Gyselaars bring hulde aan helde wat sterf
Gyselaars bring hulde aan helde wat sterf

Gyselaars bring hulde aan helde wat sterf

Drie gyselaars wat deur Franse spesmag-soldate in Burkina Faso gered is, het in Parys hulde gebring aan die twee soldate wat in die gewaagde reddingsoperasie dood is.

Pres. Emmanuel Macron het die gyselaars Saterdag in die Franse hoofstad verwelkom toe hulle uit ’n regeringsvliegtuig geklim het.

Hulle is Donderdag in die middernagtelike ure gered in ’n operasie waarvoor Macron die opdrag gegee het.

Twee Franse wat in Benin op safari was, is sowat ’n week vantevore daar gevange geneem. Dit is onbekend deur wie, maar hul aanvallers het hulle in Burkina Faso aangehou.

Die aanvallers het blykbaar beplan om hulle te oorhandig aan ’n ekstremistiese Islamitiese groep in Mali wat bande met Al-Kaïda het.

Twee vroue, ’n Amerikaner en ’n Suid-Koreaan, is saam met hulle gered. Laasgenoemde het saam met die twee Franse in Parys geland en die Amerikaner is afsonderlik gerepatrieer.

Volgens die Franse regering was hulle nie bewus van die ander twee gyselaars voordat die operasie begin is nie.

“Ons gedagtes is met die gesinne van die soldate wat gesneuwel het toe hulle ons uit daardie hel gered het,” het een van die Franse, Laurent Lassimouillas, vroeër in Burkina Faso gesê.

ONTMOET PRES. KABORE

Hulle het pres. Roch Kabore van Burkina Faso in Ouagadougou ontmoet voordat hulle na Europa gebring is.

Die Franse regering het die twee soldate as Cédric de Pierrepont en Alain Bertoncello geïdentifiseer. Albei was lede van die vloot se spesmag.

Macron sal vandeesweek ’n nasionale huldeblyk aan hulle lei.

Lassimouillas het ook die dood betreur van hul gids in Benin wat deur hul aanvallers doodgeskiet is.

Vier van die mense wat hulle aangehou het, is ook dood.

Jihadistiese groepe wat bande met Al-Kaïda en Isis het, is baie aktief in die Sahel-streek, net suid van die Sahara-woestyn.

Frankryk, wat voorheen die koloniale mag in die gebied was, het in 2013 in Mali ingegryp om die verspreiding van die terreurgroepe te keer.

Hy het sedertdien sowat 4 500 soldate in die gebied.

BOODSKAP DUIDELIK

“Frankryk se boodskap aan terroriste is duidelik: Diegene wat Frankryk of Franse wil aanval, moet weet ons sal hulle jag, ons sal hulle vind en ons sal hulle doodmaak,” het Florence Parly, minister van verdediging, gesê terwyl sy langs Macron op die militêre lughawe buite Parys gestaan het.

Jean-Yves le Drian, minister van buitelandse sake, het gesê hulle doen steeds alles in hul vermoë om nog ’n Franse gyselaar, Sophie Petronin, uit Mali te kry.

Sy is in Desember 2016 in Gao, ’n stad in die noorde van Mali, as gyselaar geneem.
– Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!