Haar skeppings betower

Sonder enige formele opleiding is Cristina Salvoldi uiters skeppend in haar beeldhouwerk.
Tanja Bause
Tanja Bause – ’n Bronsstandbeeld van Oliver Reginald Tambo is onlangs by die Internasionale Lughawe OR Tambo in Johannesburg onthul.
Die Namibiese beeldhouer Cristina Salvoldi was lid van ’n span van drie beeldhouers wat aan die 9 meter hoë bronsstandbeeld wat sowat 3,5 ton weeg, gewerk het.
“Dit was die grootste standbeeld waaraan ek nóg gewerk het. Voor dit was die grootste ’n 6 meter hoë standbeeld van oudpres. Nelson Mandela wat nou in Ramallah in Palestina staan. Dieselfde span bestaande uit myself, Tania Lee en Lungisa Kala het daardie een in 2015 gemaak,” het sy gesê.
Cristina is in Windhoek gebore en het by die Deutsche Höhere Privatschule skoolgegaan voordat sy in 2003 Kaapstad toe is om ’n rekwisiete- en grimeringskursus vir fliek en teater te doen.
“My ma het ons kinders van kleins af aan kunsprojekte blootgestel. Op skool het ek handwerk gehad wat my aan ’n verskeidenheid teksture soos metaal, hout en keramiek bekend gestel het. “Keramiek het onmiddellik my aandag getrek. Ná skool het ek ook ekstra klasse gehad by ’n vrou wat my aan talle verskillende tegnieke en materiale blootgestel het, soos onder meer kerse en maskers maak en papier- mache.”
Op kollege het sy agtergekom sy het ’n goeie begrip van vorms en sy hou van projekte wat verskillende materiale en tegnieke vereis.

FLIEKS
“Terwyl ek op kollege was, was ek in 2004 by die fliek The Ring of Nibelungs betrokke. Ek het onder die hoof van die grimeringsdepartement gewerk wat die direkteur van die fliek oortuig het die studente kon die kop van ’n draak wat afgekap was maak. Die direkteur het uiteindelik wel ’n ander ontwerp gekies, maar dit was ’n baie goeie inleiding tot die Suid-Afrikaanse filmbedryf en die draakkop het my laat besef dat ek my energie daarop wil fokus om my beeldhouvaardighede op te skerp.”
Cristina het ook vryskutwerk vir ’n spesiale effekte-maatskappy verrig. “Ek het ’n Egiptiese mummie gemaak vir ’n advertensie op die Discovery Channel. Die projek was die meeste pret wat ek nóg gehad het. Ek het verskeie tegnieke en materiale gebruik om die leeragtige vel, skilferige hare en bevlekte verbande te maak.
“Ek het ure spandeer om lae en lae verf, poeier, hare, latex en sneesdoekies aan te bring en dit was hemels.” In 2006 het sy aan Roland Emmerich se fliek 10 000 BC gewerk.
“Ek het in die rekwisietedepartement gewerk en spiese, skilde, dolke en ander prettige rekwisiete gemaak. Ek het op Walvisbaai aan die Namibgedeelte van die produksie gewerk en was op ’n gereedheidsgrondslag aangestel. Dit was baie harde werk, maar ek het gehou van die grootte van die produksie en natuurlik daarvan om in die duinelandskap te kan werk.”
Sy het ook by die Weta-werkswinkel in Nieu-Seeland gewerk. Hulle het die meeste van die wapens, wapenrusting, kreature en prostetika vir The Hobbit Trilogy-flieks gemaak.
“Ek was deel van ’n arbeidsmag van 200 sterk. Die werk was grootliks roetine, maar ek het uiters talentvolle mense van oraloor die wêreld ontmoet. Dit was ook die eerste keer in my lewe dat ek vir ’n salaris gewerk het. Ek was vyf maande in Nieu-Seeland by die flieks betrokke.”

BEELDHOUWERK
In 2007 het sy begin om aan die bronsstandbeeld van die herder, lam en ram te werk. Die standbeeld in Keetmanshoop se hoofstraat was ’n opdrag van die Karakoelraad van Namibië, om dié bedryf se 100-jarige bestaan in die land te vier.
“Vir die maak van die standbeeld het ek ’n werkruimte benodig en ek en ’n kollega het ’n beeldhou-ateljee geopen waaruit ons aan ’n paar kommersiële werke gewerk het. Ons het ook twee groot dinosourus-dioramas vir die Iziko Natural History Museum gemaak.”
Sy het ook vir die Nasionale Erfenismonument se interaktiewe uitstalling ‘The Long March to Freedom’ lewensgrootte standbeelde van Bertha Mkhize, Govan Mbeki en Ray Alexander Simons gemaak.

FAMILIETREK
Volgens Cristina kom sy uit ’n gesin van prakties ingestelde probleemoplossers. Beeldhou is in vele opsigte bloot ’n ander manier om hierdie karaktertrekke uit te druk.
“In my familie was daar lank gelede ’n oom wat ’n keramikus was en ’n tannie wat pragtig geteken het. Beide my oupas was goed met hul hande.
Die een was ’n plaasbestuurder wat skrynwerk as ’n stokperdjie gedoen het en die ander een was ’n ingenieur wat brûe gebou het. My ma was nog altyd baie kreatief en my pa was ook ’n siviele ingenieur wat sy eie konstruksiebesigheid besit het.”
Sy het behalwe vir die inleidingskursus in grimering en rekwisiete geen verdere formele opleiding ontvang nie. “Al my kennis in beeldhou en materiaal het ek geleer terwyl ek gewerk het.”
Vir haar kursus het sy Kaapstad toe gegaan en ook daar begin werk. Sy woon vandag nog daar, maar kom gereeld vir haar vriende en familie in Namibië kuier.
“Ongelukkig is daar nie baie geleenthede in Namibië vir die minder klassieke kunstenaar nie. Ek kan myself egter sien aftree in Namibië vir ’n stiller en nadenkende leefstyl.”
Cristina is baie passievol oor die omgewing en volhoubare lewenspraktyke.
“As ’n gebore en getoë Namibiër is ek veral besorg oor waterbesparing en is ek tans daarop gefokus om ’n inheemse tuin aan te lê wat nie net ’n toevlugsoord vir plaaslike wild en voëls is nie, maar ook medisinale en eetbare gebruike het.”
“My persoonlike beeldhoustyl is meestal realisties. Tans is my hoofmedium Plasticine-klei, aangesien ek die meeste van my private werk in brons giet. Ek probeer vlugtige oomblikke van die alledaagse lewe vasvang wat die humor, tragedie en skoonheid van die lewe vier.
“My huidige fokuspunt is kinders en troeteldiere met hul eiesoortige, nederige, eerlike maniere en hul vermoë om as spieëls vir ons eie siel te kan optree.”
- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer