Hande, tande, ‘blinde’ blasers: Vyf WB-skandale
Sokker
Gert van der Westhuizen - Skandes en skandale was die afgelope 88 jaar deel van elke Wêreldbeker-sokkertoernooi en vanjaar s’n sal beslis sy kwota omstredenheid oplewer.
Een aspek waaroor van die begin af gereeld gekla is, was “skelm” of “blinde” skeids- en lynregters. Daaroor sal ’n mens boeke kan skryf.
Die Tsjeggiese doelwagter van 1934, František Plánicka, het dekades ná 1934 se eindstryd nog oor die skeidsregter gebrom. Dié het glo volgens hom vooraf by Italië se fascistiese diktator, Benito Mussolini, in sy losie gekuier waar hy aangesê is hoe om te blaas.
Skandale in die raadsale was daar ook meer as genoeg van. As ’n mens daaroor wil skryf, sal jy besig bly tot die volgende Wêreldbeker-toernooi in Katar – wie se aanwysing as gasheerland juis een van die skandale is.
Daarom is dit beter om maar te hou by van die omstrede gebeurtenisse op die veld in die onlangse verlede.
1. Die Duitse nie-aanvalsverdrag van 1982.
Algerië het in 1982 se toernooi in Spanje, sy eerste ooit, gewys dat sokker in Afrika lankal nie meer ’n grap was nie toe hy die magtige Wes-Duitsland met 2-1 geklop het.
Dit het tot ’n gefladder in groep II se duiwehok gelei en daar was selfs ’n kans dat die Duitsers nie tot die tweede ronde sou deurdring nie.
Hulle het toe met hul Duitssprekende buurland, Oostenryk, gesels oor die laaste wedstryd in dié groep. Duitsland het vroeg ’n doel aangeteken om met 1-0 voor te loop en daarna het die twee spanne die bal doelloos rondgeskop totdat die eindfluitjie geblaas het.
Duitsland se oorwinning het beteken dat hy en Oostenryk danksy ’n beter doeleverskil ten koste van Algerië deurgedring het.
In die Internasionale Sokkerfederasie (Fifa) se amptelike rolprent oor dié toernooi noem die bekende akteur Sean Connery die uitslag van dié wedstryd in sy kommentaar ’n nie-aanvalsverdag tussen Duitsland en Oostenryk.
Ander waarnemers het gepraat van ’n Anschluss (verwysend na Duitsland se anneksasie van Oostenryk voor die Tweede Wêreldoorlog) en Michael Hidalgo, Frankryk se afrigter, het geskerts dat hulle die Nobelprys vir Vrede moet kry.
Algerië was uiteraard briesend, maar die sokkerowerhede het hulle doof gehou vir sy vertoë om iets aan dié verneukspul te doen.
Wes-Duitsland het uiteindelik tot die eindstryd deurgedring waar hy met 1-3 teen Italië verloor het.
Dié wedstryd het Fifa later laat besluit dat die laaste groepwedstryde almal op dieselfde tyd moet plaasvind sodat uitslae nie beknoei kan word nie.
2. Duitse boewery
Mense wat deesdae se aanskoulike Duitse sokker (met reg) bewonder, sal seker nie glo dat dié land se sokkerspanne in die 1980’s vir al die verkeerde redes op die voorblaaie was nie. Hulle het vervelige sokker gespeel en nie geskroom om gemene spel in te span as dit hulle gepas het nie.
Daar is seker geen beter voorbeeld van sulke vuilspel as die doelwagter Harald Schumacher se aanval op Frankryk se Patrick Battiston in 1982 se een halfeindstryd nie.
Battiston is as plaasvervanger opgestuur toe hy ’n bal naby die Duitse doelgebied agterna gesit het.
Schumacher het uit sy doelhok gestorm, hom glad nie aan die bal gesteur nie en Battiston eenvoudig platgeloop.
Schumacher het twee van Battiston se tande met sy voorarm uitgeslaan en die Fransman het op die naat van sy rug bly lê.
Brian Glanville skryf in sy omvattende geskiedenis van Wêreldbeker-toernooie dat daar selfs vir Battiston se lewe gevrees is. Hy kon ook nie dadelik behandeling kry nie omdat die polisie in Sevilla die Rooikruis die stadion verbied het.
Schumacher het gemaak asof niks gebeur het nie en die wedstrydbeamptes was ook blind. Hy is glad nie gestraf nie.
Battiston is afgedra en moes vervang word.
Volgens Glanville was dié voorval dalk ’n keerpunt in die wedstryd. Dit het uiteindelik ná bykomende speeltyd met 3-3 gelykop geëindig en die Duitsers het (soos gewoonlik) die gevolglike strafdoelstryd gewen.
Maar min mense buite Wes-Duitsland het ’n week later ’n traan gestort toe Italië vir Schumacher en sy makkers in die eindstryd geklop het.
3. Die ‘Hand van God’
Die Falkland-oorlog van 1982 was nog vars in die Argentyne se geheue toe hul geliefde sokkerspan die Engelse oorwinnaars vier jaar later in ’n Wêreldbeker-kwarteindstryd in Mexiko-stad gepak het.
Die Argentyne was vasbeslote om op die sokkerveld wraak te neem vir ’n nederlaag op die slagveld. Alles sou ingespan word, selfs die linkerhand van Diego Maradona.
Die briljante Maradona het sy span se eerste doel aangeteken deur die bal met die vuis oor die kop van Peter Shilton, die Engelse doelwagter, in die doelhok te stamp.
Die wedstrydbeamptes het dit nie raakgesien nie en die doel toegeken.
Maradona het agterna gesê dié doel is met die “Hand van God” aangeteken.
Hy voel steeds nie sleg daaroor nie en sal ook nooit daaroor wakker lê nie. Een rede is dat hy meer as een doel in sy loopbaan op dié manier aangeteken het.
’n Tweede is dat hy daarmee en met sy tweede doel, een van die bestes in die geskiedenis van sokker, hulde gebring het aan die Argentynse soldate wat in die oorlog dood is.
“(Lionel) Messi is dalk beter as ek of dalk nie. Ek het twee doele teen Engeland aangeteken, doele wat hulde bring aan die seuns wat op die Malvinas (die Argentynse naam vir die Falkland-eilande) dood is en hul gesinne. Ek het vir hulle ’n mate van vertroosting gegee en niemand anders nie – niemand nie – sal dit kan doen nie.”
Vier jaar later in die toernooi in Italië het Maradona sy ander hand ingespan om die bal uit die Argentynse doelhok te hou in ’n groepwedstryd teen die Sowjet-Unie.
Die wedstrydbeamptes was ook dié keer salig onbewus daarvan.
4. Die ‘Hand van die Duiwel’
Luis Suárez, Uruguay se briljante doelskieter, het in 2010 se toernooi ook die hand gebruik om die bal uit sy doelhok te hou.
Ghana, of BaGhana BaGhana soos Suid-Afrikaanse ondersteuners hulle genoem het, is dié keer beroof. Suárez se oortreding is raakgesien en hy is met ’n rooikaart afgestuur.
Asamoah Gyan, wie se doelpoging Suárez gekeer het, het egter misluk met die strafskop wat toegeken is.
Dié kwarteindstryd het ná bykomende tyd met 1-1 gelykop geëindig en Uruguay het die strafskopstryd gewen om tot die halfeindronde deur te dring.
“Dit was die moeite werd om op dié manier afgestuur te word,” het Suárez gesê, “want daar was in daardie stadium geen ander keuse nie. Dit is ’n wonderwerk ... ”
Volgens Suárez was dit ’n moeilike wedstryd en het Uruguay tot aan die einde gesukkel, “maar nou is die hand van God myne”.
Suárez was ’n held in Uruguay.
Milovan Rajevac, Ghana se Serwiese afrigter, het die saak ietwat anders gesien. “Watter hand van God? Dit was die hand van die Duiwel. Watter held? Suárez is ’n vulgêre verneuker.”
5. Die kannibaal van Natal
Ondanks sy briljantheid kan Suárez, deur ondersteuners met die selfverduidelikende bynaam El Pistolero gedoop, skynbaar net nie uit die moeilikheid bly nie.
Hy het onder meer doele by die dosyne vir Liverpool in die Engelse Premierliga aangeteken, maar in 2013 is Suárez vir tien wedstryde geskors omdat hy Chelsea se Branislav Ivanovic gebyt het.
Dié skorsing het hom blykbaar nie afgeskrik nie, want in 2014 se Wêreldbeker-toernooi was hy in groot moeilikheid vir dieselfde oortreding.
Dié keer was sy slagoffer Italië se Giorgio Chiellini, wat in die 78ste minuut van die laaste wedstryd in groep D in die Brasiliaanse stad Natal gebyt is.
Italië se grootste sportkoerant het Suárez “Signore dei morsi” (die bytkoning) genoem. The New York Post se opskrif het met die naam van ’n bekende Italiaanse koswinkel gespeel: “Eataly”.
Koerante het met sielkundiges gepraat oor Suárez se bytery en daar is bespiegel dat dit die gevolg van trauma uit sy kinderdae vanweë sy ouers se egskeiding kan wees.
Fifa het Suárez vir nege internasionale wedstryde geskors en vir vier maande uit alle sokker verban. Hy is ook met 100 000 Switserse frank beboet.
Suárez het ook dié terugslag oorkom en draf deesdae vir die Spaanse spogklub Barcelona uit.
Maar wie weet waarmee hy vanjaar vorendag gaan kom. Uruguay, en die wêreld, hou asem op. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie