Haal die skrik uit kwarantyn
Haal die skrik uit kwarantyn

Haal die skrik uit kwarantyn

Dani Booysen
DR. HETTY ROSE-JUNIUS VAN WALVISBAAI SKRYF:

Die woord kwarantyn skok, maar nie noodwendig die ervaring nie.

Ek was met vakansie in Kaapstad en gereed om terug te vlieg Namibië toe. Toe kondig die Suid-Afrikaanse president aan die land is onder inperking weens die uitbreking van die coronavirus. Die lughawe is gesluit.

Namibië se president spreek toe: Die land is in grendeltyd en lughawens en grense is toe.

Dit was 'n skok, maar die mens het reserwes om sulke situasies te aanvaar en te akkommodeer.

Twee maande later reël West Air 'n repatriasievlug Windhoek toe om 42 mense te vervoer. Ek kry ook plek en ons ontmoet by Wahlstraat in Kaapstad. Dit toets temperatuur, spuit hande, voltooi vorms en maak aankondigings agter maskers. As my seun nie by was om te vertel wat word gesê nie, sou my gehoor en begrip my seker in die steek gelaat het.

Eindelik kan ons die busse bestyg; een vir senior burgers en ouers met klein kinders, en een vir die jonger reisigers. Dis 'n emosionele afskeid vir vele en 'n onrus oor wat voorlê.

Die bekende, bedrywige lughawe is 'n skok. Dis 'n spookdorp, met net die noodsaaklike personeel om die reisigers op die vlug te kry na nog toetse en vorms en honde wat gelei word om bagasie veilig te verklaar.

So tussen spanning en angstigheid bevind ek myself as tolk vir ouer dames wat benoud hulp soek omdat hul nie die Engels so geredelik bemeester nie. Eindelik in die tuig en ons vertek.

Ons waarsku mekaar om te bid vir 'n veilige vlug en veiligheid, want daar is nie sprake van sosiale afstand nie.



TERUG OP EIE BODEM

Ons land om 14:30 op Eros-lughawe sonder enige probleme. Nou net weer 'n herhaling van alles by elke stop. Ons is moeg, maar al gekoring in wat moet gebeur met die toetsing.

Die grootste toets is tyd en gemoedere loop hoog, want ons wag lank op die lughawe. Weer in afsonderlike bus en na baie omswerwinge arriveer ons eindelik om 19:30 by ons bestemming in die stad. Die maatskaplike werkers is op hul pos en kamers word uitsorteer.

Boodskappe van angstige familielede en vriende stroom in, want fone het al afgeskakel en niemand weet wat van ons geword het nie.

Om 20:30 sluit ek my kamer oop en sak op 'n stoel neer. Nou moet ek in dankbaarheid bid vir 'n veilige aankoms en 'n besonder goeie plek wat vir twee weke my heimat sal wees, maar ek besef ook ek is in afsondering, in kwarantyn – 'n gevreesde woord vol onbekende voorskrifte en vooruitsigte.

Op die eerste dag word ons vroeg­oggend kliniek toe, verder in die gang af, geroep vir die daaglikse toetse, maar daar is ook die angstige oordrag van nuus: een persoon in die ander bus het positief getoets. Ons ondersteun mekaar en praat mekaar moed in en glo nie die uitslag kan so vinnig bekend wees nie. Maar ons weet ook ons almal sal nou vir die spesiale toets moet gaan waarvan ons vertel word, maar nie weet wat dit behels nie.

Ek weet nie of ek in my lewe al so ontredderd was nie, maar lede van die groep klop by my vir geestelike krag, geloof en bemoediging aan. Party is handewringend van bekommernis. Ander is vol moed dat ons sal regkom.

Die blydskap en verligting ken geen perke nie toe ons almal negatief toets.

Dis die begin van twee weke waarin ek leer daar kan selfs in afsondering ook genade, vreugde en dankbaarheid wees.

BLINK KANT BO

Ons sluit nuwe vriendskappe en op die vierde dag kry ons toestemming om vir 'n halfuur in klein groepe in die tuin te wandel onder begeleiding. Ons is uitgelate en sing, jubel en doen oefeninge in die vars lug. Nooit tevore het 'n halfuur van geringe vryheid soveel beteken vir liggaam en siel nie.

Die hitte van die son, die plante, die grasperk en die entjie buite stap, was sielsverrykend. Selfs die teruggaan kamer toe word met hernude vaste tred en berusting aanvaar, en dit hou nie meer verskrikking in nie.

Wanneer ons mekaar in die gange raakloop, gewoonlik op pad kliniek toe, behou ons die voorgeskrewe afstand, maar dit gesels en vertel sefs 'n grap of twee en geniet die sosiale verkeer, binne perke, wat die gemoedere verlig.

Op die sesde dag hoor ons nog iemand in die ander groep het positief getoets. Ons is terug in 'n toestand van angs en onsekerheid. Ons sal nog een keer deur die groot toets moet gaan voordat ons sal weet of ons op die 14de dag ontslaan sal word.

Ons bid en bemoedig mekaar op 'n afstand. Dis die trauma van in kwarantyn wees, en duisende mense in ons land het dit al belewe.

In die omstandighede moet jy jou spirituele gemoedstoestand op 'n vlak hou wat geestesgesondheid sal bevorder. Om nie in depressie te verval nie, is dit noodsaaklik om doelbewus op positiewe en praktiese aspekte rondom jou te let.

So kyk ek op 30 Mei na die volmaan in al sy glorie.

Ek het 'n groep familie en vriende wat ons spottend noem “met die

maan gepla”.

Ons beduie die aand vir mekaar dit is 'n “strawberry moon”, wat na verwagting rooi sal word en daar sal ook later in die aand 'n eklips wees. Dit vereis laat wakker bly en opgewonde kontak per foon behou.

Ek vergeet skoon ek is in afsondering en so gaan nog 'n nag verby.

In die kamer is die skuifdeur met balkonnetjie 'n seën. Ek sien die voëltjies wat buite skarrel vir kos, en ek begin 'n ritueel van voeding en gesels. Ons word vriende en dis sielsverrykend.

'n Klop aan die deur kondig die aflewering van pakkies deur die polisie aan, wat eers alles moet deursoek.

Die Hemelse Vader het familie en vriende met meelewing, liefde en wysheid geseën. Hul lewer 'n stroom van benodigdhede en snoepgoed af wat ook met ander gedeel kon word.

Ek kry selfs 'n Bybel en ander leesstof. Die ontvanger beleef die genade van meeleef en omgee, en so word die ervaring van isolasie ligter gemaak.



DANKIE – EN HOU MOED

As maatskaplike werker het ek nooit ten volle besef hoe die persoon aan die ontvangkant van ons dienste dit belewe en ervaar nie.

Daar in afsondering, wanneer my kollega kom en na my behoeftes en ervarings verneem, het dit my soms tot trane gebring oor die omgee en pogings om die ervaring te verlig.

Hul taak is verder versterk deur die verpleegster, die hotelpersoneel en selfs die vriendelike polisiebeamptes wat die uitgange beman.

Ons het die laaste toets deurstaan en weer almal negatief getoets.

Die verligting was groot, maar tog was daar ook 'n seer afskeid van nuwe kennisse, ná twee weke van samesyn en mekaar se lief en leed op 'n afstand deel.

Al is kwarantyn 'n skrikwoord, is dit noodsaaklik.

Ek moedig almal aan om dit met kalmte, geloof en selfbemagtiging tegemoet te gaan.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!