Groot uitdagings vir lugrederye

Ondanks terugslae die afgelope jare staan die lugvaartbedryf sterk, maar Afrika sukkel steeds.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Omtrent die helfte van die totale lugvaartbedryf se wins is verlede jaar in Noord-Amerika gemaak (US$15,4 miljard). Lugrederye in Europa en Asië en die Stille Oseaan-gebiede voeg 'n verdere US$7,4 miljard wins by die totale wins van die bedryf. Latyns-Amerikaanse en Europese rederye dra onderskeidelik US$800 miljoen en US$400 miljoen by. Lugrederye in Afrika daarenteen sal na verwagting 'n verlies van US$100 miljoen ly.

Dié verlies stem ooreen met 2016 s'n, wat op 'n verlies van US$1,50 per passasier te staan kom.

Dít blyk uit statistiek wat by die jaarlikse algemene vergadering van die Internasionale Lugvervoervereniging (Iata) in Cancun, Mexiko, bekend gemaak is.

Na verwagting sal die passasier-aanvraag in Afrika met 7,5% toeneem vanjaar – effens minder as die verwagte kapasiteitsgroei van 7,9%.

Volgens 'n ontleding deur Iata kan die verbetering in kommoditeitspryse help om die vasteland se ekonomieë 'n hupstoot te gee en die toename in brandstofkoste uit te balanseer.

“Dié tendens sal waarskynlik nie volhoubaar wees nie. Die las van hoë belasting, hoër as globale brandstofpryse, mededinging uit die Golf-state en beperkte intrakontinentale oop lugruime, bly van krag. Hierdie faktore sal tot voortgesette verliese bydra,” lui 'n verklaring van Iata.

Altesaam 63 miljoen werksgeleenthede en US$2,7 triljoen van ekonomiese aktiwiteite wêreldwyd berus op lugvaart.

Met die aanvang van Iata se 73ste algemene jaarvergadering is die uitvoerende hoof van die Mexikaanse lugredery, Aeroméxico, mnr. Andres Conesa, tot president van die byeenkoms verkies.

Hy sê al 275 lugrederye wat lede van Iata is se samewerking is noodsaaklik om uitdagings die hoof te bied.

Met 'n skaars verdoeselde verwysing na die Trump-administrasie in Washington se proteksionistiese gesindheid, het Conesa gesê die wêreld het die afgelope jare geglobaliseer.

“Maar daar is sommige lande wat 'n paar treë terug wil gee.”

Hy sê sy redery het onlangs 'n ooreenkoms met die Amerikaanse redery, Delta, gesluit en dat hy hoop om sodoende brûe tussen die twee lande te bou.

Hy het daarop gewys dat Mexiko 'n geskiedkundige jaar agter die rug het wat toerisme betref, en dat lugverbindings 'n groot rol hierin gespeel het.

Die helfte van alle aankomste in Cancun is per lugvervoer. In Mexiko alleen dra toerisme en lugvervoer tot 1 miljoen werksgeleenthede by en toerisme is vir 2,2% van die land se totale ekonomie verantwoordelik.



Sterk wins, maar koste styg

In die hersiene beraming van die lugvervoerbedryf se winsgewendheid deur Iata word verwag dat lugrederye vanjaar wins van US$31,4 miljard sal maak.

Dit is meer as die aanvanklike vooruit­skatting van US$29,8 miljard op inkomste van US$743 miljard - voorheen op US$736 beraam.

Iata se direkteur-generaal, mnr. Alexandre de Juniac, het by die ­algemene jaarvergadering gesê die vraag na sake­bedrywighede van sowel vrag- as passa­siers is sterker as wat die verwagting is.

Ondanks 'n toename in verdienste is rederye onder druk vanweë stygende brandstofpryse, duurder arbeid en instandhoudingskoste.

Ondanks die toename in wins is die persentasiegroei in winsgewendheid kleiner as die vorige jaar s'n.

In 2017 verwag lugrederye 'n wins van US$7,69 per passasier, wat af is van die US$9,13 in 2016 en die US$10,08 in 2015. Die gemiddelde winsmarge staan op 4,2%, af van 4,9% in 2016.



Veranderde wêreld

Die lugvaartbedryf is sedert die draai van die millennium deur groot uitdagings en terugslae geteister.

Die wêreld het op 11 September 2001 met skok kennisgeneem dat kommersiële vliegtuie as wapens van massiewe verwoesting aangewend kan word.

Verskerpte veiligheidsmaatreëls, waaronder streng beheer oor toegang tot die vlieënierskajuite, die verbod op die dra van enige skerp voorwerpe soos skêre, messe en naelvyls aan boord, is ingestel.

Vir passasiers wat ekonomiese klas vlieg was die dae van metaaleetgerei verby en plastiekmesse en -vurke het hul verskyning op vliegtuie gemaak.

Amerika het in 2003 met visuele en vingerafdrukskanderings van enige voor­nemende besoeker aan die land begin.

Ná 'n bomaanval gefnuik is toe 'n voornemende terroris plofstof in sy skoensole versteek het, moet passasiers by die meeste internasionale lughawes hul skoene uittrek en dit deur 'n afsonderlike skandeerproses stuur wanneer hulle deur die deursoekpunt gaan.

Maar al hierdie maatreëls kon nie voorkom dat bomontploffings op 24 Augustus 2004 aan boord twee binnelandse Russiese passasiervliegtuie, wat van die Internasionale Lughawe Domo­dedovo in Rusland opgestyg het, en saam 90 passa­siers aan boord gehad het, plaasvind nie. Niemand het oorleef nie.

'n Passasiersvliegtuig van Air Malaysia, vlug 370, het op 8 Maart 2014 met 227 passasiers en 12 bemanningslede aan boord spoorloos verdwyn toe dit van Kuala Lumpur op pad Beijing toe was.

Dit kon ook nie verhoed dat nóg 'n passa­siersvliegtuig van dieselfde redery op 17 Julie in dieselfde jaar met 283 passa­siers en 15 bemanningslede op pad van Amsterdam se Internasionale Lughawe Schipol na Kuala Lumpur met 'n missiel oor ­Oekraïne afgeskiet is nie.

Op 31 Oktober 2015 het die Russiese ­Metrojet, vlug 9268, onderweg van Sharm El Sheikh in Egipte na die Internasio­nale Lughawe Pulkovo by St. Peters­burg, in Rusland, in die noordelike Sinaï neer­gestort nadat dit, sover vasgestel kan word, deur militante afgeskiet is. Al 217 passasiers en sewe bemannningslede is dood.

Terroriste het ook op 22 Maart 2016 daarin geslaag om drie gekoördineerde selfmoordbomaanvalle in België uit te voer, waarvan twee op Brussel se internasionale lugawe was.

Altesaam 32 burgerlikes en drie Islamitiese Staat-militante is in dié aanval dood. Verlede maand was duisende passasiers by Londen se Internasionale Lughawe Heathrow gestrand toe die datasentrum van British Airways (BA) in duie gestort het. Vlugte is gekanselleer en groot ontwrigting is veroorsaak.

By die konferensie in Cancun het mnr. Willie Walsh, voorsitter van die International Airlines Group (IAG) tydens 'n nuuskonferensie gereageer op vrae oor die voorval.

Hy het dit duidelik gemaak dat die voorval nie deur 'n ineenstorting van die rekenaarnetwerk van BA veroorsaak is nie en dat dit nie 'n mislukking van inligtingstegnologie of 'n kuber-aanval was nie.

“Die krag in die kragkamer is ontkoppel en die datasentrum het alle verbindings verloor.

Dit op sigself sou nie so 'n krisis gewees het nie en kon binne 'n redelike kort tyd weer reggestel word. Die krag is egter onregmatig herstel en dit het skade aan die stelsel aangerig – wat baie groter probleme veroorsaak het.

“Dit was 'n uiters rare gebeurtenis, maar ek kan die versekering gee dat die data nooit verloor is nie en dat dit ook nie bedreig is nie,” het Walsh gesê.

Met al hierdie uitdagings bly die lugvervoerbedryf steeds groei.

– Bykomende bronne: Wikipedia/Reuters/BBC



Onder vier oë met Air Namibia-afvaardiging in Cancun

Adv. Mandi Samson, uitvoerende hoof van Air Namibia, vergesel deur mnr. Paul Nakawa, bestuurder van korporatiewe kommunikasie, me. Achma Asakoan Foster, Air Namibia se streeksdirekteur in Amerika, en mnr. Xavier Masule, hoofbestuurder van kommersiële dienste, het die Iata se algemene jaarvergadering in Cancun bygewoon en eksklusief met Republikein gesels.

Republikein: Die Iata-jaarvergadering het 'n resolusie aanvaar wat die lugvervoerbedryf herverbind het tot die klimaatdoelwitte en die ont­wikkeling en gebruik van volhoubare alternatiewe brandstofbronne. Hoe ver is Air Namibia met die implementering van die doelwitte van die verminderingskema vir koolstofvrystellings in internasionale lugvaart (Corsia)?

Samson: 'n Afvaardiging van die regering het in 2016 die Verenigde Nasies se Internasionale Lugvaartorganisasie (Icao) se beraad bygewoon en was deel van die aanvaarding van 'n resolusie in die verband. Die regering moet die parameters stel. Air Namibia is daartoe verbind om 'n eko-vriendelike redery te wees. Dit strek tot ons voordeel dat ons 'n jong vloot het wat baie meer omgewingvriendelik is en 'n baie kleiner voetspoor op die omgewing laat. Ons het onlangs 'n brandstofdoeltreffendheidsprogram in werking gestel wat sal verseker dat ons voldoen aan die bepalings van Corsia.

Republikein: Groot veranderinge word in die vooruitsig gestel vir die hantering van vrag om dit by die ­digitale era te laat aanpas en meer doeltreffende versending te verseker. Wat doen Air Namibia in die verband?

Samson: Die werklikheid is dat vrag 'n groot bydraer tot ons inkomste is, maar waarvan die volle potensiaal nog nie bereik is nie. Die manier waarop dit nou met die hand gedoen word, beteken dat foute insluip. Ons oorweeg die aanskaf van 'n elektroniese stelsel vir die hantering van ons vrag. Dit staan bekend as Cargo Spot. Dis duur, maar dit sal 'n groot verskil in die doeltreffende hantering van vrag maak. Dit strook met die Harambee-welvaartplan, waar Air Namibia, as nasionale lugredery, moet toesien dat 'n logistieke sentrum ontwikkel word.

Masule: Tans verdien Air Namibia jaarliks N$109 miljoen uit vrag en dit is nog nie die volle potensiaal nie. Die elektroniese stelsel sal meebring dat ons beter in die internasionale lugvaart integreer. Ons sal egter die samewerking van versendingsagentskappe en vragvervoermaatskappye en inderdaad almal in die waardeketting moet kry om 'n sukses hiervan te maak.

Republikein: Iata se operasionele veiligheidsouditering (Iosa) het streng regulasies wat nagekom moet word. Hoe vaar Air Namibia in die opsig?

Samson: Air Namibia voldoen sedert 2007 aan Iosa se bepalings en sedert Julie 2015 aan die ver­sterkte Iosa-voorskrifte. Ons is tans besig met voorbereidings vir die volgende ouditering aan die einde van Junie.

Hierbenewens voldoen Air Namibia aan die Europese Lugvaartveiligheidsowerheid se voorskrifte vir derdeland-operateurs (Easa TCO) om na Europa te vlieg. Met die bekendstelling van die jongste lys lugrederye wat toestemming het om na Europa te vlieg is Med-View van Nigerië, Mustique Airways van St. Vincent en Grenadines, Aviation Company Ugra van die Oekraïne en Air Zimbabwe van die lys afgehaal.

Die EU verbied altesaam 181 rederye om na Europa te vlieg.

Rederye moet aan die hoogste veiligheidstandaarde voldoen om toestemming te kry om na Europa te vlieg. Ons is baie trots om aan hierdie standaarde te voldoen. Byna elke keer wat ons na Frankfurt vlieg, word ons vliegtuie nagegaan. Indien daar klein probleempies opduik wat die inspekteurs onder ons aandag bring, maak ons dadelik werk daarvan om dit reg te stel.

Republikein: In die tyd waarin ons leef is lugvaartveiligheid uiters aktueel. Hoe is die samewerking tussen Air Namibia en die Namibiese veiligheidsinstansies?

Samson: Air Namibia het verteenwoordiging op die Nasionale Lugvaartveiligheidskomitee waarvan die lede deur die Namibiese Burgerlugvaartowerheid aangestel word. Dit is waar alle belangbehebbendes byeenkom en oor kwessies wat kommer wek, praat.

Die Nasionale Sentrale Intelligensiediens het verlede jaar 'n slypskool oor gewelddadige ekstremisme aangebied wat deur afgevaardigdes van dwarsoor die vasteland bygewoon is. NamPort en Air Namibia is uitgesonder as die agente wat verantwoordelik is om seker te maak dat ongewenste persone nie die land binnekom nie. Ons het goeie samewerking met die veiligheidsagent­skappe.

Republikein: By 'n vergadering in Johannesburg het lidlande van die Afrika-unie hulle verbind tot groter vryheid in Afrika se lugruim. Hoe ver is gevorder met die implementering hiervan?

Samson: Ons ondersteun die besluit en is van mening dat die bedoeling hiervan goed en edel is. Daar moet egter besef word dat lugrederye in Afrika beperkings ervaar. Die Yamoussokro-besluit is grootliks geskoei op die voorbeeld van die Europese Unie (EU) waar die vrye beweging van mense en goedere van krag is. Dit is nie die geval in Afrika nie. Van die beperkinge wat Afrika-lande ervaar is byvoorbeeld die infrastruktuur op lughawens. Ons kan nie 14 toonbanke vir rederye hê nie, ons kan net vier akkommodeer. Meer personeel sal ook nodig wees vir die beweging van vliegtuie op die aanloopbaan, wat weer koste-implikasies inhou. Ons regering probeer getrou bly aan die bepalings van die hersiene Yamoussokro-­besluit en in die gees hiervan vlieg Air Ethiopia na Windhoek.

Republikein: Gegewe die groot bydrae wat die natuurlewe en trofeejag tot Namibiese toerisme maak, watter vordering is gemaak om doeltreffende meganismes in werking te stel om die onwettige handel en vervoer van wildprodukte te verhoed?

Samson: Vir Namibië is professio­nele jag en die bevordering van ons bewaringsgebiede van uiterste belang. Vir die internasionale gemeenskap om summier 'n verbod op die vervoer van wildprodukte, soos jagtrofeë te plaas, sal uiters nadelig vir ons wees. Ons het onderneem om net produkte wat wettig gejag is te vervoer en werk nou saam met die professionele jagtersvereniging van Namibië (Napha) in dié verband. Ons ondersteun verantwoordelike jag.

Ons werk ook nou saam met die Namibiese polisie, wie se taak dit is om te verseker dat onwettige produkte, sonder dat ons daarvan bewus is, nie met behulp van Air Namibia uit die land gesmokkel word nie.

Republikein: Wat is die waarde van die bywoning van 'n geleentheid soos Iata se algemene jaarvergadering vir Air Namibia?

Samson: Dit help ons om op hoogte van die jongste verwikkelinge in die lugvaart- en lugvervoerbedryf te bly en om deel te wees van die besluite wat geneem word om oplossings te vind vir uitdagings wat die bedryf in die gesig staar. Dit is op 'n geo-politieke vlak belangrik om relevant te bly. Daar is baie werk by die huis, maar dit is vir ons belangrik om hierheen te kom en te leer - ook uit die geleentheid om mense in die bedryf te ontmoet. Dit stel ons ook in staat om die regering op hoogte te hou van wat vorentoe by forums soos die Verenigde Nasies se Internasio­nale Lugvaartorganisasie (Icao) ter sprake sal kom sodat regeringsverteenwoordigers voorbereid kan wees daarop.

Republikein: Het Air Namibia enige planne om by een van die groot lugvaart-alliansies, soos Star Alliance, One World Alliance of Sky Team aan te sluit?

Samson: Ons werk hard om as redery te verbeter sodat ons in aanmerking kan kom om by een van die alliansies aan te sluit. Ons is tans 'n drie ster-redery en ons beoog om voor of teen 2021 'n vier ster-gradering te hê. Rederye sluit ook nie sommer net by 'n alliansie aan nie, maar word deur lede van die alliansie genooi om aan te sluit. Ons is goed op pad daarheen en is verlede jaar as die tweede beste streeks­redery in Afrika aangewys.

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!