H&M swig onder druk om in SA aan te koop
H&M swig onder druk om in SA aan te koop

H&M swig onder druk om in SA aan te koop

Die groep beoog om sy personeellede in die buurland van 800 tot meer as 900 te verhoog in die altesaam 26 winkels.
Nellie Brand-Jonker – ’n Suid-Afrikaanse modeontwerper is die eerste ontwerper van Afrika waarmee die Sweedse winkelgroep H&M gaan saamwerk om ’n spesiale klerereeks vir sy winkels te ontwerp.

Die ontwerper Palesa Mokubung van Johannesburg se Mantsho-etiket sal in alle Suid-Afrikaanse H&M-winkels van Augustus af te koop wees, op sy aanlyn winkel en in sekere van H&M se vlagskip-winkels oorsee.

Dit volg kort nadat H&M einde Maart gesê het hy gaan binnekort vervaardiging in Suid-Afrika op die proef stel. ’n Voorraadketting-spesialis sal aangestel word om die projek aan te voer.

Nog twee H&M-winkels is reeds sedert einde Maart geopen en nog een gaan later vanjaar in Johannesburg open, terwyl sy vlagskip-winkel in Durban uitgebrei sal word.

Die groep beoog om dan sy personeellede in die land van 800 tot meer as 900 te verhoog in die altesaam 26 winkels.

Pernilla Wohlfahrt, bestuurder van spesiale reekse van H&M, sê hulle hou veral van Mokubung se gebruik van kleur en drukwerk om die vroulike figuur op ’n vleiende en spelerige wyse te beklemtoon.

Oldouz Mirzaie, bestuurder van H&M in Suid-Afrika, sê die kleinhandelaar is daartoe verbind om in die plaaslike ekonomie deur voortgesette werkskepping te belê.

Sy sê elke nuwe mark wat H&M betree, het sy eie geleenthede en probleme.

“Ons het geleer dit is nodig om ons klante beter te verstaan. Klante soek internasionaal al hoe meer na produkte en handelsmerke wat wys dat die maatskappy op ’n verantwoordelike wyse handel dryf.”

Mokubung sê Mantsho beteken “swart is mooi” in Sesotho en dié handelsmerk is in 2004 begin.

Die klerewerkersvakbond Sactwu het die aankondiging oor Mokubung se klerereeks deur H&M en die aankope wat die groep in die binneland gaan doen verwelkom en te kenne gegee dit spruit uit die druk wat die vakbond en die regering op die winkelgroep uitgeoefen het.

Die vakbond sê dit is hoog tyd dat Suid-Afrikaanse produkte in H&M se winkels verkoop word. “Tot nou toe is geen produkte wat in sy winkels plaaslik verkoop word in Suid-Afrika gemaak nie,” sê André Kriel, hoofsekretaris van Sactwu.

“Namate buitelandse winkelgroepe soos H&M, Zara en Cotton On in Suid-Afrika uitbrei, het hulle ál meer markaandeel van plaaslike winkelgroepe afgeneem. Dit het ’n impak op plaaslike fabrieke wat van daardie winkelgroepe bestellings kry en dit het tot werkverliese en die sluit van fabrieke gelei.”

Die vakbond het dit ook verwelkom dat H&M gaan begin met aankope in die binneland.

“Dit gee ons hoop dat die skade wat deur die buitelandse winkelgroepe aangerig is, versag sal word of omgekeer sal word,” sê hy.

Volgens Kriel volg H&M se voorneme ná betogings deur Sactwu se lede by sekere van sy winkels in Oktober 2017, besoeke wat deur die vakbond en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) gelei is om H&M se kopers na plaaslike fabrieke te neem in Mei 2018, en verskeie verdere vergaderings tussen die winkelgroep, die regering en belangegroepe in die bedryf.

Kriel sê die samewerking met Mokubung word beskou as die eerste stap vir verdere samewerking. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer