Halfmiljoen kry voete
Halfmiljoen kry voete

Halfmiljoen kry voete

Shikwambi het die afgelope week 'n beroep gedoen op werknemers om op te hou om met derde partye saam te werk en hul werkgewers te beroof.
Denver Kisting
Denver Kisting



Binne een week is bykans 'n halfmiljoen dollar se kontant tydens twee rooftogte in die hoofstad gebuit.

Teen gistermiddag is daar nog geen sent van die totale N$470 00 teruggevind nie.

Meer as N$220 000 is verlede naweek by Sportklub Windhoek (SKW) tydens 'n inbraak gesteel.

Daarnaas het komm. Silvanus Nghishidimbwa, die polisiebevelvoerder in die Khomasstreek, gister ook bevestig geen verdagte is al in verband met dié misdade aangekeer nie.

Die SKW-diefstal is verlede Maandagoggend ontdek, sê die senior polisiebeampte.

Volgens Nghishidimbwa het tussen sewe en agt mans verlede Sondagnag twee opsigters by hul aangrensende woning aangerand.

Hulle het een van dié twee broers vasgebind en die ander een beveel om die klubperseel te gaan oopsluit.

Toe hulle na wat verneem word besef die een opsigter het nie 'n sleutel vir die kluis nie het hulle hom by sy broer in die hoofhuis gaan vasbind.

Die verdagtes het toe die kluis gaan oopbreek en die geld geplunder. Hulle het daarná op die vlug geslaan.

Die opsigters is Maandagoggend vasgebind en erg aangerand op die toneel aangetref, het Nghishidimbwa gesê.

SKW se bestuurder, me. Sonja Ebrecht, het gister gesê die bedrag van N$220 000 is nie akkuraat nie.

Volgens haar was dít die geskatte bedrag die oggend toe die inbraak ontdek is.

Sy het verseg om enige verdere besonderhede te verstrek.

Nghishidimbwa het gistermiddag gesê SKW het intussen die bedrag wat voete gekry het, hoër geskat.

Hulle moet egter glo nog hul berekeninge afhandel om te bepaal presies hoeveel die bedrag beloop.

slaghuis beroof

Van die verdagtes wat 'n kwartmiljoen dollar glo die naweek in Khomasdal gesteel het, is daar ook steeds geen teken nie.

Nghishidimbwa het gister gesê geen verdagte is al in verband met die naweek se rooftog in Hans Dietrich Genscherstraat aangekeer nie.

Hoofinsp. Kauna Shikwambi, 'n polisiewoordvoerder, het vroeër gesê die beweerde voorval het Vrydag omstreeks 18:19 by Randstraat-slaghuis plaasgevind.

In dié stadium word beweer 'n 30-jarige man het die sakeperseel verlaat met kontant ten bedrae van N$250 000 in sy besit.

Nadat hy glo die geld op die passasiersitplek neergesit het, het hy na die bestuurderskant beweeg.

Terwyl hy glo besig was om op die sitplek plaas te neem, het drie onbekende mans, wat met pistole gewapen was, uit 'n silwer Toyota Corolla sonder nommerplate gespring.

Die mans het glo die man se voertuig bestorm en 'n skoot in die lug afgevuur. Hierna het die verdagtes glo die geld, 'n skootrekenaar en 'n selfoon gegryp voor hulle op die vlug geslaan het.

'n Video oor dié beweerde voorval is wyd op sosialemediaplatforms gedeel.

Shikwambi het die afgelope week gesê werknemers moet ophou om hul werkgewers saam met derde partye te beroof. Volgens haar dui die voorval op georganiseerde misdaad.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!