Gwede het g'n benul van klimaatkrisis, kla groenes
Gwede het g'n benul van klimaatkrisis, kla groenes

Gwede het g'n benul van klimaatkrisis, kla groenes

Francois Williams – Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, het in sy begrotingstoespraak Donderdag gewys hy en sy departement besef nie hoe hul energieplanne verder tot die klimaatkrisis gaan bydra nie.

Dié skerp kritiek kom van die bewusmakingsgroep die Suider-Afrikaanse Geloofsgemeenskappe- omgewingsinstituut (Safcei).

Safcei is een van die omgewingsgroepe wat die hofsaak teen die regering gewen het om oudpres. Jacob Zuma se kernkrag-bouprogram in 2017 te laat stopsit.

Sizwe Manqele, jeugambassadeur van Safcei, sê Mantashe se toespraak toon ’n “verdoemende” beeld van sy departement en hul begrip van die klimaatkrisis. Die departement se plan maak steeds voorsiening vir ’n toekoms afhanklik van fossielbrandstof en kernkrag.

“Dit is werklik ontstellend dat ons regering so kortsigtig is in ons land se energieplanne. As ons leiers weier om die klimaatkrisis te erken, is ons – veral die jeug van Suid-Afrika – in ernstige moeilikheid. As ons voortgaan om te herhaal wat ons nog altyd gedoen het, sal ons steeds dieselfde resultate kry,” het Manqele Vrydagaand in ’n verklaring gesê.

Francesca de Gasparis, uitvoerende direkteur van Safcei, sê Safcei stem nie saam met Mantashe se aanspraak nie dat net omdat Suid-Afrika die hulpbronne het, dit volledig benut moet word. Mantashe het gesê dat die steenkoolbedryf steeds ontwikkel moet word.

Sowat 90% van Suid-Afrika se elektrisiteit word deur die verbranding van steenkool opgewek, wat tot hoë vlakke van koolsuurgasvrystelling lei.

Safcei is ook krities oor die hersamevoeging van die departemente van minerale hulpbronne en energie. “Dit bring mee dat ’n benadering van mynbou-en-hulpbron-onttrekking op ons energiebeplanning toegepas word. Pleks dat Suid-Afrika voorloop in die internasionale verskuiwing na hernubare energie, en werk en geleenthede skep deur bekostigbare, toeganklike en uitbreibare, hernubare energiestelsels, hoor ons steeds van besluitnemers dat ons ons gratis son en wind moet ignoreer en eerder ons land moet opgrawe vir duur elektrisiteit.”

Mantashe het in sy toespraak Donderdag gesê kernkrag sal ná 2045 nodig wees in Suid-Afrika, maar sal aangekoop word teen die prys, tempo en skaal wat die land kan bekostig. Wetgewing is vanjaar op pad wat die ontwikkeling van Suid-Afrika se olie- en aardgasbronne sal bevorder, het hy beloof. Hy het beklemtoon Suid-Afrikaners moet wegskram van ’n polariserende energiedebat wat steenkool, kernkrag en groenkrag teen mekaar stel. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!