Handgemaakte sigare rol uit Lüderitz

Die egpaar beplan om einde vanjaar self die tabak aan te plant.
Tanja Bause
Tanja Bause - In 'n klein aandenkings­winkel op Lüderitz sit 'n vrou en rol vol selfvertroue 'n sigaar.

Sy meet die tabakblare in haar hand, rol die blare, sit 'n dekblad oor en sit die punt op. Sy hou die sigaar in die lug op en sê met 'n breë glimlag “Nog 'n Namibiese sigaar is klaar.”

Sy is Paulina Padwick van Premium Namibian Cigars. Sy en haar man, Brian, voer drie verskillende soorte tabak vanaf Cuba, Nicaragua en die Dominikaanse Republiek in om die sigare te maak.

“Ons het al twee keer probeer om ons eie tabak te plant. Die eerste keer was op Maltahöhe waar ons gebly het. Ons het ook al probeer om dit in die omgewing van Oshakati te laat groei. Beide kere was onsuksesvol.

“Vanaf November sal ons tabak in die Zambezi probeer kweek. Ek is vol vertroue dat dit gaan werk en dan kan ons regtig 100 persent Namibiese sigare maak,” sê Brian.

Om 'n sigaar te maak, is baie arbeidsintensief en behels sowat 300 verskillende stadiums.

“Dit is ongelooflik baie werk vandat die tabak geplant word totdat die sigaar klaar is en verkoop kan word. Dit is ook 'n lang proses. Die plant groei vir sowat vyf maande, dan word die blare geoes en gedroog, wat omtrent 'n jaar vat. Vir die volgende vyf maande word die blare gesorteer en voorberei sodat die sigare gerol kan word. Dit neem omtrent twee jaar vandat die saad geplant is totdat die sigaar gemaak word,” het hy gesê.

“Ons voer ons tabak in omdat ons nog nie ons eie tabak plant nie. Wanneer dit hier aankom, moet dit vir twee weke in die yskas gesit word om seker te maak enige goggas gaan dood wat dalk op die blare is,” het sy gesê.

Alles het in 2011 begin toe die Padwicks begin het om sigare van Kuba en Latyns-Amerika in te voer.

Dieselfde tyd het 'n vriend vir hulle kom kuier en aangebied om hulle te leer om self sigare te rol.

Brian vertel: “Dit het aanvanklik as 'n speletjie begin. Ons eerste selfgemaakte sigare was aaklig, maar ons was ontsettend trots op hulle. Nadat ek en Paulina elk seker omtrent 2 000 sigare gerol het, is ons meesters en trots op ons produk.”

Tot in daardie stadium het die gesin nog op Maltahöhe gewoon. Hulle het egter besef dit is nie 'n plek waar hul dogter moet grootword nie.

“Ons het geweet ons wil in die Suide bly. Ons het 'n kaart gevat en op Lüderitz besluit. Ons het ons goed gepak, getrek en ons sigaarbesigheid begin,” sê hy.

Volgens Brian het hulle gereelde kliënte wat by hulle koop.

“Dié kliënte het van ons begin-sigare gerook, maar hulle het weer teruggekom en is vandag van ons beste kliënte.”

Dit neem die Padwick-egpaar nou vyf minute om 'n sigaar te rol.

“Wanneer jy die sigaar klaar gerol het, weet jy dit is reg. Jy voel of die sigaar maklik getrek kan word, goed brand en nie uitmekaar val nie. Ons maak goeie sigare.

Premium Namibian Cigars maak agt verskillende sigare. Daar is die Lüderitz, Buchter, Griffin, Nautilus, Die Suide, Kapps, Goerke Haus, Diaz en Shark Island.

“Die sigare wat ons maak, het almal historiese name van die omgewing. Ons is 'n besigheid op Lüderitz en wil die dorp en omgewing weerspieël.

“Ons is trots op ons handgemaakte sigare en van volgende jaar af sal dit 100 persent Namibies wees wanneer ons, ons eie tabak aanplant. Dit is ook 'n produk wat ons minder hoef in te voer.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!