Haastige Drikus haal Solitaire eerste
Haastige Drikus haal Solitaire eerste

Haastige Drikus haal Solitaire eerste

Bergfietsry
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Mabaruli African Safari's het Saterdag sy tweede Mabaruli-Solitaire bergfietstoer oor 241 kilometer vanaf Windhoek via die C26-roete tot by Solitaire aangebied, waaraan 65 ryers deelgeneem het.

Die veelsydige en formidabele Drikus Coetzee het die 241 kilometer in 7 ure 33 minute teen gemiddeld 31.92 kilometer per uur afgelê. Hy het uiteindelik bykans ’n halfuur tussen hom en die ewe gedugte Alex Miller geplaas.
Die ultra-afstand was vir die meeste deelnemers 'n oefenlopie in die aanloop tot Desembermaand se Nedbank Desert Dash.

Die hardebaard ryers het vroegoggend (04:30) by Arebbusch Travel Lodge weggetrek om die volle 241 km aan te pak. Vir die spanne en ryers wat van die GO!Card-opsie gebruik gemaak het, het die rit eers by die Borde 35 km wes van Windhoek begin.

Die Windhoekse stadspolisie het die ryers vanaf Arebbusch tot by die nuut geboude westelike verbypad naby Unam begelei. Van daar was die brawe trappers op hul eie op pad deur die Khomas Hochland na Solitaire.

Mabaruli African Safari's het op hul beurt die GO!CARD-ryers na die Borde vervoer, waar Frank Bombosch van Cycletec die laaste 20 ryers om 05:30 in die pad gesteek het.

Die gesoute Drikus Coetzee en Alex Miller was soos te wagte voor in die koor tot by die Borde, waar hulle om 05:45 ná die eerste 35 km links op die C26-pad geswenk het. Christiaan Bean, Jafet Amakushu, Morné Nell en Pierre Lambert was nie te ver agter nie op die spoor van Coetzee en Miller.

Sven Strohmenger, organiseerder van die uitdaging, vertel: “Die weer was lekker koelerig en die ryers was almal geesdriftig. 'n Lieflike Namibiese sonsopkoms het die deelnemers later begroet.

“Ná 85 km by die eerste Wurth Namibia-waterpunt by die afdraai na Noas, was al die ryers nog in goeie gees. By die Cycletec-waterpunt 34 km verder moes Breyton Morgenroth, Cycletec se tegnikus, omtrent bontstaan om al die fietse se kettings vir die laaste 122 km te smeer en enige ander tegniese probleempies vinnig op te los.

“Die mees uitdagende deel van die roete het egter nog vir die ryers voorgelê. Ná Nauchas het die kronkelende klimme van bulte tot by die begin van die Remhoogtepas gewag. Die kwik het die middag toe al amper op 40 grade Celsius gestaan.

“Net 38 km was oor tot by Solitaire en dit het heel aanvaarbaar vir die ryers geklink. Maar die laaste 14 km tot by Solitaire was in die hitte genoeg om van die ryers tot breekpunt te dryf.



MOET LANK ONTHOU WORD

“Die welkome gasvryheid van Solitaire het darem vir die ryers gewag. Hulle het weer soos verlede jaar onder die vulstasie se afdak by dié bekende woestynbestemming ná 'n harde tog afgesaal, waar die moeë deelnemers met koue drinkgoed en lekkernye uit die bakkery bederf is.

“Die toer is nie 'n wedren nie, maar 'n persoonlike uitdaging waar elke ryer hulself oor dié lang afstand kan toets. Dis regtig 'n belewenis vir die deelnemers en hul families, want ons wil hê hulle moet die pret lank onthou en in 2022 weer deelneem.

“Pupkewitz Megatech was vanjaar ons hoofborg. Morné Nell, hul besturende direkteur, was self in die saal en baie beïndruk met die organisasie van die uitdaging. Morné het ons verseker dat hulle graag elke jaar deel van die toer wil wees.

“Ons Schapies-uitdaging vind op 30 Oktober vanaf die Ankawini Safari Ranch naby Dordabis langs die Schaaprivier plaas waar ryers kan kies tussen 'n 124 of 246 km. Afhangende van die afstand, sal ryers die Schaaprivier drie of ses keer kruis. Dis 'n heerlike wegbreek vir die hele gesin en daar sal ook bergfietsaktiwiteite vir kinders aangebied word.”

Geskenkpakke ter waarde van N$40 000 geborg deur Wurth Namibia, Santam, Youthful Living, Bushwacked en Langerhans Apteek is aan die deelnemers oorhandig. LA Signs het vir elke deelnemer 'n houtmedalje gegee.

Mabaruli in samewerking met hul Britse toermaatskappy het weer 500 Britse pond (N$10 000) aan Pascall Scaturro, eienaar van Solitaire, vir sy voedselprogram vir 150 kinders by die Edward Frederick-skool geskenk.

Die voorste uitslae:

Solo-mans: 1 Drikus Coetzee (7 ure 33 minute 32 sekondes), 2 Alex Miller (8:00:58), 3 Martin Freyer (8:34:40), 4 Christiaan Bean (8:51:52), 5 Pierre Lambert (8:51:52), 6 Morné Nell (8:51:54).

Solo-vroue: 1 Anri Krugel, 2 Hilke Kruger, 3 Astrid Helm.

Spanne van twee: 1 Jaco Snyman/Jacobus van Zyl, 2 Silke Bean/Melissa Hinz, 3 Danie du Toit/Mariska Smit.

Spanne van vier: 1 Ingram van Heerden, Jo-Andri Pretorius, Johann Mouton, Christine Mouton.

Die 2022 Mabaruli-Solitaire uitdaging word op 24 September gehou.

[email protected]

FOTO
Pure plesier! Drikus Coetzee het die 241 kilometer teen 'n haastige pas ­kafgedraf en het bykans ’n halfuur tussen hom en Alex Miller opgebou. Foto Charlie du Preez

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!