Guptas vrees vir hul lewe
Die familie wil hê dat 'n radius van 'n kilometer rondom hul kompleks as verbode gebied vir enige “ongemagtigde” byeenkomste verklaar word.
Erika Gibson en
Elaine Swanepoel
Die Gupta-familie vrees vir hul lewe.
Rapport het gister lugfoto's van die militêre pantservoertuig gepubliseer wat in die Gupta-kompleks se tuin geparkeer staan waarin die familie kan ontsnap as dinge vir hulle te warm raak.
Die vriende van pres. Jacob Zuma het ook Saterdag vergeefs 'n dringende hofbevel probeer bekom om betogers weg te hou van hul paleisagtige huis in Saxonwold, Johannesburg, waar talle betogers Vrydag geëis het dat hulle die land verlaat.
Adv. Francois Botes SC het namens die familie aan die hof gesê tot 800 mense het Vrydag voor die huis saamgedrom en die polisie moes 'n skokgranaat afvuur om die skare te beheer.
Dit blyk uit hofstukke die kompleks word deur 21 familielede bewoon wat 'n baba van 15 dae insluit.
Benewens Vrydag se geweld is 'n uitnodiging deur onbekende groepe versprei wat mense gister genooi het na 'n betoging by die “Saxonwold-sjebien”.
Die familie voer aan dat hul reg op privaatheid geskend word omdat “die meeste” van die uitgebreide familie niks met die “sogenaamde staatskaping” uit te waai het nie.
Hulle voel verder dat die polisie nie meer in staat is om hul veiligheid te waarborg nie.
Die familie wil hê dat 'n radius van 'n kilometer rondom hul kompleks as verbode gebied vir enige “ongemagtigde” byeenkomste verklaar word.
Botes het die saak egter teruggetrek nadat hy teenoor regter Bill Prinsloo toegegee het dat die saak nie dringend is nie en dat die situasie in die straat gistermiddag kalm was.
Scipio
Die pantservoertuig wat Rapport se fotograaf onder 'n boom in die Guptas se erf afgeneem het, is vermoedelik vervaardig deur 'n firma in Boksburg waarin die familie 'n belang het.
Die familie se prokureur, Gert van der Merwe, het aan Rapport bevestig dit is die familie se private eiendom. Hy sê dit word vir veiligheidsdoeleindes gebruik “in ooreenkoms met die veiligheidsmaatskappy (wat die huis bewaak)”. Van der Merwe sê Vrydag se “oproerigheid” buite die huis is bewys dat daar 'n “moontlike veiligheidsbedreiging” vir sy kliënte is.
Toe Rapport hom daarop wys dat dit ingevolge Suid-Afrikaanse wetgewing onwettig is om 'n militêre voertuig in private besit te hê, het Van der Merwe gesê hy kan nie daarop kommentaar lewer nie en sal die kwessie eers by sy kliënte moet uitklaar.
Die voertuig is 'n prototipe van die Griffin-pantservoertuig wat in Boksburg gebou word deur Scipio Technologies, wat by die nasionale konvensionele wapenbeheerkomitee geregistreer is as 'n firma wat pantservoertuie vir militêre gebruik mag bou.
Dit beteken dit mag glad nie vir burgerlike gebruik verkoop word nie.
Scipio Technologies het onlangs 'n soortgelyke voertuig op 'n wapenskou in Abu Dhabi bemark. Scipio is daar verteenwoordig deur een van die Gupta-seuns en Pieter van der Merwe, die uitvoerende hoof van nóg 'n Gupta-maatskappy, VR Laser. VR Laser is ook deel van 'n multimiljardrandtransaksie om die weermag se nuwe gevegsvoertuie te help bou.
Familiebande
Scipio is geregistreer in die naam van Sashank Singhala as alleeneienaar.
Singhala het die afgelope week ontken dat hy enigsins aan die Guptas verwant is of enigiets van enige mynbestande voertuie weet. Op die maatskappyeregister word sy adres egter aangedui as dieselfde as die Guptas s'n in Saxonwoldrylaan – dieselfde adres waar die pantservoertuig afgeneem is.
Singhala se naam (met Suid-Afrikaanse identiteitsnommer) kom ook voor op die Finansiële Intelligensiesentrum se lys van name en entiteite met verdagte banktransaksies wat die voormalige minister van finansies, Pravin Gordhan, vroeër by die hooggeregshof in Pretoria ingedien het.
Singhala is die seun van Rajesh Gupta, een van die drie Gupta-broers.
Die Gupta-kinders gebruik ander vanne as dié van hul pa's.
Pieter van der Merwe, die jonger broer van die Guptas se prokureur, Gert van der Merwe, wou nie bevestig of ontken of die voertuig by die Gupta-huis wel deur Scipio gebou is nie.
Hy het wel bevestig dat die voertuig wat in Abu Dhabi uitgestal is, tans in sy fabriek in Boksburg staan. Rapport verneem betroubaar dat die een by die Gupta-huis die oorspronklike prototipe van dié splinternuwe voertuig is en dat daar tans nog net twee daarvan gebou is.
Jeff Radebe, minister in die presidensie en voorsitter van die wapenbeheerkomitee, het by navraag gesê die saak sal by die polisie vir verdere ondersoek aangemeld word. Radebe het bevestig dat niemand 'n voertuig mag besit wat bedoel is vir militêre gebruik as dit nie gedemilitariseer is nie.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie