Halfeeu se tronkstraf in die weegskaal
Halfeeu se tronkstraf in die weegskaal

Halfeeu se tronkstraf in die weegskaal

Die hoërhof het 'n gevangene se versoek goedgekeur om te appelleer teen die 50 jaar se tronkstraf wat hy in 2010 opgelê is ná hy aan 'n dubbele moord skuldig bevind is.
Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith – 'n Man wat tans tronkstraf van 50 jaar uitdien vir die moorde op 'n Russiese egpaar 13 jaar gelede, is toestemming verleen om sy lang gevangenisstraf in die hooggeregshof uit te daag.

Regter Herman January het Ruben Tjombe se versoek goedgekeur om te ­appelleer teen die vonnis wat hy in 2010 opgelê is ná hy aan 'n dubbele moord skuldig bevind is.

In 2010 is Tjombe (toe 21) en sy medebeskuldigde, Fritz Gaoseb (toe 22), elkeen tot 25 jaar tronkstraf gevonnis vir elk van die twee moordklagte waaraan hulle skuldig bevind is, benewens 'n ernstige roofklag. Die skuldigbevindings volg op die grumoorde in 2008 op mnr. Andrei Pastouchkov (50) en sy vrou, me. Svetlana Labanova (44), op hul kleinhoewe noord van Okahandja.

Tjombe het skuldig gepleit op die moord op Labanova, wat dood is ná sy meermale met 'n panga gekap is. Gaoseb het skuldig gepleit op die moord op Pastouchkov.

In sy kort uitspraak wat ­vandeesweek gelewer is, het January gesê sy besluit om die laat aansoek goed te keur, kan toegeskryf word aan “vooruitsigte van sukses” in die lig van die hooggeregs­hof se verbod drie jaar gelede op ultralang gevangenisstraf.

Tjombe se prokureur het aangevoer die uitspraak, wat tronkstraf van langer as 37-en-'n-half jaar ongrondwetlik verklaar het, het nie bestaan toe sy kliënt gestraf is nie.

In 2018 het die hooggeregshof beslis dat oordrewe lang gevangenisstraf, wat misdadigers sonder 'n realistiese kans op parool laat terwyl hulle nog leef, ongrondwetlik is.

Selfs 'n lewenslange vonnis, het die hof toe opgemerk, beteken die veroordeelde misdadiger kom ná 25 jaar in aanmerking vir parool.

In die geval van 'n vaste vonnis, word parool eers 'n moontlikheid nadat twee derdes van 'n vonnis uitgedien is, wat met gevangenisstraf van langer as 37-en-'n-half jaar meer as 25 jaar is.

Die oplegging van lang tronkstraf sonder die moontlikheid van parool is 'n skending van menseregte, het die hooggeregs­hof beslis. Sedert dié uitspraak het verskeie gevangenes die hof genader om hul vonnisse te hersien.

In 2019 het korrektiewe dienste bevestig dat 52 gevangenes toe besig was om tronkstraf van tussen 41 en 50 jaar uit te dien, en 37 vonnisse van 51 jaar of langer.

Tuhafeni Berendisa Kutamudi het byvoorbeeld die groen lig gekry om teen sy vonnis van 85 jaar tronkstraf vir driedubbele moord te appelleer. Die straf is in 2005 opgelê. Hy sou eers ná 56-en-'n-half jaar vir parool gekwalifiseer het.

Ander vonnisse wat in 2018 op rekord geplaas is, is die 110 jaar wat die kinderverkragter Quinton Pieters in 2015 opgelê is en Sylvester Beukes, wat 105 jaar tronkstraf gekry het nadat hy agt mense vermoor het.

Sy broer, Gavin Beukes, is tot 84 jaar gevangenisstraf gevonnis, terwyl Jeckonia Hamukoto tronkstraf van 90 jaar uitdien vir 'n driedubbele moord.

Die hooggeregshof het benadruk parool word nie outomaties toegestaan nie en die nasionale paroolraad moet oortuig wees dat oortreders aan die vereistes voldoen.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!