Gruwelike tradisionele praktyke in Namibië - tyd om te verander

‘’n Goeie vrou is iemand wat onderdanig is en mishandeling in stilte verduur.’
Maria Eiseb
Maria Eiseb - Elke etniese groep in Namibië is trots op hul unieke kultuur, maar sekere praktyke in Namibië vernietig die lewens van jong meisies en vroue.

Kulturele voorskrifte en praktyke is geslagte gelede reeds vasgelê, word van geslag tot geslag oorgedra en is vandag steeds van toepassing.



Hoewel tye verander, bestaan sekere kulturele praktyke steeds voort sonder dat dit gereguleer of beheer word.

Dit word van toeka tot nou afgedwing en dis dikwels die manlike lede van kultuurgroepe wat hierdie praktyke vaslê en afdwing.

Tradisioneel is die mans van sekere kultuurgroepe genesers, amptenare in tradisionele howe en die hoofde van huishoudings.

Dikwels word die belange van mans gedien deur reëls en norme wat eienaarskap van eiendom betref, of die reg om met meer as een vrou te trou.

Dít terwyl vrouens in sekere kulture nie met meer as een man mag trou nie en dikwels nie eiendom mag besit nie.

Tog het Namibië wette teen geslagsgeweld, verkragting en verskeie ander misdade teen vroue ingestel om dié misdade te bekamp, en baie meer vroue het vandag toegang tot geregtigheid wanneer hul regte ingevolge dié wette geskend is.

Maar ongelykheid tussen mans en vroue duur voort.

So ook geweld teen vroue en kinders in Namibië en die gruwelike skending van hul regte.

Kultuur van mishandeling

In verskeie kulture in Namibië moet vroue steeds verborge vorme van geweld in stilte verduur. In sommige Caprivi-gemeenskappe kom sikenge voor - die gebruik om meisies te leer om onderdanig en gehoorsaam aan hul toekomstige mans te wees. Poligamie bemagtig mans en malobolo kan vroue in ongelukkige en gewelddadige huwelike vasvang.

Vroue en jong meisies word in sekere kulture gedwing om aan inlywingsrituele deel te neem wanneer hulle die eerste keer menstrueer. Deur sulke rituele mee te maak, word hulle deur potensiële “skoonouers” aanvaar. Daar word van meisies vereis en verwag om onderdanig aan toekomstige skoonouers te wees.

Op sommige dorpe in die Zambezistreek het die man die kulturele reg om sy vrou te “dissiplineer” deur haar te slaan. Hierdie reg verkry hy wanneer hy malobolo betaal het. Hy het sy vrou dus “gekoop” en sy is nie in ’n posisie om enige besware hieroor te hê nie. Indien sy na haar ouerhuis toe sou vlug hiervan, sal sy aan die man terugbesorg word.

Selfs die tradisionele leiers slaan glo hul vrouens.

Tydens sikenge moet die vrou eerbiedig wees teenoor haar toekomstige man en sy familie en hulle met respek behandel, hoewel sy mishandel en aangerand word.

’n Goeie vroue is iemand wat onderdanig is en mishandeling in stilte verduur.

Voorbereiding vir seks en seksuele gereedheidstoetsing - Kutamunwa

Tydens sikenge word jong vroue en dogters geleer hoe om te “dans”. Dit beteken hulle word geleer om hul liggame só te beweeg dat hul mans seksueel bevredig word.

Hierdie voorbereiding word deur die meisie se pa, oupa of oom behartig en dit is ’n alledaagse praktyk in Namibië.

Wanneer dié praktyk beoefen word terwyl die meisie nie by haar volle bewuste is nie, word dit mulaleka genoem - in dié geval is die meisie bedwelm of onder die invloed van “toorgoed”.

Jong mans neem ook aan mulaleka deel en hulle het dikwels ook seks met hul ma of suster. Hulle glo dit sal hulle geluk, rykdom en loopbaansukses bring.

“My oupa het vir my kom kuier. Ons het slaapplek vir hom voorberei en hy was die laaste een wat daardie aand bed toe gegaan het. Hy het my middernag wakker gemaak in die vorm van mulaleka. Ek het visioene gesien dat hy kaal was en ons saam tradisionele medisyne gedrink het. Terwyl ek seks met my oupa het, het dit vir my gevoel of ek met my mansvriend was. Die volgende oggend het hy my vertel wat hy gedoen het en gesê hy het getoets of ek ’n goeie vrou is. Ek is gesê ek mag my man in die toekoms nie seks weier nie. Ons liggame moet altyd beskikbaar wees vir mans.”

Droë seks (Kuomisa busali)

In die meeste gemeenskappe dwarsoor Namibië word jong vroue en meisies beveel om kruie te gebruik wat die vagina laat saamtrek voor hulle seks het. Dít omdat mans in die betrokke gemeenskappe verkies dat vroue “droog”, “warm” en “nou” moet wees tydens seks. Kondome word nie tydens droë seks gebruik nie, want in die proses skeur die kondoom, en die wrywing veroorsaak ook skeurtjies in die vagina. Hierdie soort seks hou ’n hoë risiko in vir infeksies en oordraagbare siektes.

“Daar is sekere kruie wat soos sout is wat vir ons gegee word om in die vagina te sit. Dit laat die vagina opswel, maar dit laat ook die vagina saamtrek en dit is baie seer. My vriendin het as gevolg van die ‘kruie’ wat sy gebruik het, in die hospitaal beland - dit was bytmiddels. Toe ons grootgeword het, is ons aangesê wat om te gebruik om jou vagina droog te hou om die man tevrede te stel. As jy droog is en die man penetreer jou, kan jou vagina maklik skeur en jy kan ook MIV/vigs of infeksies kry.”

Verwydering van groeisels in ’n ma se vagina of anus (Sijabana)

In sommige gemeenskappe word ma's ondersoek vir groeisels in die vagina of rondom die anus wanneer haar kind siek is. Sulke groeisels word as ’n bedreiging vir die ma én haar kinders se gesondheid beskou en word dan verwyder. Die verwydering word gewoonlik deur ’n tradisionele geneesheer of ’n “medisynevrou” behartig.

Daar bestaan geen mediese bewyse van ’n verband tussen die verwydering van weefsel van die vagina of anus en die genesing van ’n siek kind nie.

Vroue word herhaaldelik gesny wanneer hul kinders siek word. Dit is uiters onhigiënies, onder meer omdat dieselfde lem keer op keer gebruik word en wonde oop is.

Hierna ondervind vroue uiterste ongemak, pyn, bloeding en sere. Die wonde genees nie vinnig nie en normale liggaamsfunksies word belemmer.

“Ek is deur my tannie gesny. Daar was ’n ander vrou ook en my tannie het ons met dieselfde lem gesny. Sy het, sonder handskoene, kruie uit dieselfde houer gevat en aan ons gesmeer. Ek is baie lelik gesny, het baie pyn verduur en baie gebloei. Wanneer ek die toilet gebruik, bloei ek elke keer weer.”

Verlenging van labia minora (Malebe)

In sommige gemeenskappe word meisies van sowat 10 jaar, ’n paar jaar voor hulle begin menstrueer, beveel om die binnelippe (labia minora) van hul vaginas te rek. Die proses word onder meer met stokke, klippe en toue gedoen. Gedurende die proses word swelling en sere veroorsaak. Dit kan lewenslank voortduur. Daar word geglo hoe langer die binneste labia is, hoe meer begeerlik is hulle en hoe meer bevredigend is dit vir mans. Mans weier ook dikwels om by vroue te bly wat nie onderdanig is en hul labia verleng nie.

“Ek is 12 jaar oud en my ouma het vir my gesê op my ouderdom moet ek my labia trek tot dit so lank soos my pinkie is. Sy het vir my kruie en stokke gegee om te gebruik vir wanneer ek my labia trek. Ek het saam met my vriendin in die veld in gegaan en ons het mekaar se labia getrek. Ons albei het drie stokke gebruik om die labia mee te trek. Ek het met my stokke geslaap, maar dit was ongemaklik en my vagina was geswel. My ouma het gesê ek moet aanhou om die labia te trek al kan ek nie loop nie, maar ek het geweier, want dit was baie seer. Ek dink om die labia te trek is nie goeie ding nie, dit moet heeltemal verbied word, die pyn is ondraaglik.”

Vergroting van die vagina

Volgens navorsing word meisies in sommige gemeenskappe in die Kavangostreek geleer om hul vaginas te vergroot sodra hulle begin menstrueer. Dít om hulle op ’n vroeë huwelik en seks voor te berei. Dit behels dat hulle seks met ouers mans het. Daar is egter geen navorsing om aan te dui of hierdie praktyk steeds in gebruik is nie.

Fisieke en sielkundige geweld

In die meeste gemeenskappe in die Zambezistreek word meisies geïsoleer sodra hulle begin menstrueer. Hulle word beveel om meel vir die grootmense fyn te stamp. Indien hulle moeg word of hulself hierteen verset, word hulle geslaan of “gedissiplineer”. Die doel hiervan is om hulle te leer om onderdanig aan hul toekomstige mans te wees, om hul selfbeeld te knak en om hulle te leer dat hulle geen regte het nie.

Seksuele mishandeling, bloedskande en verkragting

In die Ovahimba- en Ovaherero-gemeenskappe het mans die reg om seks te hê met hul niggies wat pas begin menstrueer het.

Hoewel die meisies nie die reg het om te weier nie, word dit nie as bloedskande of verkragting beskou nie.

Die Leierskapsentrum vir Vroue (WLC) werk al die afgelope 10 jaar met jong vroue en tradisionele leiers in Caprivi- en Zambezistreek om skadelike kulturele praktyke te probeer stop.

Tog word dié praktyke in sekere gemeenskappe al so aanvaar, dat lede nie in opstand daarteen wil kom nie.

Me. Berithar Sitali, ’n aktivis en streeksfasiliteerder, sê haar gemeenskap is nie teen die teen kulturele praktyke in die geheel gekant nie, maar “sommige dinge moet tog ter wille van vroue en jong meisies verander”.

Bronne:

Die Leierskapsentrum vir Vroue (WLC) se Violence is not our culture-boekie en die NANGOF-trust se verslag, Harmful Cultural Practices in Namibia, Liz Frank, 2015.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!