Haaie warm teen Russe se WB-span op

Superrugby
Tinus van Staden - Sean Everitt se grootste taak in die pylvak van die Superrugby-voorseisoen sal wees om sy Haaie-spelers van die vodka weg te hou wat hul teenstanders vir twee opwarmwedstryde ongetwyfeld saam met hulle Durban toe gaan neem.

Die Haaie het gister aangekondig hulle speel twee opwarmwedstryde teen Rusland voordat hulle die Stormers op 19 Januarie in die FNB-stadion op Superheld-Sondag pak.

Die Durbaniete het 'n propvol program, met 'n losmaker teen die Pukke wat ook Vrydag op Kingspark se B-veld gespeel word. Direk ná die wedstryd teen die studente van Potchefstroom, speel die Haaie hul eerste wedstryd teen die Russe.

Hulle speel op 17 Januarie in 'n tweede opwarmwedstryd teen Rusland, voordat hulle na Johannesburg vertrek vir Superheld-Sondag.

Rusland het in 2019 in net sy tweede Wêreldbeker-toernooi gespeel nadat hy ook in 2011 aan die skouspel in Nieu-Seeland deelgeneem het. Die Russe, afgerig deur die Wallieser Lyn Jones, kon nie 'n wedstryd in Japan wen nie, maar het vir oomblikke van opwinding in die openingswedstryd teen die gasheerland gesorg, 'n toets wat die Brave Blossoms met 30-10 gewen het.

Die opwarmwedstryde sal die nuwe afrigter van die Haaie, Everitt, 'n kans gee om kombinasies te toets voordat hul Superrugby-veldtog op 31 Januarie teen die Bulle in Durban begin.

Die winde van verandering het verwoed in Durban gewaai ná die vorige seisoen.

Verskeie staatmakers, onder andere die drie Du Preez-broers Jean-Luc, Dan en Robert, Coenie Oosthuizen, Akker van der Merwe, Jacques Vermeulen, Philip van der Walt, Ruan Botha en Beast Mtawarira het groener weivelde oorsee gaan soek.

Die voormalige breier, Robert du Preez senior, is ook vort, terwyl Eduard Coetzee vir Gary Teichmann as uitvoerende hoof vervang het.

Daar is egter wel ook inkopies gedoen.

Die Cheetah-stut Ox Nche en -flank Henco Venter, die Stormers-losvoorspeler Sikhumbuzo Notshe, die Leeus-vleuel Madosh Tambwe en -losvoorspeler James Venter, die Blitsbok Werner Kok, die Maties-losskakel Jordan Chait en -slot Jordan Sesink-Clee en 'n stut van die Westelike Provinsie, Michael Kumbirai, is Durban toe gelok om vir hierdie verliese te vergoed.

Kok sluit hom egter eers in Augustus – ná die Olimpiese Spele – by die span aan.

Everitt het ook groentjies soos JJ van der Mescht, Sanele Nohamba, Boeta Chamberlain en Phepsi Buthelezi, vir wie hy in die opwarmwedstryde weer op die proef sal wil stel.

Die Haaie moet ook nog 'n kaptein aanwys. Louis Schreuder het die span in verlede jaar se Superrugby-reeks aangevoer, terwyl Botha en Mtawarira ook al daardie rol vervul het. Schreuder het op 'n korttermyn-grondslag vir Toulon gespeel, maar het hom in November weer by die Haaie aangesluit.

Tera Mtembu en Jeremy Ward was die gesamentlike kapteins vir die Curriebeker-reeks, maar nie een van hulle is verseker van 'n plek in die Super-span nie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!