Hage verklaar jaar van nuutskepping
Hage verklaar jaar van nuutskepping

Hage verklaar jaar van nuutskepping

Die staatshoof het inenting as die grondslag vir die hervatting van internasionale handel aangemoedig.
Augetto Graig
Augetto Graig



President Hage Geingob se Nuwejaarsboodskap was een van hoop vir die toekoms en dankbaarheid vir die vlak van samewerking wat Namibië deur die Jaar van Veerkragtigheid gedra het.

“Daar is baie hoop wat voorlê in die nuwe jaar waarin ons poog om ons lewens, ons huishoudings, ons gemeenskappe en ons nasie te herbou.

“Ons het die Jaar van Veerkragtigheid oorkom en die koers behou, hande vasgehou en sterker daaruit getree,” sê hy.

“'n Vernuwende gedagtegang behoort ons nou te lei, vir die aksies en prosesse wat ons in die Jaar van Nuutskepping (reimagining) sal toepas.”

Volgens die president het 2021 Namibiërs herinner dat hulle deur eenheid en gesamentlike deursettingsvermoë onoorkomelike uitdaging te bowe kan kom.

“Dié van ons gelukkig genoeg om ons lewens te kan voortsit, moet die nuwe jaar met hernude krag en optimisme aanpak, om die herinnering van ons gesneuwelde volksgenote te eer deur onvermoeid te werk om die droom van voorspoed vir almal te behaal.”

Hy sê deur elkeen se gesa­mentlike waaksaamheid is die ergste van die pandemie afgeweer. Gesondheid en veiligheid in die werkplek moet nou hersien word om te verseker werkers kry toegang tot mediese sorg. Terselfdertyd moet die vlakke van inenting voortdurend vermeerder.

“As 'n nasie kan ons nie bekostig om in terme van inentingskoers agter te bly nie. Namibië is nie 'n eiland nie. Ons leef in 'n globale dorpie. Vir ons om te oorleef, moet ons met die res van die wêreld kan besigheid doen.

“Dus, as ons dit nie regkry om aanvaarbare vlakke van inenting en kudde-immuniteit te behaal nie, sny ons effektief onsself van die wêreld af; ons beperk ons eie ekonomie se vermoë om die voorspoed te skep wat ons almal sê ons wil hê,” sê hy.

“Ons kan nie terugsit en wag vir kommoditeitspryse om die ekonomiese uitkoms wat ons soek af te dwing nie. Ons moet buite die boks dink, innoverende idees najaag en ondernemings aanpak wat ekonomiese groei kan skep.

“Een so 'n onderneming is groen waterstof,” sê hy. Geld hiervoor behoort binnekort in die plaaslike ekonomie te vloei. Daarmee sal die beplande sintetiese brandstofbedryf spoedig direkte buitelandse belegging bring, het hy gesê.

Die nasionale strategie om nog meer beleggings hiervoor te lok, sal ook in 2022 voltooi word om die ekonomie 'n hupstoot te gee, om Namibië as 'n voorloper in ontkoling te vestig en veral vir die jeug werk te skep.

Verder moet Namibië sy ekonomiese produkte diversifiseer en meer aktief in strategiese bedrywe wees om toegang tot markte in Afrika en die wêreld te maksimaliseer. Hiervoor moet die werksmag heropgelei word, sê hy.

“As die afgelope jaar ons iets geleer het, was dit dat mens óf moet aanpas en ontwikkel, óf sterf,” sê hy.

Een voorbeeld is die nuwe identiteitsdokumente met gevorderde kenmerke vir burgers, inwoners en vlugtelinge, sê hy. Namibië en Botswana werk daaraan om die nuwe ID-kaarte vir reis tussen die buurlande geldig te maak.

“Ons in Namibië is baanbrekers deur ons besluit om die identiteitsdokument vir vlugtelinge as 'n ID vir gaste vanaf Afrika te maak, omdat Namibië deel van Afrika is en ons nie op mede-Afrikane as vlugtelinge kan neersien nie.

“Let daarop, Namibië was die eerste lidland waar die Afrika Unie se vlag gehys en die eerste waar die Afrika Unie se volkslied gesing word. Nou is ons die eerste om 'n Pan-Afrika visie van vlugtelinge as gaste van Namibië te bevestig,” sê hy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer