90% van dié spesie teen ons kus uitbroei. In Namibië is hul grootste bedreigings myne en motors wat oor die woestyn ry en nie op gemerkte paaie bly nie,” het Lüderitz Marine Research gewaarsku.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!