HAN vier 30ste bestaansjaar
HAN vier 30ste bestaansjaar

HAN vier 30ste bestaansjaar

Die Gasvryheidsvereniging van Namibië bereik vanjaar 'n groot mylpaal.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN) gaan sy 30ste bestaansjaar tydens 'n galadinee, kongres en handelsforum op 23 en 24 November by die Safari Hotel in Windhoek vier.

Volgens me. Gitta Paetzold, HAN se uitvoerende hoof, sal tydens die vieringe teruggekyk word in die verlede, "maar die toerismebedryf moet ook na die toekoms kyk om volhoubare toerismeontwikkeling in Namibië te hersien en te herdink".

Paetzold het Dinsdag (7 Nov) in Windhoek gesê Namibië het die afgelope twee jaar van die hoogste besoekergetalle ooit beleef.

"Die toerismebedryf, die wêreld en tegnologie verander vinnig en daar moet by ontwikkeling aangepas word om sukses te verseker. Die massiewe groei in toerisme in Namibië vereis deeglike hersiening en strategiese beplanning om voortdurende en volhoubare groei te verseker," het Paetzold gesê.

Dit maak vanjaar se HAN-kongres nóg belangriker en daarom het vennote soos Namibia Breweries Limited (NBL), Standard Bank Namibia en Bannermann Resources as borge hul hande diep in die sakke gesteek.

NBL het Maandag (6 Nov) N$130 000 aan mnr. Shepherd Chinnoi, HAN se direksievoorsitter, geskenk. Standard Bank Namibia het N$80 000 en Bannermann Resources N$55 000 geskenk.

Mnr. Wessie van der Westhuizen, die NBL se besturende direkteur, het gesê Namibië is 'n fantastiese handelsmerk.

"Pres. Donald Trump het Namibië 'n guns gedoen deur na ‘Nambia’ te verwys, maar die handelsmerk waarop ons moet bou, is Namibië," het Van der Westhuizen gesê.

"NBL is al die afgelope 27 jaar vennote, nee familie, van HAN deur volhoubare toerisme te bemark. Die bemarking van die handelsmerk Namibië is 'n sleutelelement van sukses," het hy gesê.

"Ons moet egter ons waarde verhoog en voortdurend vernuwe en transformeer om bo ons mededingers uit te styg."

NBL ondersteun plaaslike toerisme met onder meer die Red die Renoster-veldtog, jagluiperdbewaring, TV-programme soos Groen: Namibië op kykNET en Wild Jobs Namibia op NBC wat deur Windhoek Lager geborg word, en 'n opvoedkundige veldtog by die Namibië Toerisme Ekspo (NTE) geborg deur Tafel Lite.

NBL is ook 'n vennoot van Intelligence Support Against Poaching (Isap) en die Visrivier-ultramarathon.



Mnr. Manus Grobler, hoof van Standard Bank se strategiese sektor, het gesê die bank erken die belangrike rol wat toerisme in die Namibiese ekonomie speel en dat dit 15% tot die bruto binnelandse produk bydra.

"Daar is geen twyfel dat toerisme in Namibië blom nie - veral aan die einde van die jaar. Groei in die toerismebedryf word vir 2018 verwag en sal in die medium termyn stabiel bly," het Grobler gesê.

Namens die besturende direkteur van Bannermann Resources, mnr. Werner Ewald, het me. Matjiua Hengua gesê toerisme is almal se verantwoordelikheid.

"Dit is moeilike ekonomiese tye, maar die beste diens moet gelewer word."

By HAN se kongres en handelsforum sal die toerismebedryf die geleentheid kry om met die bekende internasionale fasiliteerder Saffron Baggallay skouers te skuur. Die tema vir vanjaar se galadinee is denim en diamante met Elvis se Seun en kulkunstenaar Larry Soffer as gaskunstenaars.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!