Handgemaakte velskoene uit die verre Suide

’n Handjievol vroue verseker ’n inkomste vir hul nedersetting terwyl ’n jonger geslag in die kuns van leerwerk opgelei word.
Tanja Bause
In die klein informele nedersetting Satco, sowat 15 km buite Karasburg, sit vier vroue in ’n kamer en vervaardig ten volle handgemaakte Namibiese velskoene.
Die Doen en Sien Self-leerprojek is 18 jaar gelede in ’n sinkhuis deur 14 mense begin. Mnr. Joseph Rooi het daardie jare die skoene gemaak en verkoop. Toe daar weer ’n landbousaamtrek op ’n nabygeleë plaas was, het hy ’n paar skoene daar gaan verkoop.
“Sy skoene het amper onmiddellik uitverkoop en hy het die nuus met ons kom deel. Drie van die vroue van Satco het na hom gegaan en gevra dat hy ons leer hoe om skoene te maak sodat ons ook ’n inkomste kan verdien, want hier op Satco is daar nie werk nie,” het me. Maria Koper gesê.
So het die velskoenbesigheid in die verre Suide van die land begin. Aanvanklik het die projek stukkies oorskot-leer van die boere in die omgewing gekry. Hulle het van hulle geld gespaar en toe begin om van die looiery op Swakopmund leer te koop. Stadig maar seker het die skoene al hoe meer gewild geword en mense het by die projek kom inloer om skoene te koop.
In 2002 het die Doen en Sien Self-leerprojek geldelike ondersteuning van die destydse ministerie van plaas­like regering en behuising asook die ministerie van geslagsgelykheid ontvang.
“Met daardie geld het ons toerusting gekoop en ’n tweede kamer aangebou omdat die besigheid te groot geword het vir ’n enkelkamer,” het Koper gesê.
Die projek het egter lank deur ’n moeilike tyd gegaan en kon net vyf vroue aanhou om skoene te maak, naamlik die drie stigterslede, mee. Veronika Blokstaan, Hilda Katrina Vries en Maria Koper, saam met Sara April en wyle Maria van der Westhuizen.
Die vroue het vasgebyt en in 2013 is hulle beloon toe die //Kharas plaas­like owerheid vir hulle ’n gebou gegee het van waar hulle vandag nog werk.
Intussen het die vroue weer tot nege lede vermeerder en besigheid het flink sake begin doen, met die skoene wat nou ook op Keetmanshoop en Karasburg verkoop word.
Die vroue koop ook nou leer in Windhoek aan waar dit reeds deur die verskaffer gekleur is. Skoene en afwerkings is tans in rooi, blou, bruin en swart te koop.
“In die begin het ons die leer self met ’n klein, rooi klip gekleur. Dit is dieselfde klip waarmee ons vroue ons gesigte rooi verf. Maar dit is baie moeilik om die klip hier in die hande te kry, so nou koop ons liewer leer wat reeds gekleur is,” het Koper gesê.
Suid-Afrikaners tel onder gereelde kopers en die projek het ook al skoene na Outjo en Stampriet gestuur.
“Nou die dag was ons op Keetmanshoop en daar sien ons drie meisies stap wat ons skoene dra. Hulle weet nie wie ons is en dat dit ons handewerk is wat hulle dra nie, maar dit maak ons baie trots om te sien,” het Blokstaan gesê.
Die vroue is weeksdae vanaf 08:00 tot 17:00 in hul gebou besig om skoene in alle groottes te maak. Hulle kry ook gereeld bestellings, veral van kulturele groepe wat hulle dan met versiering ekstra spesiaal maak.
Die gemeenskap van Satco bestaan hoofsaaklik uit pensioenarisse en werksgeleenthede is baie skaars.
Die vroue is tans besig om jong meisies in die kuns van velskoen-maak op te lei.
“Velskoene is iets wat ons mense nog altyd gedra het. Die projek skep nie net vir ons ’n inkomste nie, maar hou ons besig. Ons wil egter die Doen en Sien Self-leerprojek se voortbestaan verseker en dus maak ons nou ’n jonger geslag meisies wat belangstel touwys sodat hulle eendag by ons kan oorneem,” het Koper gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!