Gupta-wins speel in Russe se hand
Gupta-wins speel in Russe se hand

Gupta-wins speel in Russe se hand

Tussen 2014 en 2016 is minstens R10,4 miljard uit Suid-Afrika geneem.
Johan Eybers



Gupta-beheerde maatskappye het tussen 2014 en 2016 minstens R10,4 miljard van hul winste landuit geneem, sê die navor­sers wat die verslag oor staatskaping Donderdag bekend gemaak het.

Akademici van vier van die land se voorste universiteite sê voorts dít is maar net die kapitaaluitvloeie waarvan ons weet.

Dié geld is bekom deur 'n “giftige konkoksie van patronaatskap”, lui die verslag “Betrayal of the Promise: How South Africa Is Being Stolen”.

“Daar bestaan nie 'n volledige ontleding van alle Gupta-transaksies nie, maar inligting wat beskikbaar is, wys dat die omvang van hul onregmatige winsbejag in die skadustaat ernstig is.”

Hulle waarsku verder dat daar weinig ooreenkoms is tussen die Guptas se ­verklaarde inkomste en hul werklike ­inkomste.

“Volgens die Guptas se eie weergawe aan die openbare beskermer (OB) was hul totale inkomste in 2016 R2,6 miljard en hul inkomste uit staatskontrakte­ so min soos R235 miljoen.”

Tog sê Mcebisi Jonas, voormalige adjunkminister van finansies, Ajay Gupta het in 'n vergadering vir hom gesê hulle verdien reeds R6 miljard uit staatskontrakte en wil dit tot R8 miljard verhoog.

“Dit dui daarop dat bykomende inkomste deur nie-amptelike kanale beweeg,” lui die verslag.



FICA

Hulle wys verder daarop dat Pravin Gordhan, voormalige minister van finansies, verlede jaar bewyse van die Finan­siële Intelligensiesentrum (Fica) by die howe ingedien het wat die Gupta-familie by 72 verdagte transaksies­ van sowat R6,8 miljard betrek.

“Wanneer al hierdie verslae langs mekaar gestel word, is die vraag hoeveel die Guptas werklik uit die staat verdien, hoeveel daarvan verklaar word, hoeveel daarvan na die buiteland geskuif word, en hoeveel daarvan nie produktief in die Suid-Afrikaanse ekonomie aangewend word nie?

“Dit regverdig 'n amptelike ondersoek en dit is iets wat hierdie navorsingspan onderneem om verder na te kyk.”

Die navorsers voer verder aan dat pres. Jacob Zuma se kabinetskommeling en Malusi Gigaba se aanstelling as minister van finansies moontlik 'n verdere poging deur dié elitegroep is om finansiële beheer oor die land se ekonomie te neem namens Rusland.

“Heelwat kenners glo die enigste rede waarom die Zuma-­gesentreerde elite die kernkragooreenkoms probeer deurdruk het, is om onregmatige winsbejag op 'n massiewe skaal te bewerkstellig en terselfdertyd te verseker dat die Russe die strategiese voordeel kry om al Suid-­Afrika se kernkragstasies op te rig,” lui die verslag.



RUSLAND

Hulle wys op verskeie bewerings dat die Russe moontlik verlede jaar die ANC se veldtog vir die munisipale verkiesing geborg het, “wat kan verduidelik hoe die ANC daarin geslaag het om R1 miljard vir sy veldtog te vind”.

Die verslag lui verder dat die instelling van die staat se kernkragprogram “die finale konsolidasie is van ­Zuma om die skadustaat met die Grondwet te verbind”.

Die kernkragprogram kan na verwagting tot R1 000 miljard kos.

Gigaba word as 'n sentrale figuur geag deur die navorsers.

Hy is op 1 November 2010 as minister van openbare ondernemings aangestel en het onmiddellik Iqbal Sharma, 'n sakevennoot van die Guptas, as 'n direkteur van Transnet en Brian Molefe, na bewering 'n Gupta-­vertroueling, as hoof van Trans­net aangestel.

In Junie 2011 het hy ses van Eskom se direksielede met familielede en sakevennote van die Guptas vervang en 'n verkrygingskomitee by Trans­net met Sharma as die voorsitter geskep toe die kabinet geweier het om Sharma se aanstel­ling as hoof van Transnet goed te keur.

Dié aanstellings was volgens die navorsers deel van 'n fyn uitgewerkte plan om die staat te kaap.

“Eskom en Transnet is die primêre middel wat die Zuma-elite vir staats­kaping en grootskaalse plundering van staatshulpbronne gebruik.”

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!