Handelsektor sê ja vir voedselbank
Elvira Hattingh
Plaaslike handelaars is toegewyd daartoe en gewillig om bydraes tot die voedselbank te maak, maar vra dat sekere uitdagings uitgeklaar moet word en dat ’n duidelike plan vir voedselverskaffing voorgelê sal word.
President Hage Geingob het Maandag met onder meer verteenwoordigers in die landbou- en handelsektore vergader en gevra dat dié sektore hulle daartoe sal verbind om met die voedselbank te help.
Geingob het gesê hy is baie beïndruk met die reaksie wat hy in verband met die voedselbank gekry het.
“Alle Namibiërs wat hierheen gekom het, het die idee aangegryp. Landbouprodusente is ook gewillig om te help, mits bydraes nie verpligtend is nie,” het hy tydens ’n tweede vergadering op die dag met die handelsektor gesê.
Die vergadering by die staatshuis is deur verteenwoordigers van onder meer Bidvest Namibia, Clover, Woermann Brock, die Vervaardigersvereniging van Namibië, Agra, Meatco, Shoprite, Spar, Food Lover’s Market, Pick n Pay en Ohlthaver & List bygewoon.
Volgens die Harambee-plan sal die werklose jeug in die vorm van straatkomitees die voedselbank bestuur en dienooreenkomstig vir hul werk vergoed word. Die voedselbank sal reeds op 30 Junie in Windhoek in werking gestel word en sal geleidelik landwyd uitgebrei word.
BEKOMMERD OOR RISIKO’S
Die Namibiese Handelsforum (NTF) se voorsitter, mnr. Gideon Shilongo, het gesê die private sektor, wat uit die kleinhandel-, vervaardiging-, verspreiding- en landbouhandelbedrywe bestaan, wil saam met die regering werk om die voedselbank ’n werklikheid te maak.
“Dit is eerste prys om die kos te skenk wat handelaars gewoonlik weggooi, maar die rede waarom daarvan ontslae geraak word, is omdat dit naby die vervaldatum is of reeds verval het.
Dié kos moet dus so gou as moontlik geëet word, as gevolg van die risiko daaraan verbonde om kos te eet wat reeds verval het,” het Shilongo gesê.
“Handelaars is ook bekommerd dat ontvangers van die kos dit na winkels kan terugneem en beweer dat hulle onlangs kos gekoop het, wat reeds verval het.
“Hulle kan dalk eis dat die winkel hulle vir hul skade vergoed, wat vir handelaars ’n addisionele uitgawe sal wees.”
Shilongo het verder gesê handelaars verstaan dat ’n behoefte aan stoorplek en verspreiding vir die voedselbank se kos bestaan, maar dat die meerderheid van hulle persele huur wat slegs groot genoeg is om hul eie produkte te stoor.
“Handelaars het dikwels nie addisionele stoorplek nie. Dieselfde geld vir verspreiding – die meerderheid handelaars kontrakteer dit uit aan gespesialiseerde vervoermaatskappye.”
ONS SÊ JA
“Hiermee sê ons egter nie nee vir die uitdaging nie, ons sê steeds ja en glo dat oplossings vir die uitdagings gevind kan word sodra ons die regering se behoeftes in verband met die voedselbank beter verstaan. Dalk kan ons na die tekenbord gaan en met ’n duidelike plan vorendag kom,” het Shilongo gesê.
Mnr. Brian Black, voorsitter van die Vervaardigersvereniging van Namibië (MAN), het gesê eienaarskap van die risiko is vir hom ’n bekommernis, veral as dit by die verspreiding van kommoditeite kom waarvan die vervaldatum naby is.
“As die kosse versprei word en skade veroorsaak, is die vervaardiger steeds verantwoordelik hiervoor?”
Geingob het daarop geantwoord dat die samesprekings slegs ’n begin is en probleme nog uitgestryk moet word.
“Ons probeer nie om ’n stortingsterrein van kos te skep nie. Ons sal baie versigtig te werk moet gaan sodat ons nie ’n edele konsep verwoes nie.
Ons is ook bewus van die risiko’s verbonde hieraan en sal kenners kry om ons hiermee te help sodat ons nie probleme skep nie,” het hy gesê.
’n Verteenwoordiger van Meatco het voorgestel dat in die geval van kos wat verval het, kan monsters van die kos geneem en getoets word voordat dit aan mense gegee word.
“Ons sal ook graag wil weet hoe groot die behoefte aan hierdie kos is sodat ons meer akkuraat kan reageer,” het nog ’n handelaar gesê.
Die voormalige Kubaanse ambassadeur vir Namibië, mnr. Angel Dalmau Fernandez, wat by die die program betrokke is, het gesê ná afloop van die studie in die Tobias Hainyeko- en Samora Machel-nedersetting in Windhoek teen Oktober vanjaar, sal daar waarskynlik ’n beter syfer gegee kan word van wat die behoefte is wat Windhoek betref.
“Tans is reeds 16 000 tot 18 000 armoedige huishoudings in die Tobias Hainyeko-nedersetting geïdentifiseer, maar dit is moeilik om nou al presies te sê hoeveel mense van die voedselbank afhanklik sal wees,” het Fernandez gesê.
Ander wou ook weet of mense moontlik leuens sal vertel oor hul werklike inkomste, net om kos van die voedselbank te verkry, ten koste van die wat werklik behoeftig is.
Geingob het gesê die etiese gedrag van mense kan problematies wees, maar die hoop uitgespreek dat die individue wat in die straatkomitee aangestel word, algaande groter aanspreeklikheid sal aanvaar om seker te maak die kos word regverdig versprei.
Nog ’n voorstel was dat handelaars se handelsmerke van die verskafde kos verwyder word en dat die voedselbank se handelsmerk daarop aangebring word, wat sal help dat ontvangers nie skadevergoeding vir die kos van die oorspronklike handelaars kan terugeis nie en die risiko van vervalde kos vir handelaars kan verminder.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie