Haastige Hassan kom oefen in Namibië

Nóg een van Europa se super­sterre het besluit om Windhoek se warm en droë klimaat en hoogte bo seespieël tot haar voordeel in te span.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Die 29-jarige Sifan Hassan, gouemedaljewenner in die 5 000 en 10 000 meter by die 2020 Olimpiese Spele in Tokio, Japan, kom vanmiddag vir 'n oefenkamp in die Namibiese hoofstad aan.

Hassan, Nederland se sportvrou van die jaar, en Tim Rowberry, haar Amerikaanse afrigter, sal na verwagting vir minstens twee maande in Windhoek woon en oefen. Sy sou reeds vroeër hier gewees het as sy nie die afgelope naweek in Ethiopië 'n bloutjie geloop het toe sy 'n Covid-toets vir haar reis na Namibië nodig gehad het nie.

Die oefenkamp in Windhoek sal haar eerste terugkeer tot aktiwiteit wees sedert sy verlede jaar aan die Diamantligafinaal in Zürich in die 1 500 deelgeneem het. Hassan het ook 'n Olimpiese bronsmedalje in die 1 500 in Tokio opgeraap.

By die 2019 Wêreldkampioenskap in Doha het sy goud in die 1 500 en goud in die 10 000 in 30 minute 17.62 sekondes verower. Hierna het sy verdere geskiedenis in Tokio gemaak toe sy die eerste atleet (manlik óf vroulik) geword het wat medaljes oor al drie hierdie afstande by 'n Wêreldkampioenskap of Olimpiese Spele kon wen.

Rowberry, wat reeds in Namibië aangekom het, het gister aan Republikein gesê: “Sifan het rus nodig gehad en nie weer geoefen nadat sy aan die Diamantliga-finaal deelgeneem het nie. Dit was die langste rustyd wat sy nóg geneem het. Sy sal nie in Namibië aan enige kompetisie deelneem nie.

“Ons het ondersoek ingestel en ná goeie raad van die Nederlandse triathlonspan en ander bronne het ons op Windhoek, Namibië besluit.

“Ons was op soek na 'n warm en droë klimaat met die regte hoogte bo seespieël en Windhoek is ideaal vir haar doeleindes.

“Boonop soek ons altyd na nuwe plekke om te ontdek.”

Victor Campenaerts, gedugte padfietsryer van België, het in Februarie 2020 ook 'n oefenkamp in Windhoek gehou en aan plaaslike byeenkomste deelgeneem. Verlede jaar het Tim de Vries en Jetze Plat, beide gestremde handfietsryers van Nederland, asook hul landgenoot Daniel Abraham dieselfde kom doen in hul opbou na die Paralimpiese Spele in Tokio waar al drie ook medaljesukses behaal het.

Windhoek is die afgelope jare ook 'n gereelde en beproefde bestemming vir Nederland se triathlonatlete.

Volgens Rowberry (34), wat tot omtrent 2014 self nog as aktiewe atleet kompeterend in items vanaf 200 meter tot 5 000 meter en selfs 3 000 meter hindernis was, is Hassan se visier ingestel om vanjaar nóg 'n wêreldtitel by te voeg.

“Die 2022 wêreldkampioenskap vind in middel Julie in Eugene, Oregon, in die VSA plaas op 'n tydstip wanneer dit baie warm is. Verlede jaar het 'n hittegolf Oregon getref en ons verwag weer hoë temperature tydens die wêreldkampioenskap. Dus maak dit sin om hier te begin.

“Ek en Sifan het nie 'n vaste adres nie. Ons lewe soos nomades, van een land na die ander.”

Hassan, wat in Ethiopië gebore is, het in 2008 as 'n vyftienjarige vlugteling uit haar geboorteland in Nederland aangekom. In 2011 het sy op 21-jarige ouderdom aan atletiek begin deelneem terwyl sy as 'n verpleegster gestudeer het.

In slegs haar tweede deelname aan die 10 000 het sy in Doha 2019 die wêreldkampioen geword. Met haar eerste 10 000 daardie jaar by Stanford kon sy slegs met 31:18.12 eindig – skaars vinnig genoeg om vir Doha te kwalifiseer.

Sy was verlede jaar vir net twee dae die 10 000-wêreldrekordhouer ná haar 29:06.82 by Hengelo, Nederland, maar Letesenbet Gidey van Ethiopië het dié merk toe by dieselfde stadion tot 29:01.03 verminder.

Rowberry is sedert Julie 2018 Hassan se afrigter.

Sifan Hassan se persoonlike beste tye en staande rekords:

800 m, 1:56.81 (Monaco) 20 Julie 2017.

1 000 m, 2:34.68 nasionale rekord (Hengelo) 24 Mei 2015.

1 500 m, 3:51.95 Europese rekord (Doha) 5 Oktober 2019.

1 myl, 4:12.33 wêreldrekord (Monaco) 12 Julie 2019.

3 000 m, 8:18.49 Europese rekord (Stanford) 30 Junie 2019.

5 000 m, 14:22.12 Europese rekord (London) 21 Julie 2019.

10 000 m, 29:06.82 Europese rekord (Hengelo) 6 Junie 2021.

FOTO’s
Sifan Hassan en Tom Rowberry in ligte luim tydens 'n oefensessie. Foto Lumen Global/ Abdullah Khawaja
Sifan Hassan van Nederland vier haar oorwinning in die 10 000 meter by die 2020 Olimpiese Spele in Tokio laas Augustus. Foto Getty Images

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!