Groot skatte skuil in groen taal
Jo-Maré Duddy – Mý groen is nie jóú groen of óns groen nie.
Die Amerikaanse digter Robert Frost het dit toeka al gesê: “Nature's first green is gold, her hardest hue to hold.”
Só dobber my gedagtes in die reën tydens die lang pad Noorde toe, ‘n bederf wat my hopeloos té lanklaas beskore was. Otjiwarongo se wêreld begin die groot openbaring reeds stuk-stuk ontvou. Trek die natuur bietjies-bietjies die verhooggordyn oop en begin haar majesteit haar skouspelagtige buiging maak.
Tyd gaan staan stil vir hierdie Windhoeker. My groen oë drink ‘n groen in wat my kop lankal diep in ‘n laai gebêre het; dof van die stof van ‘n stadsgejaag wat die sleutel daarvan verloor het.
Ek’s pure groentjie in dié boswêreldtonele met sy diep, donker oorvloed wat verbyflits. Heuwels en dale bedek met ‘n kleurtapyt wat vreemd op die oog val. Is dít groen vir Otjozondjupa se mense? Is dít hoe groen regtig lyk?
Federico García Lorca, die Spaanse digter, fluister in my oor: “Green how I want you green. Green wind. Green branches.”
Op Tsumeb kolk my kop behoorlik. Die lushof van helder, amper neon, oorweldig my sintuie. Ek ruik die groen, skop my skoene uit en wikkel my tone in die donssag, nat gras rond, drink die gedrup van die reën op die reusebome in. Vat aan al wat ‘n blaar is; laat die ryk tekstuur van verskeidenheid in my vel insypel.
My brein wéét dis groen, maar glo dit nie. Skarrel verwoed rond op soek na woorde wat dit beskryf, maar kry niks wat goed genoeg is nie. Net ‘n paar holruggeryde clichés wat die prag sal beledig.
Die Nigeriese digter het verstaan: “Green green green; my wonder you are; for the amazement I feel of you baffles my knowledge.”
My reis koers Rundu toe; groente vir my dor siel. Ek’s blind vir die Kavango se groen. Die mense en hul groen is één. Anders as stedelinge weet hulle groen is lewe; koester hulle dit. Die groen rivier, die groen bome met vrugte, selfs die vuilgroen paddas waarvoor verwesterse stadsjapies hul neus optrek. Hierdie mense verstaan groen taal.
Al is hulle wêrelde en eeue verwyder van die Engelse digter Andrew Marvell wat geskryf het: “No white nor red was ever seen so am’rous as this lovely green.” Hulle het dit nog áltyd geweet.
Terwyl die rivier se brandertjies my moeë voete die aand skalks laaf, kyk ek op en onthou die Amerikaanse skilder Alden Baker se woorde: “My father pointed to the moon and asked me what color it was. I couldn’t tell. So he told me to look at the horizon and then glance back quickly at the moon. Then I saw it: it was pale green.”
Op pad terug Windhoek toe, belowe ek myself om groen – die régte groen – in die stad te gaan soek. Oral: Op die sypaadjies, in mense, in my kop.
En die stem in my hart prewel die Engelse digter D.H. Lawrence:
“The dawn was apple-green,
The sky was green wine held up in the sun,
The moon was a golden petal between.
She opened her eyes, and green
They shone, clear like flowers undone
For the first time, now for the first time seen.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie