Guptas se sake met Denel is wettig, hoor LP's
Guptas se sake met Denel is wettig, hoor LP's

Guptas se sake met Denel is wettig, hoor LP's

Die Suid-Afrikaanse wapenvervaardiger Denel het vandeesweek verslag gedoen oor 'n transaksie waarmee hy wapenkontrakte in Asië wil losslaan.
Llewellyn Prince



Daar is “niks verkeerd” daarmee as die Gupta-familie of hul sakevennote wettig sake met die regering doen nie.

Daniel Mantsha, voorsitter van die Denel-direksie, het Woensdag so aan die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings gesê toe die staatsbeheerde wapenvervaardiger verslag moes doen oor die jongste verwikkelinge in sy Denel Asia-transaksie.

Denel en die nasionale tesourie is tans in 'n hofstryd gewikkel oor Denel Asia nadat die tesourie, in die tyd toe Pravin Gordhan nog minister van finansies was, geweier het om dit goed te keur.

Vroeër is berig hoe Salim Essa, alleenaandeelhouer in VR Laser Indië en meerderheidsvennoot in VR Laser Suid-Afrika, 'n sakevennoot van die Guptas is, terwyl Kamal Kant Singhala (24), Ajay Gupta se oudste seun, 'n direkteur van VR Laser is.

Volgens Mantsha is die Denel Asia-transaksie uitsluitlik 'n saketransaksie en het dit nog nie begin sake doen nie. Die doel daarmee is om wapenkontrakte in Asië los te slaan.

Hy en die res van die Denel-direksie is egter Woensdag veral deur Gordhan, wat deesdae as 'n ANC-LP in die portefeuljekomitee dien, sowel as ander ANC- en opposisie-LP's, gedruk om die komitee te oorreed dat Denel nie ook soos ander staatsentiteite na bewering deur die Guptas gekaap is nie.

Volgens Mantsha is daar niks verkeerd as die Guptas of hul sakevennote wettig sake met die staat doen nie.

VR Laser SA het ook 'n kontrak van sowat R400 miljoen met Denel, wat as die Hoefyster-kontrak bekend staan.

“Daar is niks onwettigs aan daardie kontrak nie. Ons as die huidige direksie was ook nog nie by Denel toe dit aangegaan is nie.

“Ons was wel al daar toe die Denel Asia-kontrak met VR Laser Indië aangegaan is.”

Volgens Mantsha het die aankondiging oor die Denel Asia-transaksie egter gekom op 'n tydstip toe die beweringe van staatskaping in die land begin momentum kry.

“Die Denel Asia-tran­saksie pas ongelukkig in by daardie narratief.”

Hy sê dit is baie moeilik om persepsies oor staatskaping teen te werk.

“Ongelukkig is hierdie persepsies oor Denel nie op feite gegrond nie. Dit is as gevolg van fopnuus in Suid-Afrika.

“Maar nee, nee, nee. Ons is nie gekaap nie. Ons bestuur (Denel) in die beste belang van die Republiek.”

Odwa Mhlwana, Denel se waarnemende finansiële hoofbeampte, sê die Guptas het ook eers in 2013 by VR Laser SA betrokke geraak toe hulle aandele daarin gekoop het. Volgens hom was die Hoefyster-kontrak ook reeds teen daardie tyd aangegaan en het die huidige Denel-direksie dit by die vorige direksie geërf.

Mhlwana sê verder dat die Hoefyster-kontrak nie die enigste kontrak is wat Denel met VR Laser SA aangegaan het nie.

“Dit is wel die betekenisvolste kontrak, maar daar was ook verskeie ander kleiner kontrakte wat aan hulle toegeken is.”

Mantsha voeg by dat die Hoefyster-kontrak ook net 'n klein deel van Denel se verkrygingsbegroting van sowat R3 miljard uitmaak.

Volgens hom word die oorgrote meerderheid van hierdie begroting steeds aan maatskappye in wit beheer toegeken.

Denel en die nasionale tesourie sal op aandrang van LP's binnekort oor dieselfde aangeleentheid ook saam voor die portefeuljekomitee verskyn.

 –Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer