'Grootste geskenke'
Ná drie jaar kon 'n ma uiteindelik met die skenk van 'n nier vir haar dogter 'n nuwe lewe gee.
Henriette Lamprecht
Toe haar dogter stralend na haar aangestap kom, het sy geweet dit was alles die moeite werd.
“Dit was soos 'n engel wat na my toe kom. Dit was ongelooflik om haar gesig so te sien straal,” vertel me. Madelein Blignaut van Windhoek, 'n week of wat ná haar dogter, Jeamé (Bezuidenhout), uiteindelik ná jare se gewag 'n suksesvolle nieroorplanting gehad het.
Madelein was Jeamé se skenker en die pad van toe tot nou was een vol teleurstellings en kommer, maar tog ook vol geloof en wonderwerke.
Drie jaar gelede, tydens Jeamé se matriekeksamen, is nierversaking by haar gediagnoseer en sou sy 'n nieroorplanting moes kry.
Op 14 November vanjaar het die hoop hierop uiteindelik in die Wits Donald Gordon- mediese sentrum en opleidingshospitaal in Johannesburg 'n werklikheid geword.
Hulle was aanvanklik maar skepties oor of dit dié keer regtig sou gebeur, vertel Jeamé.
“Dit sou al soveel keer gebeur en dan gebeur niks. As ons wakker sou word en dis klaar, sou ons dit glo!”
Die Maandag voor die operasie moes Jeamé vir oulaas dialise ondergaan.
Madelein het 'n foto geneem en gehoop dis haar dogter se laaste dialisesessie ooit.
Die hoopvolle ma is die opsie gegee om haar besluit terug te trek om as skenker op te tree.
“Ek wou net vir my kind 'n nuwe lewe gee, daar was nie 'n manier dat ek dit nie sou doen nie,” sê sy.
Die oggend van die operasie was Madelein opgewonde, hoewel sy bang was iets veroorsaak dat die operasies nie kan plaasvind nie.
Dit was 'n “ander gevoel”, sê Jeamé.
Die kans dat dit dié keer regtig gebeur, was uiteindelik daar.
Madelein is eerste teater toe. Personeel het Jeamé later kom haal met die nuus dat dit tyd vir haar oorplanting was, “die nier is uit en gesond”.
Toe sy wakker word, het sy geweet alles is anders, vertel Jeamé.
“Ek kan dit nie verduidelik nie. Dit was 'n gevoel van 'wow, hierdie is awesome'. Dis moeilik om te beskryf.”
Ma en dogter is beide in die intensiewesorgeenheid en hoësorgeenheid opgeneem, met Madelein wat eerste ontslaan is en Jeamé 'n paar dae daarna.
Sy voel goed, maar is nog versigtig om haar liggaam nie te ooreis nie, sê Jeamé.
Sy sal vir die res van haar lewe teenverwerpingsmedikasie moet drink om te sorg dat haar liggaam nie die nuwe nier verwerp nie.
Ook moet sy vir drie maande 'n masker dra in veral hoërisikoplekke met baie mense omdat haar weerstand teen siektes tans laag is.
“Ek voel goed, maar my liggaam herstel nog, ek moet mooi daarna kyk,” sê Jeamé. Van pyn ná die operasie is daar nie sprake nie, eerder ongemak.
Die hulpelose gevoel dat sy niks vir haarself kon doen nie, was vir Madelein ná die operasie die ergste.
“Ek moet net gesond eet en genoeg water drink dat my nier ordentlik kan werk.”
Vir Jeamé is dit egter die “vreemdste ding” om nou enigiets te kan eet en drink.
“Ek is baie lief vir aartappels wat ek nie voorheen kon eet nie en dis fantasties, maar ek sal dit nie oordoen nie!”
Volgende jaar keer sy as aptekerstudent terug na haar universiteitskoshuis op Potchefstroom om die derdejaarsvakke wat sy nie kon voltooi nie, in te haal.
Ook gaan sy as deel van haar praktiese opleiding vir haar graad by 'n apteek inval.
Met 'n besoek aan haar dokter by die dialisesentrum, was dit vir Jeamé oorweldigend om te besef sy hoef nooit weer daar te lê nie.
“Ek dink nie ek is nog so dankbaar soos wat ek moet wees nie, maar ek het net weer besef ek is só geseënd.”
Dan is daar ook die staptoer in Switserland wat sy en haar pa wil doen.
“Ek kan nie sê hierdie is 'n pad wat ek wil oor stap nie, maar dit het my regtig baie geleer.”
“Niks kom by 'n mens se gesondheid nie,” beaam Madelein. “Eerder as om te kla, sê 'dankie Here dat ek leef',” sê sy.
“'n Mens se dankbaarheid bly groei. Ek vra net elke dag dat hierdie nier vir Jeamé 'n lang en gesonde lewe sal gee.”
Elke liewe dag is soos 'n oorwinning, sê Jeamé. Dit was 'n groot jaar vir dié ma en dogter.
“Ons het klaar ons grootste kersgeskenke gekry!”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie