Gruvonds: Tweede persoon ondervra, vrygelaat
Denver Kisting – Die hoof van die Namibiese polisie se direktoraat van strafondersoeke, komm. Moritz !Naruseb (foto), het laat Donderdagaand gesê nog net een verdagte is aangekeer weens die gruvonds die afgelope week by Walvisbaai.
Dié vrou is sedert Woensdag in polisieaanhouding.
!Naruseb het gesê ’n tweede persoon is wel Donderdag ingeneem vir ondervraging maar later vrygelaat.
Die senior beampte het gereageer op hardnekkige gerugte wat in die sosiale media die ronde doen.
Daarvolgens word beweer me. Shannon Wasserfall (21) se kêrel is intussen ook in hegtenis geneem.
Wasserfall word sedert April vermis.
Daar word vermoed die oorskot wat dié week in ’n vlakgraf agter die duine by Walvisbaai gevind is, is Wasserfall se beendere.
!Naruseb het Donderdagmiddag op ’n nuuskonferensie in Windhoek gesê forensiese toetse sal moet bepaal of dit wel haar oorskot is.
[email protected]
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie