Haikali 'hoopvol' oor CAS-hofsake
Haikali 'hoopvol' oor CAS-hofsake

Haikali 'hoopvol' oor CAS-hofsake

Die NFA gaan vandeesweek met die minister en haar adjunk konsulteer oor die hantering van die hofsake.
Die Namibiese Sokkervereniging (NFA) sal komende Donderdag 'n ontmoeting met die ministerie van sport, jeug en nasionale diens in Windhoek hê om die weg te baan vir 'n gesamentlike werkverhouding wat met die drie hangende sake voor die Hof vir Arbitrasie in Sport (CAS) verband hou.

Die NFA se president, mnr. Ranga Haikali, sê die beheerliggaam het die uitnodiging van minister Agnes Tjongarero en haar adjunk me. Emma Kantema-Goamas vir 'n konsulteringsvergadering ontvang.

“Ons is bly om te weet dat beide die nuut aangestelde minister en haar adjunk nie nuwelinge op die gebied van sport en spesifiek sokker is nie.

“Deur bemiddeling van die Namibiese Sportkommissie sal ons voortgaan om met al ons rolspelers saam te werk vir die bevordering van ons geliefde sport – sokker,” het Haikali verklaar.

In pas met die nasionale maatreëls teen die verspreiding van die coronavirus het Haikali gesê die NFA sal in die vergadering net verteenwoordig word deur dié uitvoerende lede wat hulle in Windhoek bevind.

“Vanweë hierdie pandemie verloor ons baie tyd, maar ons moet ag slaan op die effek van die siekte en moet verantwoordelik optree en doen wat onder die omstandighede vereis word.

“Ons het waardering vir die gebaar van die ministerie en ons moedig almal aan om die pogings van die minister in hierdie verband te ondersteun.”

'DUUR EN TYDROWEND'

Haikali is ook uitgevra oor die ­vordering van die regsake wat tans voor die Hof vir Arbitrasie in Sport (CAS) in Lausanne, Switserland, hangend is.

Die drie sake is: CAS 2020/A/6769 – Frans Vatileni Mbidi vs NC/NFA, waarin Mbidi 'n eis ingestel het met betrekking tot die NFA-verkiesing se proses om kandidate se kiesbaarheid; CAS 2020/A/6773 – Mpasi Haingura/Patrick Kauta vs NC/NFA en Ranga Haikali rakende die NFA se kon­trolering van verkiesingskandidate; aasook CAS 2020/A/6866 – NPL vs NFA, waarin die Namibiese Premierliga sy skorsing as NFA-lid teenstaan.

“Wat ons op die oomblik kan deel, is dat in die betrokke drie sake wat by CAS aanhangig gemaak is, die NFA op advies van Fifa ingestem het om regsverteenwoordiging aan te stel wat hul kantore in Lausanne, Switserland het.

“Daar is nog 'n paar tegniese formaliteite waaraan ons moet voldoen.”

“Hierdie hofsake gaan baie tyd en geld kos. Ons vra die publiek se geduld; ons sal ons bes doen om almal op die hoogte te hou van hierdie hoogs tegniese proses.

“Ons het die sake in die Namibiese hoërhof en hooggeregshof deurstaan.

“Die regsproses is tydrowend en het ook groot finansiële koste, maar ons bly positief en die integriteit van hierdie prosesse verloop volgens die boek,” het Haikali verklaar.

Die sokkerbaas sê: “Ons fokus behoort te wees om te verenig en om so spoedig as moontlik weer te kan sokker speel. Ons het die talent, die hulpbronne en die toekomstige generasies aan wie ons 'n nalatenskap moet oorlaat. Ons hoop om hierdie struikelblokke uit die weg te kan ruim sodat ons vorentoe kan beweeg.”

– NFA.org.na

Kommentaar

Republikein 2025-04-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer