#GuptaLeaks: SAP ontken bedrog
#GuptaLeaks: SAP ontken bedrog

#GuptaLeaks: SAP ontken bedrog

Die Suid-Afrikaanse afdeling van SAP het ooreengekom om ’n kommissie van 10% te betaal aan ’n maatskappy met Gupta-bande om hom te help om kontrakte van Transnet te wen, volgens die #GuptaLeaks-e-posse.

SAP Suid-Afrika, wat deel is van die internasionale sagtewarevervaardiger vir ondernemings, het CAD House sowat R100 miljoen betaal in ruil vir “die verkryging van instemming van klante” en die “nodige handtekeninge” van Transnet, volgens ’n afskrif van ’n ooreenkoms tussen CAD House en SAP wat Bloomberg gesien het.

CAD House word gedeeltelik en onregstreeks besit deur Duduzane Zuma, een van pres. Jacob Zuma se seuns, en lede van die Gupta-familie.

“SAP verwerp ten sterkste bewerings van agteraf betalings (“kickbacks”) wat onlangs gemaak is deur sommige Suid-Afrikaanse gebaseerde media,” het die maatskappy in ’n verklaring gesê.

“Die beskuldigings wat gemaak word oor die gebruik en betaling van subkontrakteurs is ongegrond en onbevestig. SAP is daartoe verbind om elke aspek van ons onderneming te bedryf op ’n verantwoordelike manier en in ooreenstemming met die hoogste internasionale nakomings- en wetlike standaarde.”

Die ondersoekende joernaliste van amaBhungane het vir die eerste maal verslag gedoen oor die uitgelekte #GuptaLeaks-e-posse. Dit wys hoe Gupta-maatskappye miljarde rande se kontrakte van staatsinstellings gewen het en hoe die Guptas besluite van die regering beïnvloed het.

CAD House word beheer deur verskeie maatskappye wat die Gupta-familie, werknemers van die familie se Suid-Afrikaanse maatskappye en Duduzane Zuma verbind, wys aandeelhouersdokumente.

CAD House word ten volle deur Sahara Systems besit, wat op sy beurt 80% besit word deur Gupta-werknemers en 20% deur Sahara Holdings.

Duduzane Zuma, deur twee ander maatskappye, besit 24% van Sahara Holdings. Die Guptas besit 73% van Sahara Holdings.

Volgens Transnet doen hy sedert 2000 al sake met SAP. Transnet het nog nooit met CAD House saamgewerk nie, en hy werk ook nie deur enige derde partye nie, volgens Transnet.

CAD House moes SAP in kennis stel van enige geleenthede, volgens die dokumente. Dit wys dat SAP CAD House R99,9 miljoen as ’n verkoopskommissie betaal het.

CAD House is ’n 3D-drukkeronderneming met omset van sowat R20 miljoen per jaar. Sahara Systems het CAD House in 2014 gekoop.

Die ooreenkoms tussen SAP en CAD House sê CAD moet nie betalings maak aan enige politieke verbonde individue maak namens SAP nie. - Netwerk24/Bloomberg

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!