Gruvoorval ruk Windhoek
Gruvoorval ruk Windhoek

Gruvoorval ruk Windhoek

Twee mans is voortvlugtend nadat hulle ’n gesin beroof en ’n minderjarige seksueel aangerand het.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die polisie is op soek na twee ongeïdentifiseerde mans wat Maandagoggend in Windhoek ’n 12-jarige meisie ten aanskoue van haar ma (32) en haar agtjarige sussie verkrag het.

Dié voorval het teen gister toe dit rugbaar word skokgolwe deur veral die hoofstad gestuur.

Adj.komm. Kauna Shikwambi, die nasionale polisiewoordvoerder, sê die mans word gesoek weens verkragting, huisbraak met die doel om te roof en gewapende roof en aanranding deur dreigement.

Die mans met balaklawas het Maandag omstreeks 03:00 by die sinkhuis van die gesin in Kamanjabstraat in Havana aan die buitewyke van die hoofstad ingebreek, sê die woordvoerder.

Shikwambi sê die ma en haar twee minderjarige dogters was aan die slaap ten tyde van die inbraak.

Die mans het hulle wakker gemaak en hulle met die dood gedreig voor hulle om die beurt die 12-jarige verkrag het. “Hulle het na bewering beurte gemaak om die kwesbare en weerlose meisie in die teenwoordigheid van haar ma (32) en suster (8) te verkrag. Dit is verskriklik en traumaties.”

Shikwambi sê vroue en kinders bly ten prooi val van dié misdade wat hulle van hul menslikheid en waardigheid beroof.

Die mans het ná die verkragting met kontant ten bedrae van N$300 en ’n selfoon ter waarde van N$1 200 op die vlug geslaan, het Shikwambi gister gesê.

Teen gistermiddag is nóg die mans, nóg die buit gevind, het sy gesê.

PLATGESLAAN

Mnr. James Itana, ’n genderaktivis verbonde aan Regain Trust, het gister by navraag gesê: “Om eerlik te wees: Sulke voorvalle ruk aan my hele kern. Ek is platgeslaan. Woedend begin nie eens om te beskryf hoe ek voel nie.”

Hy sê dit frustreer hom dat die land nie oor genoeg hulpbronne beskik om sy inwoners te beskerm nie, “maar ons kan bekostig om miljoene aan verdediging te bestee, terwyl die polisie nie genoeg voertuie het of mans genoeg is om die veiligheid van ons mense te verseker nie.”

Dr. Veronica Theron, die tegniese raadgewer verbonde aan die kantoor van die presidentsvrou, me. Monica Geingos, en hoof van hul geslagsgegronde eenheid, het gister gesê: “Pure disrespek; minagting van vroue en kinders; mans wat hulle onmenslik behandel as slegs seksobjekte gebruik vir hul eie bevrediging.”

Sy sê die voorval is tekenend van hoe sommige mans reken hulle is geregtig hierop met geen oorweging van die lewenslange sielkundige letsels wat hul gedrag laat nie.

Me. Yvonne Dausab, die minister van justisie, sê: “Ek is diep bekommerd en gegrief. Dit gaan nie net oor die toereikendheid van die gereg en die doeltreffendheid van wetstoepassing nie. Dié tipe gedrag is ’n aanklag op ons gesamentlike gewete en die tipe samelewing wat ons besig is om te word. Dit vereis diep oordenking van ons samelewing se waardes.”

Shikwambi het ’n beroep gedoen op die publiek om met die soektog na die mans te help.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!