• Tuisblad
  • Menings
  • Hage Geingob en die Duitse standpunt oor volksmoord en reparasies
Hage Geingob en die Duitse standpunt oor volksmoord en reparasies
Hage Geingob en die Duitse standpunt oor volksmoord en reparasies

Hage Geingob en die Duitse standpunt oor volksmoord en reparasies

Mandy Rittmann
LAZARUS KAIRABEB, SEKRETARIS-GENERAAL VAN DIE VERENIGING VAN NAMA- TRADISIONELE ­LEIERS, SKRYF:

Ontevredenheid is veroorsaak deur die onlangse uitsprake van die president, dr. Hage Geingob, toe hy gedurende die staatsrede in die parlement van Namibië 'n vraag van die amptelike opposisieleier, mnr. McHenry Venaani van die PDM geantwoord het.

Die vraag het as volg gelei: “Of die Namibiese regering dit oorweeg om die Duitse regering na die Internasionale Strafhof te sleep indien daar nie 'n bevredigende ooreenkoms verkry word oor die volksmoord wat die Duitse regering destyds teen die Herero- en Nama-mense gepleeg het.”

President Geingob het in sy antwoord hierdie direkte vraag omseil, en onder andere, as volg gereageer:

Duitsland sal nie, hoewel hulle erken dat hulle slegte dinge teenoor die Namibiese volkere gedoen het, reparasies betaal om dit in die “beurse van individue te prop” nie. Hulle sal alleenlik betaal vir ontwikkelingsprojekte. En hy het voorts gesê dat “slagoffergemeenskappe projekte moet voorberei”.

Sy uitspraak was baie meer omslagtig, maar baie luisteraars het hom verstaan in die konteks wat ek hierbo stel.

Die vraag kan miskien gestel word: Wat is verkeerd daarmee vir die president om dit te stel asof die Duitsers so gesê het? Die probleem lê juis opgesluit in hierdie sinsnede van sy uitspraak aangesien die Duitse regering se standpunt nie op internasionale en/of selfs op nasionale wetgewing met betrekking tot volkeregtelike jurisdiksiebeginsels gebaseer is nie. Die jurisdiksiebeginsel is 'n uitvloeisel van die aanvullendheidsjurisdiksie van die Internasionale Strafhof wat selfs aan lidlande bevoegheid verleen om ernstige internasionale misdade ter aanvulling van nasionale straf­jurisdiksies te vervolg.

Behalwe vir hierdie statuut is daar veel meer internasionale konvensies en instrumente wat gebruik kan word om die Duitsers hof toe te sleep. Ek neem aan die vraag van mnr. McHenry Venaani was teen daardie agtergrond gestel.



ONHOUDBAAR

Te midde van al die beskikbare middele om die Duitse regering se posisie te kelder, kom die president voor as die verdediger van die Duitse standpunt, dit nogal in die Namibiese parlement! Dit is ontnugterend vir die nasie om te hoor dat sy president die standpunt van 'n oortrederland kom verdedig in die verhewe huis van die Namibiese parlement!

As ons sy uitspraak ontledend benader, kom die volgende sterk na vore: die omstrede woord “volksmoord” moet versteek word sodat die twee regerings kan voortgaan met die onderhandelinge onder bilaterale verstandhouding en sodoende weg te doen met die daad van “volksmoord” op die Herero's en die Namas. Dit beteken verder dat die uitwissing sowel as die geskiedenis van die Herero's en die Namas van daardie tyd hiermee effektief aan niks gelykstaande gemaak wil word, sodat die invoer van die vergoedingspakket gekamoefleer kan wees onder die vaandel van bilaterale maatreëls tussen die twee regerings en die Namibiese regering dit mag aanwend na gelang van sy besluite.

Daar is ongelukkig twee verskuilde vangnette in sodanige optrede.



REGSGRONDE

Die eerste een is die regsgrondelikheid van die saak. Die daad van volksmoord word bevestig deur die bestaan van die “uitwissingsbevele” wat teen die Herero's en die Namas onderskeidelik uitgereik was. Die getuienis daarvan bestaan in die aksies wat oorgedra is deur ons voorouers en word bevestig deur die skrywes in die geskiedenis sowel as die besittings en minerale wat uitgevoer is, die grond wat afgeneem is en die hoeveelheid mense wat uitgemoor is.

As die Nama en Herero's van hierdie regsgrondelikheid afstand doen, deur saam te stem met die plan van die twee regerings, dan kan ons saak nasionaal sowel as internasionaal geen regsgrondelikheid behou nie.

Hoekom sal dit so wees? Aangesien ons nie insae sal hê in die inhoud van die ooreenkoms wat bilateraal aangegaan word nie, want ons is nie deel van die onderhandelinge nie.

Ons kan ook nie deel wees van so 'n onderhandeling nie tensy die twee ­regerings bereid sal wees om die perke van onderhandelinge te hersien. Dit is dus totaal sinneloos om dit van ons mense te verwag om ons hierin toe te laat.

Die tweede ongemaklikheid wat deur die president se uitsprake veroorsaak word, is sy skynbare onvermoë om te besef dat ons hier te kampe het met werklike, geweldige ongelykheid en armoede wat definitief aangespreek moet word. Hierdie toestand was beplan en stelselmatig deurgevoer sodat die uitkoms daarvan meer as 100 jare daarna, 100% ooreenstem met wat beplan was met die verarming van ons mense. Instede daarvan om hierdie saak te verdedig, maak die Namibiese staatshoof hom daaraan skuldig om op ons parlementêre vloer sy uitspraak ten gunste van die Duitse standpunt te maak.

Die vraag aan enige sinlike Namibiër is: is dit verkeerd van die Namas en Herero om die president se trou aan die Duitse regering te bevraagteken? Moet ons die internasionale sowel as nasionale wette aanpas of omseil om die Duitsers te akkommodeer omdat hulle ontwikkelingshelp aan ons voorsien?

Die antwoorde op hierdie vrae is voor die handliggend. Die Duitsers is buite orde en die president van Namibië is ook buite orde.

Dit is niks minder as teleurstellend om te dink dat so 'n verwagting van ons president kom nie. Hy het hom van die begin af onttrek van die saak. 'n Mens wonder soms hoekom hy hom nie maar uit die saak hou, eerder as om elke keer swael op die vuur te kom gooi nie.

Daar is dus niks verkeerd om te verwag dat die Namibiese en Duitse regerings bereid moet wees om die perke van onderhandeling te hersien en die leiers van die betrokke gemeenskappe op te neem in die onderhandeling of om anders die saak van hierdie mense in die internasionale howe aan te hoor nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!