‘Groter ooreenkoms’ kan kom oor Iran – Trump

Die presidente van Amerika en Frankryk het samesprekings oor die Iranse kernprogram gehad.
Pres. Donald Trump en sy Franse eweknie, pres. Emmanuel Macron, is dit eens dat ’n nuwe ooreenkoms oor Iran se kernprogram bereik kan word.

Ná samesprekinge in Amerika het Trump, wat skepties is oor ’n ooreenkoms wat in 2015 getref is, gepraat oor ’n “groter ooreenkoms”, berig die BBC.

Macron sê die nuwe verdrag moet Iran se ballistiese-missiel-program en sy rol in die Midde-Ooste insluit.

Iran het gewaarsku dat daar “ernstige gevolge” kan wees indien Amerika besluit om aan die ooreenkoms te onttrek.

In 2015 het Iran ooreengekom om sy kernprogram te vertraag in ruil vir die versagting van ekonomiese sanksies teen dié land.

Die Amerikaanse president het gedreig om die verlenging van die ooreenkoms te verwerp tussen Teheran en ander wêreldmagte. Die spertyd vir die antwoord op sy besluit oor die ooreenkoms is op 12 Mei.

Angela Merkel, die Duitse bondskanselier, sal na verwagting Vrydag in Washington aankom om Trump ook te druk oor Iran, berig The Washington Post.

Macron sê die nuwe ooreenkoms behoort vier pilare te hê. Eerstens moet die ooreenkoms Amerika en Europa se vrese besweer dat Iran enige huidige kernaktiwiteite wegsteek. Die kwessies oor of Iran sal voortgaan met kernaktiwiteite nadat die ooreenkoms in 2025 verval, ballistiese-missiel-toetse asook Iran se beweerde ontwrigtende aktiwiteite in die Midde-Ooste moet ook in die nuwe ooreenkoms gedek word.

Iran dreig om voort te gaan met kernaktiwiteite indien Amerika aan die ooreenkoms onttrek.

Trump het egter sy eie waarskuwing: “Dit sal nie so maklik vir hulle wees om net weer te begin nie. Hulle gaan niks weer begin nie. As hulle weer begin, gaan hulle groot probleme hê, groter as wat hulle nog ooit gehad het.”

Staatsbanket

Melania Trump het haar Dinsdagaand goed van haar taak gekwyt as die presidentsvrou van Amerika toe sy ’n glansryke staatsbanket aangebied het vir Macron en sy vrou, Brigitte.

Die presidentsvrou het hulde gebring aan Frankryk in ’n skitterende Chanel-rok, berig CNN.

Donald Trump het sy vrou hiervoor hartlik bedank. “Aan Amerika se ongelooflike presidentsvrou, dankie dat jy dié aand ’n aand gemaak het wat ons altyd sal koester en onthou. Dankie, Melania.”

Melania het in die weke voor die staatsbanket alles geleer oor die protokol en geskiedenis van spesiale geleenthede in die Withuis. Dit is die 14de keer dat die Withuis ’n staatsbanket vir Frankryk aanbied.

Sy het toesig gehou oor al die reëlings en anders as haar voorgangers het sy nie gebruik gemaak van ’n organiseerder of ’n konsultant nie.

“Mev. Trump het elke item en elke detail vir die banket uitgekies,” sê Rickie Niceta, sosiale sekretaris van die Withuis.

Sy het besluit op ’n room- en goudkleurige tema en het gefokus op die kleinste detail soos die patrone op die stoele se kussings. Selfs die heuning op die nagereg is afkomstig van die Withuis se eie byekorf.

Die gastelys, wat uit sowat 130 gaste bestaan het, was meestal Withuisamptenare, ministers en die diplomatieke korps, berig The Washington Post.

Toe Karen Pence, vrou van adjunkpres. Mike Pence, gevra is hoe mev. Trump vaar as die presidentsvrou, het Mike namens haar geantwoord: “Ongelooflik”.

Die aand was ’n sukses vir die Trumps en die Macrons. Dit is twee egpare wat, volgens Macron se eie heildronk, die gevestigde orde ontwrig het.

“Sowat twee jaar gelede, aan albei kante van die oseaan, sou min mense daarop gewed het dat ons vandag hier saam sou wees. Maar om die waarheid te sê, ons deel dieselfde vasberadenheid.” - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer