Hage aan Swapo: Gee grondvoorstelle
Hage aan Swapo: Gee grondvoorstelle

Hage aan Swapo: Gee grondvoorstelle

Die president het geld, grond en ongelykheid met Swapo-leiers bespreek.
Augetto Graig
Augetto Graig



"Namibië is nie platsak nie."

Dít is hoe dr. Hage Geingob op 27 Februarie die party se leiers in die Khomasstreek verseker het hulle het niks om oor bekommerd te wees nie.

Hy het op uitnodiging van die party se streeksleierskap, insluitende Khomas-goewerneur Laura McLeod-Katjirua, 'n boodskap van eenheid, vrede en gerusstelling verkondig.

Al 12 van Windhoek se 15 stadsraadlede wat aan Swapo behoort was teenwoordig, asook die burgemeester, mnr. Muesee Kazapua, en Windhoek se nuwe hoof uitvoerende beampte, mnr. Robert Naanda Kahimise.

Ander topleiers teenwoordig was Swapo se sekretaris-generaal, mnr. Nangolo Mbumba, die sekretaris vir inligting, mnr. Helmut Angula, Khomas-streeksraadlid me. Rachel Jacob, voorsitter van die Nasionale Raad, me. Margaret Mensah-Williams en ook finansminister, mnr. Calle Schlettwein.

Mbuma het gesê die president het die geleentheid bygewoon om te sien hoe aktief die Swapo-leier­skap in die streek is, en dat soortgelyke vergaderings beplan word.



GELDSAKE

Die staatshoof het op sekere punte gehamer. Veral daarop dat Namibië nie platsak is nie en dat dié wat “moeilikheid soek" in Swapo, "teleurgesteld" sal wees.

Geingob het gesê: "Ons het so drie maande se invoerdekking en ons skuldvoorraad is tussen 35% en 40%. Suid Afrika is na aan 50% en sekere lande soos Amerika is meer as 100%. Ons land is nie platsak nie, maar ons het wel ekonomiese probleme.

"Dit gee ons kans om die regte begrotingsvlak vas te stel.

"Ons bestuur die ekonomie, maak los punte stywer vas en kyk ook na enige oorbetalings."

Volgens Geingob is maatskaplike probleme die land se grootste uitdaging.

"Hulle praat van ons as die mees ongelyke samelewing - al het ons Gini-koëffisiënt verminder,” sê Geingob.



GRONDSAKE

Met redelike behuising en toegang tot kos en klere vir die land se burgers sal ander doelwitte ook bereik word, sê hy.

Oor die grondkwessie sê Geingob sekere mense is besig om die saak te verdraai en ander aan te hits.

Dít is waarom hy gevra het dat die nuwe wet op grond uitgestel moet word tot ná die tweede nasionale grondkonferensie later vanjaar.

“Hoekom sou mense dink die demokraties-verkose Swapo-regering sou daarteen wees dat swartmense grond moet kry?” het hy gevra.

“Nou stry hulle met ons. Asof dit ons was wat die mense se grond afgevat het.”

Hoewel die grondkwessie ingewikkeld is, het Geingob gesê “die witmense wat nou grond besit, is óók Namibiërs".

Die president het alle Swapo-lede gevra om voor te berei vir die grondkonferensie in September met voorstelle en oplossings.

Kommentaar

Republikein 2025-04-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer