Grysheid se wysheid
Het jy al by jou ouerhuis ingestap en 'n vrede ervaar wat oor jou siel spoel?
Ek het al 'n paar dekades op my kerfstok en het my eie familie, beroep, huis en roetine, maar dit is nodig om by tye by iemand anders af te pak om te klankbord. Somtyds ervaar ek 'n kraaines van uitdagings wat ontrafel moet word en dan gaan kuier ek by my ouerhuis om net weer perspektief te kry. Moet my nie verkeerd verstaan nie; ek gaan pak nie al my probleme by my ouers af nie, maar ontsnap eerder na 'n veilige vesting wat van kindsbeen af aan my bekend is.
Ek haak gewoonlik die kleinhekkie se knippie af en word dan vriendelik ingenooi deur 'n ietwat oorgewig worshondjie wat in volle vaart aangehardloop kom en byna oor sy buite-proporsie lang ore val. Dan moet ek eers die bal 'n paar keer gooi sodat hy sy daaglikse oefening kan kry waarna hy vooruit hardloop kombuis toe waar my ouers gewoonlik met iets doenig is. Gewoonlik kry ek 'n koppie moerkoffie met 'n gemmerkoekie of 'n koeksister wat drup soos dit deurweek is met gouestroop. Ja, ek weet; dit is nie altyd 'n goeie kombinasie om koeksisters en koffie saam te geniet nie, maar wie kan dan enige lekkerny uit Ma se kombuis van die hand wys? Somtyds wanneer ek ná vyfuur kom aanklop, bied Pa vir my ietsie met meer skop aan, wat altyd met blydskap aanvaar word. Pa sit gewoonlik aan die kop van die tafel, soos dit mos hoort, en ek gaan sit dan duskant van hom aan tafel. Ma los ons somtyds alleen om eers bietjie te klets, afhangende van hoe sy voel en watter ander dinge op haar agenda is. Ek en my pa gesels dan sommer oor ditjies en datjies waarna die weer volg. Deesdae vertel hy my baie staaltjies uit sy jong dae en dit wil my voorkom of daar telkens 'n moderne gelykenis in elke storie skuil. Sommige staaltjies het ek al meer as een keer gehoor, maar ek gee nie om nie, want so af en toe hoor ek iets nuuts wat ek om die een of ander rede nie voorheen opgelet het nie. Mens luister mos na baie stories, maar dit is min dat mens werklik alles hoor en 'n eureka-oomblik ervaar. Dan volg vrae oor die familie wat die gesprek op 'n spoor neem wat nog nie verken is nie. Daar is tye waar daar net stilte tussen ons is, want dan voel nie een van ons noodwendig baie sosiaal nie, maar dit is nooit 'n ongemaklike stilte nie. Daar skuil ook somtyds baie wysheid in oomblikke van stilte. Mens moet dit net “hoor”. Na so 'n vinnige inloer en 'n wandel deur vergange se dae, ontrafel my kraaineste gewoonlik spontaan.
Die ander dag het my pa die opmerking gemaak dat sy gees steeds voel of hy 20 jaar oud is, maar sy liggaam strem hom deesdae. Ná 'n oomblik van stilte sê hy: “Weet jy, my seun, die meeste van my vriende is al dood! Dit is net Oom John en Oom Gawie wat nog kom inloer. En dan het Doc Currie mos ook nou die dag die tydelike vir die ewige verruil.”
Terwyl ek huis toe ry, dink ek aan my ouers en die feit dat hulle deurleefde mense is wat ook eens op 'n tyd jonk was, wat 'n beroep beoefen het, wat kinders grootgemaak het, wat baie “winters” ervaar het, wat hul ouers aan die dood moes afstaan, wat moes vrede maak met aftrede, wat al die seisoene van die lewe ervaar het en wat nou vereensaam. Ek besef toe dat indien die lewe sy normale gang gaan, ek ook eendag nie meer 'n ouerhuis gaan hê om by te gaan aanklop om net te luister na al die staaltjies waarin soveel wysheid verskuil is nie. Om net Ma se kombuis te geniet en om al die bekende geure en klanke te ervaar. Dit is ook elkeen van ons se realiteit. Ons moet ook eendag deur hierdie seisoene in die lewe gaan en sal net soveel staaltjies hê om vir ons nageslagte te vertel. Deesdae kyk ek met ander oë na 'n ou tannie wat stadig voor my ry, of 'n ou oom wat sukkel om oor die straat te stap, of 'n ouma wat sukkel om die kerk se trappe baas te raak, of 'n egpaar met silwer hare wat saam sit en gesels. Hulle het 'n leeftyd van stories om te vertel en ervaringe om te deel.
My bede is dat elkeen van ons, maak nie saak of jy 'n kind, jong volwassene of middeljarige is nie, moeite sal doen om na 'n ou oom of tannie se staaltjies te luister, of om geduldig te wees as hulle stadig ry of stap, of vir ons ouers te gaan kuier, want hul vriende raak minder en hulle vereensaam op hul oudag. Hulle sit somtyds en wag vir hul kinders om te kom inloer en om net te gesels oor ditjies en datjies. Daar skuil wysheid in hul gelykenisse, luister net aandagtig en ervaar vrede.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie