Gwede maak nou vuur onder groenes
Gwede maak nou vuur onder groenes

Gwede maak nou vuur onder groenes

Elvira Wood



Gwede Mantashe, minister van mineralebronne en energie, wil nou hê groenkragprodusente moet hul litte roer sodat groen krag so gou as moontlik op die netwerk gelaai kan word.

Mantashe was Dinsdag 'n spreker by die bekendstelling van die IEA-steenkoolverslag in Sandton, ­Johannesburg.

Die minister sê die departement het Vrydag reeds 'n versoek om ­inligting gepubliseer waar belanghebbendes die departement kan inlig oor hoe 'n ekstra “2 000 MW tot 3 000 MW krag so gou moont­lik, teen so goedkoop moontlik” aan die netwerk verbind kan word.

“Ons het ook samesprekings met onafhanklike kragprodusente (IPP's) begin om vas te stel watter van die projekte wat in die vierde bodronde goedgekeur is en wat oorspronklik in 2023 in werking sou tree, vanaf Februarie 2020 in gebruik geneem kan word,” sê hy.

Jeff Radebe, Mantashe se voorganger as minister van energie, het in April kontrakte van R56 miljard met 27 IPP's geteken.

Dit was nadat die departement en Eskom bykans twee jaar lank gesloer het om die kontrakte te teken.

Ingevolge die kontrakte sal die IPP's 2 300 MW elektrisiteit oor vyf jaar tot die nasionale kragnetwerk toevoeg.

Dit is dié projekte wat Mantashe wil aanjaag om vinniger krag te produseer.

Mantashe se versoek kom nadat Eskom 'n beroep op die regering gedoen het om hom toe te laat om 5 000 MW minder krag per dag te lewer.

Dit is sodat hy noodsaaklike instandhouding by kragstasies kan doen.

Pres. Cyril Ramaphosa het op 11 Desember dié versoek bevestig.

Ramaphosa het by 'n media­konferensie by Eskom se hoofkantoor gesê verskeie opsies word oorweeg om 5 000 MW se krag by die netwerk te voeg.

“Een daarvan is drywende krag­opwekkers op skepe in hawens. As ons sou sien dit is doenbaar, sal ons dit oorweeg,” het ­Ramaphosa toe gesê.

Hy het na die staat se geïntegreerde hulpbronplan (IRP2019) verwys as 'n manier waarop ekstra kragvermoë verkry kan word.

Hy het gesê daar is 'n voorstel om veral die private sektor toe te laat om hul eie krag op te wek.

Mantashe sê Dinsdag dat hoewel daar na groen krag gekyk word as een van die maniere om krag in Suid-Afrika op te wek, sal steenkool steeds 'n belangrike bron bly.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer