Hamburg soek boskrag
Indien Namibië sy kaarte reg speel, kan sy indringerbos help om groot geleenthede op die wêreldmark te ontsluit.
Elvira Hattingh - Hamburg, in Duitsland, wil kragopwekking met steenkool en gas in dié stad staak en eerder van Namibiese indringerbos, ’n hernubare en volhoubare bron, gebruik maak.
Die stad sal sowat 9,8 miljoen ton houtskerwe per jaar benodig om drie kragopwekkingsaanlegte aan die gang te hou met ‘n gesamentlike kapasiteit van 2,2 gigawat.
Beleidsmakers is glo reeds besig om te bereken wat dit sal kos om houtskerwe na die Hamburg-hawe te vervoer.
Namibiese belangegroepe het gister saam met verskeie Europese sakelui ‘n biomassa-konferensie in Windhoek gehou om beleggingsgeleenthede vir die bou van biomassa-nywerheidsparke in Namibië te ondersoek.
Tydens die geleentheid is daar ook op nasionale en internasionale bemarkingsgeleenthede vir hierdie produkte gefokus en bepaal watter vooruitsigte vir die kommersiële gebruik van Nambiese biomassa-produkte, naamlik indringerbos, bestaan.
Dr. Peter Heck van die Institute for Applied Material Flow Management (IfaS) in Duitsland, het besoekers aan die bou van biomassa-nywerheidsparke bekend gestel, wat as waardevolle afsetpunt vir Namibiese indringerbos kan dien.
Hy het gesê Hamburg wil die gebruik van gas en steenkool vir die opwekking van elektrisiteit en hitte teen 2030 heeltemal opskort. Teen 2025 wil hulle reeds ‘n alternatiewe bron vir die opwekking van hitte hê.
“Aanvanklik was Hamburg se besluitnemers huiwerig om van biomassa-produkte uit Afrika gebruik te maak, want die opvatting bestaan die verkryging van hout uit Afrika beteken hulpbronne word nie volhoubaar gebruik nie.
“Ons moes verduidelik Namibië se omstandighede is uniek en hierdie biomassa-produk moet gebruik word – en baie daarvan.
“Hulle het toe aanvaar die verbruik van hierdie bron is ekologies en maatskaplik geregverdig. Tans word kostes bespreek, soos oner meer die koste van die vervoer van die skerwe na Hamburg se hawe.”
BESLUITE BINNEKORT GENEEM
Heck sê Hamburg se bestaande aanlegte, Wedel, Tiefstack en Moorburg, moet in die toekoms na die gebruik van houtskerwe eerder as steenkool oorskakel.
“Die enigste probleem is hierdie oorskakeling moet binne die volgende drie tot vier jaar plaasvind. Dié besluite word vanjaar gemaak, dus moet ons ons idees, bestuursvernuf en vaardighede vanjaar na die beleidmakingsproses laat deursypel,” het hy gesê.
Heck het verduidelik die gebruik van houtskerwe gaan uiteindelik goedkoper as steenkool of gas vir kragstasies wees.
Hy het ook voorgestel ‘n eerste biomassasentrum, of biosentrum, word naby die Ohorongo-sementfabriek gebou omdat dit naby ’n treinspoor en paaie geleë sal wees, en naby genoeg aan produsente is.
Té GROOT OM TE IGNOREER
Heck sê Namibië se probleem met indringerbos raak al groter, en hoewel Namibiërs reeds stappe doen om die probleem aan te spreek, is dit onvoldoende.
Hy sê Namibiërs moet professioneel te werk gaan en “op groot skaal” dink.
“As jy na die wêreldmark vir biomassaprodukte kyk, het Namibië unieke moontlikhede.
“Dis uniek, want julle mag daarvan gebruik maak. Om die waarheid te sê – julle móét daarvan gebruik maak, terwyl ander se hulpbronne baie sensitief is,” het Heck gesê.
Volgens beskikbare inligting beskik Namibië oor 330 miljoen ton indringerbos, wat, indien dit ontgin word, tot 6,9 Gigawat elektrisiteit kan opwek, 45 000 werksgeleenthede kan skep en Namibië kan help om op nasionale vlak 7 ha landbougrond per kop te herwin.
Die verlies aan drakrag kos die land tussen N$1,4 en 1,6 miljard per jaar. Terselfdertyd is dié indringerbos dórs en veroorsaak dit reuse- evapotranspirasie. Heck meen al die water wat só verlore gaan, sou 13 140 Hardapdamme kon vul.
BIRKENFELD-KAMPUS AS VOORBEELD
Heck het vertel van Duitsland se “zero-emissie-universiteit”, die Birkenfeld-kampus, waar afvalhout saam met huishoudelike afval gebruik word om ‘n universiteit van biogas en gevolglik hitte en elektrisiteit te voorsien, asook om kunsmis vir plaaslike wynboere te maak.
“Twintig jaar gelede het mense ons vertel so ‘n projek is onmoontlik en niemand anders het dit al gedoen nie. Vandag volg mense ons voorbeeld,” het hy gesê.
Heck sê in Duitsland bestaan ‘n groot mark vir biomassaprodukte waartoe Namibië met indringerbos sal kan toetree indien dit ‘n ekonomie van skaal kan bou.
Dit sluit in ‘n mark vir houtskerwe, houtskool, brikette en biochar.
Heck sê in Europa en spesifiek Duitsland sal regerings hul beleide só opstel dat dit klimaatsverhitting beperk.
“Die heffing van belasting op CO2-uitlaatgasse word ernstig oorweeg, wat beteken brandstowwe wat van fossiele gemaak word, sal in die toekoms duurder as Namibiese houtskerwe wees.”
Hy sê boonop kyk verskeie nywerhede daarna om in die toekoms van hernubare energiebronne gebruik te maak.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie