Grootfontein staan saam teen borskanker
Grootfontein staan saam teen borskanker

Grootfontein staan saam teen borskanker

Almal neem deel - in pienk!
Gerine Hoff
Gerhardus du Preez

Grootfontein het op Vrydag 10 Oktober om elke hoek en draai in pienk geskitter, met besighede, organisasies en individue wat hul ondersteuning van borskanker in die openbaar vertoon het.
Behalwe vir pienk kleredrag, plakkate en draperings om bome, het plaaslike skole ook baie gedoen met geldinsamelings ten bate van borskanker en bewusmakingsveldtogte.
Agri College het deur middel van inligtingsblaadjies en plakkate leerlinge ingelig oor die vroeë identifisering van borskanker terwyl die Primêre Skool Wilhelm Nortier sy jaarlikse veldtog in die skoolsaal gehou het, waar kinders op verskil­lende manier aan die siekte en die impak daarvan op gesinne en die samelewing blootgestel is.
Buite die skole het die dollars op kreatiewe wyses ingerol, met die hele Grootfontein wat daarby betrokke was.
Die Ester-vroue het ’n “Cupcake for Cancer”-geldinsamelingsprojek gehou. Dié groep vroue se doel is om deur ver­skillende projekte ’n verskil in die dorp en die omgewing te maak. Vir hierdie spesifieke projek het hulle kolwyntjies op bestelling gebak.
’n Merkwaardige bestelling van 1 140 kolwyntjies is geplaas en só is N$11 450 ten bate van borskanker ingesamel.
Zea Engelbrecht van Welwitschia Versekering (ook ’n Ester-vrou) het uit haar kantoor verskeie pienk produkte ­(T-hemde, penne, pienk strikkies en waterbottels) verkoop en met die bystand van ander instansies soos Bank Windhoek en Agri College, N$27 075 ingesamel.
Purple Fig Bistro het ’n spesiale spyskaart gehad wat op geldinsameling gerig is en waar kliënte die veldtog teen borskanker kon ondersteun deur sekere produkte te koop en dit onder die bome in pienk toegedraai kon geniet.
Individue soos Marlien Hattingh het selfs die bome voor haar huis in pienk lappe en strikke toegedraai terwyl Stephanie Venter op haar eie met ’n plakkaat van besigheid tot besigheid geloop en foto’s geneem het van Grootfontein se inwoners.
Só het 10 Oktober nie net gewys dat Grootfontein se wil en siel groter is as sy plattelandse stigma as dit by ’n goeie gemeenskaplike doel kom nie, maar dat Grootfonteiners kan saam staan – in pienk!

Kommentaar

Republikein 2025-12-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer