'Gryp in by Hosea Kutako'
'Gryp in by Hosea Kutako'

'Gryp in by Hosea Kutako'

Die toerismebedryf vrees die Internasionale Lughawe Hosea Kutako gaan sy bedryfslisensie verloor en internasionale vlugte dus gestaak word.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



Die Federasie van Namibiese Toerismeverenigings (Fenata) waarsku die toerismebedryf sal “onmiddellik tot stilstand kom” indien die Internasionale Lughawe Hosea Kutako nie in November die sekuriteitsoudit van die Internasio­nale Burgerlugvaartorganisasie (Icao) slaag nie.

Fenata se voorsitter, mnr. Bernd Schneider, sê in 'n brief wat Vrydag aan die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, gestuur is, die naderende oudit “is 'n wesentlike bedreiging vir die Namibiese ekonomie” en vra vir ingryping deur pres. Hage Geingob en eerste minister Saara Kuugongelwa-Amadhila.

Dié oudit vind van 18 tot 28 November plaas.

“As die oudit gedruip word, sal dit onmiddellike en verreikende gevolge hê, aangesien dit in alle waarskynlikheid gaan beteken die lughawe sal sy internasionale bedryfslisensie verloor. Gevolglik sal internasio­nale aankomste en vertrekke nie meer moontlik wees nie,” waarsku Schneider.

Hy sê dit het onder Fenata se aandag gekom dat 'n beampte van Icao wat Donderdag 'n vergadering tussen dié organisasie, die Namibië Burger­lugvaartowerheid (NCAA) en die Vereniging vir Vliegtuigeienaars en Vlieëniers (Aopa) bygewoon het, gewaarsku het dit is “feitlik seker” die lughawe gaan nie die sekuriteits­oudit slaag nie.

Schneider sê die private sektor wil binne die volgende paar dae 'n ­hoëvlakvergadering met Icao se beamptes hou om vas te stel wat gedoen moet word om “hierdie ramp” af te weer.

“Ek kan nie genoeg benadruk hoe belangrik hierdie kwessie is nie.

“Daar is nie 'n kitsoplossing nie. Namibië moet eenvoudig aan internasionaal aanvaarde reëls en standaarde voldoen.

“As ons toegang tot internasionale­ bestemmings verloor, sal dit nie net die Namibiese toerismebedryf tot ­onmiddellike stilstand bring nie, maar ook ernstige en verreikende ekonomiese en sosiale gevolge hê,” sê 'n bekommerde Schneider.

Me. Angelina Simana, uitvoerende direkteur van die NCAA, sê dié owerheid het as reguleerder 'n voorwaardelike bedryfslisensie aan die Namibiese Lughawensmaatskappy (NAC) toegeken met sekere voorwaardes waaraan hy teen 15 Oktober moet voldoen.

Icao implementeer op 16 November boonop nuwe standaarde vir die operasionele bedryf van lughawens en die oudit sal op grond hiervan uitgevoer word.

Simana het die versekering gegee die NCAA sal as regulerende owerheid alles moontlik doen om seker te maak die NAC slaag die sekuriteitsoudit, “selfs al is ongewilde optrede nodig”.

“Ons moet van die staat se kant af vir die internasionale wêreld wys ons bring ons kant om veiligheid te waarborg,” het sy by navraag gesê.

Die lughawensmaatskappy het so onlangs as verlede maande eers 'n formele ooreenkoms met die ­Namibiese polisie gesluit vir die ­lewering van sekuriteitsdienste by lughawens toe dit geblyk het só 'n ­ooreenkoms ontbreek.

Dit is voorheen bloot aan die hand van 'n mondelinge ooreenkoms verskaf.

Statistiek wys sowat 1,24 miljoen ­besoekers en nagenoeg 54 000 vlugte is verlede jaar by Namibiese lug­hawens hanteer.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!