H1N1 eis drie lewens in een maand
Die meerderheid gevalle van die H1N1-griepvirus kom in Windhoek voor.
Henriette Lamprecht – Die H1N1-griepvirus het in Julie die lewe van drie mense geëis.
Twee mans (onderskeidelik 47 en 53 jaar oud) en ‘n vrou (61) is onderskeidelik op 12, 22 en 27 Julie aan die siekte dood.
Volgens die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) se woordvoerder, sr. Manga Libita, is 65 H1N1-griepgevalle sedert 19 Junie by private gesondheidsinstellings aangemeld. Die uitslag van ‘n staatspasiënt is uitstaande.
Al die gevalle is in die Windhoek-distrik, buiten een uit die Swakopmund-distrik en twee van Outjo. Uit die totaal van 64 laboratoriumbevestigde gevalle is 44 volgens Libita vyf jaar en ouer, terwyl 21 onder die ouderdom van vyf jaar is.
Volgens Libita is 34 van die gevalle vroulik en 29 manlik. Sy het beklemtoon dit is nie ‘n uitbreking nie, maar net ‘n oplewing in seisoenale griep wat wêreldwyd algemeen in die winter is.
Intussen het die matrone van die Rooms-Katolieke Hospitaal in Windhoek, sr. Bernadette Shipanga, gesê die hospitaal word tans nie “gedomineer deur griepgevalle nie, maar mense is wel siek”. Sr. Hannelie Botha, hoof van verpleging by die Lady Pohamba Private Hospitaal, sê “presies dieselfde besetting as verlede jaar” geld tans by die hospitaal.
“Die aantal lugweginfeksies is hoër, maar dit is winter, en dis seisonaal en normaal.”
Mediclinic in Windhoek se hospitaalbestuurder, me. Elmarie Vink, beaam dat gevalle van griep tans seisoenaal en normaal is.
“Ons weet dit neem teen middel-Augustus weer af,” het sy gesê.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) het die H1N1-virus, voorheen bekend as varkgriep, ná die pandemie in 2009 as 'n seisoenale griepvirus geherklassifiseer.
Tekens en simptome van die siekte sluit hoë koors, hoes, seer keel, loopneus, lyfseer, kopseer, moegheid, diarree en naarheid in.
Verlede jaar is 106 laboratoriumbevestigde H1N1-griepgevalle aangemeld en is twee mense aan die siekte dood. Die gevalle het in al die streke van die land voorgekom buiten Oshikoto, Omusati, Ohangwena, Kavango en ||Kharas.
Namibië het 'n grootskaalse H1N1-uitbreking in 2009-'10 gehad, met meer as 8 000 vermeende gevalle wat aangemeld is.
Hiervan het 102 gevalle positief vir die siekte getoets. Een persoon is aan die siekte dood. Die meeste gevalle is in die Ohangwena-, Omusati- en ||Kharasstreek aangemeld.
H1N1 word hoofsaaklik deur nies en hoes of direkte kontak met oppervlakke oorgedra wat besmette druppels op het.
Hoërisikogroepe sluit kinders onder die ouderdom van vyf jaar, bejaardes ouer as 65 jaar, swanger vroue, mense met 'n verswakte immuunstelsel en chroniese onderliggende mediese toestande in.
As voorkomingsmaatreël teen die siekte kan inwoners teen die H1N1-virus ingeënt word, met die seisoenale griepinspuiting wat dié virusstam insluit en in Namibië beskikbaar is.
Nog maatreëls is om genoeg vloeistowwe te drink om ontwatering te voorkom, persoonlike higiëne deurentyd toe te pas, gereeld hande te was en dit ook te vermy om aan jou oë, neus en mond te vat omdat kieme so versprei.
Mense wat simptome en tekens van griep toon, moet rus, gereeld water drink, en koors en hoes met oor-die-toonbankmedikasie bestuur.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie