Hansen kritiseer 'eenogige' SA blasers
Hansen kritiseer 'eenogige' SA blasers

Hansen kritiseer 'eenogige' SA blasers

Superrugby
Steve Hansen, afrigter van die All Blacks, wil weet waarom Suid-Afrikaanse skeidsregters die Leeus só min op Ellispark straf in vanjaar se Superrugby-reeks.

Die Leeus het in hul laaste drie kragmetings met oorsese teenstanders – met SA blasers aan die spits – die somtotaal van net ses strafskoppe afgestaan, terwyl die besoekers aan Ellispark saam 43 keer gestraf is.

In die proses het die Leeus rillerwedstryde teen die Rebels, Waratahs en Highlanders gewen.

Teen die Rebels en Waratahs was Egon Seconds die skeidsregter. Hy het 20 strafskoppe vir die Leeus toegeken teenoor een vir die Rebels en 11 teen die Waratahs teenoor twee teen die Leeus. Die Leeus het daardie twee wedstryde onderskeidelik met 36-33 en 29-28 gewen.

Met Rasta ­Rasivhenge aan die spits in die ­afgelope naweek se kragmeting tussen die Leeus en Highlanders, was die strafskoptelling 12-3 in die Leeus se guns. Die Suid-Afrikaanse span het met 38-29 gewen.

“Ek ken nie enige span wat in drie ­wedstryde slegs ses strafskoppe afstaan nie, so ek sou sê hulle (die skeidsregters) is nie konsekwent met die wyse waarop hulle foute weerskante toe straf nie. As iets op die dag 'n strafskop is, moet dit heeldag 'n strafskop wees, nie net vir 'n deel van die dag nie,” het Hansen luidens 'n berig op rugbypass.com aan joernaliste in Auckland gesê.

Seconds was vroeër vanjaar in die spervuur vir sy hantering van die wedstryd tussen die Stormers en Leeus op Nuweland. Daar was veral kritiek dat hy laat in die wedstryd verkeerdelik 'n strafskop teen die Leeus toegeken het, wat die Stormers in staat gestel het om aanval op aanval te loods voordat Herschel Jantjies uiteindelik die wendrie gedruk het.

Aaron Mauger, die Highlanders se afrigter, het Rasivhenge skerp gekritiseer.

“Ek is seker as die skeidsregter sy ­vertoning hersien, sal daar 'n paar dinge wees waarop hy moet verbeter,” het hy luidens op stuff.co.nz gesê.

Mauger meen Sanzaar, die beheerliggaam van die Superreeks, behoort vir Rasivhenge die leviete voor te lees.

Die afgelope naweek het die TV-skeidsregter op Nuweland, Marius Jonker, 'n omstrede beslissing teen die Crusaders in hul ­wedstryd teen die Stormers gemaak. Dit het gelyk asof Sevu Reece die wendrie vir die Crusaders gedruk het, maar daar is deur Jonker beslis dat Braydon Ennor se aangee na hom in die aanloop ­vorentoe was.

Argumente vír en téén hierdie beslissing kan gemaak word wanneer 'n video-ontleding van die aangee gedoen word.

Stuff.co.nz het in sy berig ook etlike statistieke opgehaal waarmee Suid-Afrikaanse skeidsregters se objektiwiteit bevraagteken word.

Het die TV-skeidsregter, Marius Jonker, die Stormers 'n guns bewys met sy beslissing van 'n vorentoe aangee teen die Crusaders in Saterdag se gelykop­stryd van 19-elk op Nuweland? In wedstryde teen die Bulle, Haaie, Leeus en Stormers in Suid-Afrika – met SA skeidsregters aan die spits – is 47 strafskoppe teen die SA spanne toegeken en 96 teen hul oorsese teenstanders. Met oorsese skeidsregters in Suid-Afrika, is die syfer 72-66 in die SA spanne se guns. Selfs in die Crusaders se wegholsege van 45-13 oor die Bulle op Loftus, was die strafskoptelling 12-4 in die tuisspan se guns. Rasivhenge het daardie wedstryd hanteer. 

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer