Grootfontein storm deur na semifinaal

Die noordespan het Saterdag behoorlik vuis gebal in die eerste liga.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Die versteekte talent vanuit die uithoeke van die platteland was Saterdag in die kollig toe die Namibië Rugby-unie (NRU) se eerste liga se kwarteindstryde in die Hage Geingob-stadion afgehandel is.

Loshande die mees indrukwekkende presteerders was Grootfontein, wat ooglopend 'n baie talentvolle groep in die veld stoot wat na regte in die premierliga getoets behoort te word.

Grootfontein het met 84-14 maalvleis van die Windhoekse klub Vipers gemaak, nadat hulle rustyd reeds met 42-0 voorgeloop het. Vipers was duidelik nie in dieselfde klas nie, maar het enduit aanhou probeer en is met drieë deur senter Attie du Plessis en plaasvervanger Jan Burger beloon.

Die wenspan het uiteindelik 13 drieë gaan druk, met hul flank en kaptein Wikus Jacobs, tevore van Wanderers in Windhoek, wat vyf keer oor die doellyn gestorm het.

Die haker Jacques (Koper) Grobler, flank Herman Janse van Rensburg (2), skrumskakel Peet Harmse, vleuel Corné Labuschagné, heelagter Irongwa (Zulu) Atshivudhi en die twee plaasvervangers Jaco Lombaard en Nolan Mostert was die ander driedrukkers.

Losskakel Siegfried Potgieter het met sewe doelskoppe asook 'n spoggerige lang, skuins strafdoel van nouliks binne die Windhoekers se halfgebied geslaag wat die telling met 17 punte opgejaag het.

Potgieter is een van 'n hele paar spelers wat Namibië reeds op o.18 Cravenweek- of soortgelyke vlak verteenwoordig het. Die vleuel Silvano Beukes (tevore van Unam) en agtsteman Johan Luttig (tevore by Wanderers) het ook in vorige seisoene vir die Welwitschias in die senior provinsiale kompetisie gespeel.

Die Grootfonteiners se fisieke kondisionering en hoë speltempo het dit sommer van vroeg af soos 'n potensiële kuikenmoord laat lyk. Volgens Dirk Smit, hulpafrigter, brand hy om te sien wat dié talentvolle span sou kon vermag as hulle enigsins meer gereeld as net een maal per week (Donderdagaande) kon oefen.

Die regulasie dat klubs ook 'n tweede span in die reserweliga moet inskryf as hy in die premierliga wil meeding, was tot dusver die vernaamste beperking wat in Grootfontein se pad na beter kompetisie gestaan het.



VIKINGS KLOP STUDENTE

Grootfontein sal komende Saterdag in sy semifinaal teen die kusspan Vikings opgeweeg word.

Die Vikings het met 22-14 die knoop teen FNB Unam se derde span deurgehaak.

Die Vikings se driedrukkers was slot Jaco Barnard, asook die vleuels Lionel Coetzee (2) en Ronaldo Diergaardt. Een van losskakel Dirkie von Weidts se doelskoppe was oor.

• Nog 'n Swakopmundse span, Sparta, het sy kwarteindstryd teen FNB Wanderers se derde span met 23-20 beklink, nadat die Windhoekers rustyd met 13-10 voorgeloop het.

Sparta se buitesenter Lee-Anzo Losper, wat tot onlangs nog sy rugby by Unam gespeel het, het twee drieë vir die wenspan gedruk.

Wanderers het 'n paar kritieke foute begaan wat goeie werk ongedaan gemaak het. Die skrumskakel en kaptein Edwardo Nell het twee drieë gedruk, terwyl heelagter Rudie Pretorius sy akkurate skopstewel met twee doelskoppe en twee strafdoele gewys het.

Sparta sal komende naweek in die ander semifinaal teen Keetmanshoop te staan kom, wat op sy tuisveld die uitklopstryd teen Ocean Swallows van Lüderitz met 27-6 oorheers het.

• In die NRU eerste liga se plaat-kwarteind het Southern Bulls (Mariental) 'n wegholsege met 67-15 teen Dolphin van Swakopmund behaal.

Losskakel Fabian Routh het twee van die tien drieë gedruk en ver­skeie ander gemaak, terwyl hy ook ses doelskoppe en 'n strafdoel kon bytel.

St. Lou het op Rehoboth nóg verder gewen (72-7) teen Rehoboth-rugbyklub se derde span, terwyl Oranjemund sy derby teen Rosh Pinah met 25-12 beklink het.



PREMIERLIGA

FNB Wanderers het Vrydagaand op sy tuisveld met 22-11 die aanslag van FNB Western Suburbs afgeweer om sy stewige posisie in die NRU premierliga te konsolideer.

Die Wit Hingste kon egter nie 'n bonuspunt byvoeg nie omdat hulle net drie drieë gedruk het. In koue toestande het vleuel Elmarco Beukes in die eerste helfte 'n drie gedruk, voordat die stut Ignus Tripodi en haker Stefan Hattingh later vyfpunters bygevoeg het.

Die senter Brandon Groenewald (vyf) en skrumskakel Jacques Theron (twee) het die wenspan se skoppunte aangeteken.

Suburbs, wat rustyd met 0-10 agter was, het verskeie kanse verspeel om groter druk op die wit truie te plaas.

Die Khomasdallers se kaptein Mbimbo Mbai, wat op vleuel gebruik is, het vir 'n stormram-drie deur die verdediging gebars, terwyl Ricardo Swartz (heelagter) en Justin Nel (losskakel) elkeen met 'n strafdoel sukses behaal het.

• Saterdag het FNB Universiteit van Namibië 'n oorwinning met 32-14 teen Rehoboth-rugbyklub behaal.

Die flank Chester Diergaardt het Rehoboth se drie gedruk, terwyl binnesenter Henrique Olivier met drie strafdoele getref het.

Hoewel Unam die senter Milaan van Wyk vir tien minute in die koelkas moes afstaan, het die besoekers tog beheer oor die wedstryd verkry.

Drieë het van flank Shaun van Wyk, senter Camlo Martin, vleuel Paolo Andrews en plaasvervanger Sunday Haitembu gekom. Lorenzo Louis en Dleron Brandt het elkeen met een strafdoel geslaag.

• Reho Falcon se bestemde tuiswedstryd teen Kudus is tot 27 Julie uitgestel.

Reho Falcon se skorsing uit die NRU-ligas is verlede week deur die Unie se uitvoerende komitee tersyde gestel, maar dié kennisgewing het die Walvisbaaiers onverhoeds betrap deurdat verskeie van hul spelers reeds reëlings getref het om werktyd in te haal op wat hul (rugby-)afnaweek sou wees.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!