Gróót oë op Jan Taks
Jo-Maré Duddy
Verbruikers wat voortaan BTW van 15% op suiker sal moet betaal, is een van die rits belastingaankondigings wat in vanmiddag se halfjaar-begrotingshersiening verwag word.
Kenners met wie Republikein gesels het, verwag nie reuseverrassings in die regering se algehele besteding nie, maar staal hulself wel vir beduidende aankondigings rakende die belastinghervormings wat die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, in vorige begrotings gemeld het.
Dié aankondigings wissel van belasting op toegevoegde waarde (BTW) op suiker en 'n verhoging in sondebelasting tot die instelling van 'n uitvoerheffing op hout. (Lees ook die berig in Market Watch vandag.)
Mnr. Robert McGregor, ekonoom van Cirrus Capital, meen Schlettwein is opnuut in 'n “onbenydenswaardige posisie” vasgevang met die resessie aan die een kant en broodnodige begrotingskonsolidering aan die ander kant.
Die belangrikste ding wat die minister moet doen, is om uitgawes te beheer, sê McGregor. Weens die ekonomie is die vooruitsigte vir inkomste droewig en enige verhoging in die begrotingstekort gaan bykomende skuld beteken, sê hy.
Mnr. Dylan van Wyk, ontleder by IJG Securities, stem saam.
“Ons hoop van harte ons het nie van koers afgewyk nie en dat die fokus op fiskale volhoubaarheid in die lang termyn ongeskonde is,” sê Van Wyk.
Luidens die hoofbegroting wat Schlettwein in Maart ingedien het, beloop uitgawes in 2019-'20 bykans N$66,6 miljard. Die regering hoop vir belastinginkomste van amper N$54 miljard, waarvan omtrent N$18,9 miljard uit die poel van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sacu) is.
Uitgawes
Onbeheerbare uitgawes in die vorm van rente op skuld plaas die grootste druk op die regering, sê me. Indileni Nanghonga, ontleder by Simonis Storm.
“Rentedelgings verteenwoordig 82% van die begrotingstekort. Die voortdurende styging in skuld, as dit nie in ekonomiese groei omgesit kan word nie, is 'n ernstige bron van kommer,” sê sy.
In die hoofbegroting word skuld vir 2019-'20 op bykans N$96,3 miljard beraam en beloop die begrotingstekort amper N$8,2 miljard.
Die mees onverantwoordelike stap wat Schlettwein kan doen, is 'n onverwagse verhoging in onproduktiewe besteding of 'n skerp styging in maatskappybelasting, sê Van Wyk.
Hoër uitgawes weens onbeplande oordragte na ondernemings in staatsbesit (SOE's) en die komende verkiesing is 'n moontlikheid. Sou dit die geval wees, sal geld, soos vantevore, eenvoudig van die ontwikkelings- na die bedryfsbegroting verplaas word, meen McGregor en Nanghonga.
Beide is bekommerd oor die stadige tempo waarteen geld in die ontwikkelingsbegroting bestee word.
SOE's
Luidens die hoofbegroting beloop die ontwikkelingsbegroting vir 2019-'20 sowat N$7,9 miljard – ongeveer N$2,3 miljard meer as in 2018-'19. McGregor wys daarop dat “baie min” aankondigings in die huidige begrotingsjaar gemaak is oor groot infrastruktuurprojekte wat dié hoër toekennings ontvang het.
Fitch Ratings het verlede maand, toe dié internasionale kredietgradeerder Namibië verder in rommelstatus gedompel het, sy bedenkinge oor die regering se begrotingskonsolideringsplan uitgespreek.
“Gedempte ekonomiese vooruitsigte, saam met verhoogde ongelykheid en hoë werkloosheid” bied reuse-uitdagings aan die regering se plan om sy skuld met uitgawebesnoeiing te stabiliseer, het Fitch gesê. Veral die regering se duur salarisrol is in dié verband genoem.
Fitch het ook na reddingsboeie vir sukkelende SOE's verwys. McGregor sê Schlettwein sal hopelik duidelikheid hieroor gee. Van Wyk meen 'n “baie klein moontlikheid” bestaan dat Air Namibia se likwidering deel van die begrotingsplanne is. Hoewel dit rofweg N$2,5 miljard gaan kos, sal dit 'n “meer positiewe verwikkeling” as nog reddingsboeie wees, sê hy.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie