Hande op, wie is nie oukei nie?
Hande op, wie is nie oukei nie?

Hande op, wie is nie oukei nie?

[email protected]
Yolanda Nel
Yolanda Nel – Dit mag dalk 2021 wees, maar dit voel vir my daar is nog so veel taboes waaroor ons net nie mág praat nie; maak nie saak hoeveel mense dit beïnvloed nie.

Ek is daarom dankbaar daar is wel mense wat die moed het om die stigma rondom van dié taboes te verbreek; die grootste is seker ons geestesgesondheid. Gimnas Simone Biles het haar hand opgesteek tydens vanjaar se Olimpiese Spele en gesê: “Jammer, ek kan nie meer nie. Die druk is net té veel. Ek voel nie goed nie.”

Brent Draper wat ’n deelnemer aan Masterchef 2021 was, het presies dieselfde gedoen. Sy kop is nie daar nie. Hy mis sy vrou en sy kind. Die spanning raak te veel. Hy verloor homself in die proses.

Met so veel druk wat op ons skouers rus, is die eie ek nogsteeds die belangrikste persoon in ons lewe. Hoe kan ons goeie mans en vroue vir ons maat, ons kinders, ons familie en vriende wees, as ons nie oukei is nie? Dit is mos onmoontlik. Jy kan nie vloeistof uit ’n leë kan tap nie.

Maar geestesgesondheid is nie net vir diegene wat aan die Spele of aan ’n realiteitsprogram deelneem of ’n bekende daar doer ver nie. Ek het dit, jy het dit en almal rondom jou ook, en ons moet dit voed, voor dit ons begin verteer.

Ons mag dit hardop sê. Ons moet. Ek het self ’n paar weke terug in die hospitaal beland, want stres is ’n seer wat jou van binne af vreet. Die waarheid is, ons kan net vir só lank voorgee. Ons liggame gaan ingee en vir ons skree, hokaai, dit is nou tyd om stil te staan en te rus, want jy gaan uitbrand.

Ons moenie na ander kyk en dink hy of sy het minder op sy spreekwoordelike bord as jy nie. Iemand het dit onlangs so mooi aan my verduidelik. Jou bord is dalk groter en ’n ander s’n dalk kleiner. Sy bord is dalk ’n papierbord en kan nie te veel gewig hanteer nie. Dit maak nie van ons sterker of swakker mense nie. God weet presies hoeveel ons kan hanteer. Hy sal nie toelaat dat ons verdrink in ons ellende nie.

Net jy weet hoe om na jouself om te sien. ’n Beker warm koffie, ’n uitstappie na die spa, om met jou kinders te speel, of om regtig vrede voor die stoof te put. Doen dit alles, en doen dit so gereeld soos wat dit nodig is.

Ek sê dit weer, ons kan nie na ander omsien as jy self nie oukei is nie. Jou familie en vriende is jou ondersteuningsnetwerk; hulle is daar vir jou. As dinge te veel raak, druk op hulle knoppie. Hulle gaan jou moontlik nie kan help met wat in jou kop aangaan nie, maar hulle is daar om in te spring en na jou kinders te kyk of gou vir jou by die winkel te stop om te gaan melk koop. Net sodat jy ’n blaaskans kan vat; sodat jy kan asem skep.

Nou skuif jou kroon reg. Sterk mense het ’n ook met tye ’n rustydjie nodig. Dan drink ons ’n koffie of ons vat ’n middagslapie, maar môre kom ons terug; sterker as óóit.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer