Hande uitgesteek na die ergste nood
’n Werklose ma en dogter droom daarvan dat hul werk sover uitgebrei kan word om waar nodig skenkings spoedig en landswyd te kan doen.
Tanja Bause
Maria Shikongo en haar dogter Niita het onlangs kospakkies vir 18 huishoudings in die informele nedersettings van Windhoek geskenk wat nou deur die Covid-19-pandemie geraak is. Dit alles terwyl sy self werkloos is.
“Ek is al vir vyf jaar werkloos, maar ek het besef dat ek nog steeds meer welaf is as vele ander in die land, veral mense wat uit arm huishoudings of uit gemarginaliseerde gemeenskappe kom. Ek voel dis my plig om hulle te help sover as wat ek kan.”
Haar nuutste skenking was maar net die oortjies van ’n seekoei. Sy het al talle skenkings aan die gemarginaliseerde San- en Ovahimba-gemeenskappe deur haar Kwatha Charity gegee.
Maria is in Okahao in die noorde van Namibië gebore en het daar skoolgegaan.
“My ouers het Oranjemund toe getrek toe ek in graad 10 was. Ek was in ’n streng Engelse skool wat ons kinders vir twee jaar wou terughou, maar my pa wou niks daarvan weet nie. Ek het dus met my ouer susters en broers agtergebly en skool in die Noorde klaargemaak.”
Ná skool het sy in Kaapstad gaan studeer waarna sy na Oranjemund verhuis en daar begin werk het.
“In 2000 het ek Windhoek toe getrek en by die hoofkantoor van Namdeb begin werk. Ek het ’n jaar later in die huwelik getree en toe my man deur sy werkgewer na die Verenigde Koninkryk verplaas is, is ek natuurlik saam.”
Die egpaar het vier jaar daar gewoon, voordat hulle weer vir twee jaar terug in Windhoek was. Hierna is hulle na Kuala Lumpur in Maleisië verplaas.
“In Maleisië mag uitlanders nie werk nie, behalwe as jy ’n spesiale vaardigheid het. So ek het verveeld begin raak en planne begin maak om myself besig te hou. Ek wou by die Rooi Kruis as ’n vrywilliger werk, maar dit was baie ver van waar ons gewoon het.
“Ek het agtergekom dat mense soos ons wat vir ’n paar jaar daar werk en woon wanneer hulle terug huis toe gaan baie van hul goed soos boeke en klere weggooi. Ek het aan al die arm mense, veral die Ovahimba en San, gedink wat sulke items kan gebruik en in 2013 het ek begin om die items in te samel. Ek het by verskillende vrouegroepe aangesluit en toesprake vir hulle gelewer. Ek het vir hulle van my mense vertel en wat die behoeftes in my land is. En mense het begin gee,” het sy gesê.
Maria het besluit om die twee gemeenskappe te help omdat hulle baie kere vergeet word en hulp dikwels nie by hulle uitkom nie.
“Dit vat baie tyd en moeite om gemeenskappe só diep in die bos te help. Dit is veel makliker om eenvoudig die klere in Katutura te gaan aflaai. Almal doen dit en dié mense word gereeld ondersteun, wat ook reg is, almal het hulp nodig, maar die mense wat so ver uit die hoofstad is, kry baie min en het baie hulp nodig,” verduidelik Niita.
Maria het by die afdeling vir gemarginaliseerde gemeenskappe in die kantoor van die adjunkpresident om raad gaan aanklop.
“Ek het al die klere en boeke, maar omdat ek werkloos is, het ek nie ’n voertuig gehad om die items te kan vervoer nie. Hulle het vir my ’n voertuig en ’n bestuurder gegee en ons is Opuwo toe om die skenkings te oorhandig. Dr. Libertine Amadhila het ’n skool in ’n Ovahimba-nedersetting buite Opuwo gehelp bou en ons het ons eerste skenking van klere, boeke, speelgoed en waspoeier daar gaan uitdeel.
“Dit is ongelooflik om ’n kind of volwassene wat nog nooit ’n skoen gedra het nie, te sien sy eerste skoene aantrek en dra. Om ’n kind se gesig te sien wanneer sy haar eerste speelding vashou. Die trane het oor my gesig gestroom. Dit is wat my dryf om aan te gaan om meer te wil doen. Die mense is só dankbaar.”
Nadat sy van Opuwo teruggekeer het, het sy van die San-gemeenskap in die Amarika nedersetting en hul nood gehoor. Sy het saam met die koningin van die Ongandjers, Adelheid Mupiya, dié gemeenskap gaan besoek.
Sy was nou ook al twee keer in Tsumkwe waar sy ook waspoeier aan die vroue uitdeel en hulle oor higiëne leer.
“My hart is in Tsumkwe; ek is baie lief vir die mense daar.”
Tussendeur versamel sy klere, boeke, speelgoed en skoene plaaslik van vriende en familie.
“Die woord het versprei en wanneer mense hul klere wat nie meer pas nie of wat bietjie oud is wil uitgooi, dan skakel hulle my en ek maak dit bymekaar totdat daar genoeg is om weer by die San of Ovahimba te gaan aflewer. Mense is welkom om enige artikels wat hulle nie meer wil hê of gebruik nie, vir my te gee. Ek sal sorg dat dit by die regte mense uitkom.”
Maria aanvaar geen geld nie en as mense wil gee, word hulle aangemoedig om die komberse, klere of speelgoed self te gaan aankoop en dit vir haar te gee.
SOPKOMBUIS
Elke Woensdag is Maria ook betrokke by ’n sopkombuis van haar kerk, die Hosianna Lutherse gemeente in Katutura.
“Ons kook ’n gesonde bord kos vir tussen 60 en 80 kwesbare mense. Veral oumense en mense op medikasie kom eet elke week by ons.”
Die sopkombuis word gedeeltelik deur die kerkoffers ondersteun. Kerklede bring egter ook kos soos aartappels en rys bo en behalwe die kollekte wat hulle Sondae gee.
“Ons het ook ’n tuin waarin die mense van die gemeenskap wat kan, werk en kos plant. Verlede jaar het ons nie baie geplant nie omdat dit nie baie gereën het nie. Vanjaar het ons wel geplant, maar weens die Covid-19 hoktyd is daar nou niemand om na die tuin om te sien nie.”
DROOM
Maria se droom is om ’n gebou te besit waarin al die klere gesorteer en gebêre word.
“Die klere moet volgens geslag en ouderdomsgroep gesorteer wees. As dan byvoorbeeld iemand se sinkhuis in Keetmanshoop afbrand, kan iemand ons skakel en vir ons die ouderdomme en geslagte gee van die mense wat geraak is. Ons gaan haal die klere uit die rakke en stuur dit onmiddellik soontoe en binne ’n dag het die mense ten minste weer klere. So kan ons almal wat in erge nood is baie vinnig in die hele land help.
“As jy iets in die lewe wil doen of gee, gee dit jou alles. Verandering gebeur nie in een dag nie, maar bietjie vir bietjie kan ons die lewens van die mense verander en beter maak.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie