Handel word brandpunt in VSA-verkiesing
Trump kan wêreldresessie veroorsaak
Vida Booysen - Amerika sal nie meer ’n wêreldleier op die gebied van handel wees as Donald Trump tot president verkies word nie en dit kan tot die verlies van vier miljoen werkgeleenthede lei. Dié waarskuwing kom van Paul Drazek van DTB Associates, ’n kenner van internasionale handel en landboubeleid.
Hy het in ’n aanbieding oor handelsvooruitsigte ná die presidentsverkiesing aan Suid-Afrikaanse joernaliste in Washington gesê dis die eerste keer dat handel ’n brandpunt in die presidentsverkiesing geword het.
Hy meen ook daar was nog nooit tevore so ’n groot kloof tussen die Republikeine en die Demokrate oor die beginsel van vryehandel nie.
“Handel was tradisioneel nog altyd ’n gebied waar die twee partye kon saamwerk en jy kon op genoeg steun van sowel Demokrate as Republikeine reken om wetgewing deur die kongres goedgekeur te kry.”
Sedert die 1990’s het die twee partye se standpunte al meer uiteenlopend geraak en al meer teenstand (uit die geledere van albei partye) teen internasionale vryehandelsooreenkomste is ondervind. Hulle werk aktief saam teen ooreenkomste soos die Trans-Pasifiese Vennootskap (TPP) wat pres. Barack Obama probeer finaliseer voordat sy termyn eindig.
“Donald Trump het die tradisionele Republikeinse posisie oor handel nou totaal omgekeer met sy aggressiewe retoriek oor internasionale handel,” sê Drazek.
Vryehandelsooreenkomste
Trump het sy steun op voetsoolvlak gaan soek by die Republikeinse ondersteuners wat die sogenaamde “Amerika-eerste”-standpunt handhaaf, waar Republikeinse partyleiers en die sakegemeenskap tradisioneel ten gunste van vryehandel is. Hy het sterk kritiek uitgespreek teen jarelange vryehandelsooreenkomste sowel as die nuwes wat onderhandel word.
In byna elke toespraak kritiseer Trump hierdie ooreenkomste as “rampe wat deur dom mense onderhandel is,” maar die ironie is dat die meeste van hierdie ooreenkomste deur Republikeine onderhandel is, veral deur die eerste pres. George Bush, sê Drazek.
“Ek dink nie Trump besef dit nie – of indien hy dit wel weet, gee hy nie om nie.”
Die teenstand in Amerika teen internasionale handelsooreenkomste is des te meer onverstaanbaar aangesien die Amerikaanse ekonomie heelwat baat daarby gevind het, sê Drazek.
In navorsing deur die Peterson-instituut vir internasionale ekonomie wat ’n maand gelede uitgereik is, is bevind dat reële inkomste in dié land 9% hoër is danksy al die pogings sedert die Tweede Wêreldoorlog om vryehandel te vestig. Indien weggedoen word met oorblywende internasionale handelsversperrings, sal die voordeel wat Amerika geniet, met ’n verdere 50% styg.
Vryehandelsooreenkomste verminder die versperrings wat teen Amerikaanse uitvoer opgerig word. Dit is ook uiters voordelig vir Amerikaanse landbouprodukte, sodat dié land deurlopend ’n handelsoorskot kon aanteken met heelwat meer landbouprodukte wat hy uitvoer as wat ingevoer word.
Hy gee toe dit is moeilik om te voorspel wat die toekoms vir Amerikaanse handel onder ’n Trump-administrasie sal inhou, want “Trump sê hy gaan baie goed vaar, maar dis nie seker of hy dit kan deurvoer nie”.
Trump sal volgens Drazek enige terugkrabbeling van sy posisie teen wêreldhandel as ’n teken van swakheid beskou, dus gaan hy waarskynlik volstoom voortgaan om die land aan vryehandelsooreenkomste te onttrek.
Dít plaas Amerika uit die prentjie in ’n wêreld waar al meer vryehandelsooreenkomste beding word en lande onder mekaar teen baie gunstige tariewe gaan handel dryf. “Maar nie ons nie. Ons sal die hoër tariewe moet betaal. Die landbousektor verstaan dit, die sakewêreld verstaan dit en die enigste ouens wat dit nie verstaan nie, is die politici.”
Indien Clinton verkies word, glo Drazek sy sal Amerika se posisie as die wêreld se handelsleier probeer handhaaf en om proteksionistiese maatreëls te probeer vermy. Indien Trump verkies word, kan sy onmiddellike beëindiging van huidige onderhandelings oor TPP asook die onttrekking van Amerika aan ooreenkomste wat reeds beklink is, groot skade aan nie net Amerika se ekonomie aanrig nie, maar ook aan die wêreldekonomie.
Trump het ook aangedui dat hy teenstortingstariewe gaan hef teen lande wat volgens hom hul geldeenhede manipuleer. “Hy sal self besluit wie daardie lande is en ek dink hy sal vind dat China een van daardie lande is. Onder die huidige regulasies van die Wêreldhandelsorganisasie mag hy nie so iets doen nie, dus sal hy met dié organisasie se strafmaatreëls moet saamleef.”
Volgens Drazek het die Trump-kamp reeds aangedui indien dit sou gebeur, sal Amerika aan die Wêreldhandelsorganisasie onttrek. Drazek wys op die Peterson-instituut se voorspelling dat indien Trump al die dreigemente oor sy handelsbeleid uitvoer, dit die ekonomie teen 2019 in ’n resessie sal dompel en die werkloosheidskoers sal met 8,7% toeneem.
“Amerika sal nie meer ’n wêreldleier op die gebied van internasionale handel wees nie en ons kan die res van die wêreld saam met ons in ’n resessie inneem.”
-Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie