Harambee byt plek-plek in stof
Harambee byt plek-plek in stof

Harambee byt plek-plek in stof

Volgens pres. Hage Geingob het sy regrukplan om die Namibiese ekonomie uit die as te laat opstaan in 70% van sy doelwitte geslaag.
Denver Kisting
Denver Kisting – Daar het dadels gekom van die regering se plan om teen vanjaar minstens 8 000 poste in die vervaardigingsbedryf te skep.

Die regering moes – veral vanweë die uitbreking van Covid-19 – planne om regeringskuld te verminder op sy maag skryf.

Die plan om die land se kredietgraderings óf in stand te hou óf te verbeter, het ook in die slag gebly.

Die staatshoof, pres. Hage Geingob, sê hy het gehoop die Harambee-welvaartsplan (HPP) sou in 80% van sy doelwitte slaag, maar hulle moes vir lief neem met 70%.

Hy het verlede week tydens die staatsrede (Sona) in die Nasionale Vergadering (NV) terugvoering gegee oor dié plan wat ten doel het om Namibië uit veral sy ekonomiese ellende te help.

Pilaar 1: Doeltreffende bestuur

Geingob sê die HPP het nie daarin geslaag om ’n bevredigende syfer van 70% by Namibiërs in te boesem wat doeltreffende bestuur en dienslewering betref nie.

Maar, meen hy, die land het vordering gemaak op die Mo-Ibrahim-indeks wat verantwoordbaarheid betref.

Hiernaas is deursigtigheid ook verbeter en die eerste posisie behou wat mediavryheid op die vasteland betref.

Die Namibiese regering het egter die afgelope maande onder skoot gekom vir die hantering van die media te midde van Covid-19.

Verlede jaar het Geingob in sy Harambee-vorderingsverslag gesê die vertraging met die tertafellegging van die Toegang tot Inligting-wetsontwerp het die land in 2018 sy eerste plek gekos.

Die president het tydens sy 2019-staatsrede gesê dié voorgestelde wet, wat tans in sy konsepstadium is, sou verlede jaar in die Huis dien.

Verlede week het hy nie eens hierna verwys of redes verstrek hoekom dié plan in die stof gebyt het nie.

Tydens ’n terugvoeringsessie verlede jaar het Geingob gesê die stand van ekonomiese sake en die gepaardgaande begrotingsbeperkinge het die “optimale inwerkingstelling” van doeltreffende bestuur kwaai in die wiele gery.

Sonder ’n verandering in gesindheid wat vergesel word deur ’n kultuur van prestasie sal daar van verbeterde openbare diens dadels kom, het hy toe reeds toegegee.

Pilaar 2: Ekonomiese vooruitgang

Wat dié pilaar betref, is vyf behaal, terwyl sewe aan die agterste speen suig.

Van dié wat nie gehaal is nie, sluit in die hoop om openbare skuld te anker op 33% van bruto binnelandse produk (BBP) teen jaar 3 van die Harambee-tydperk en 30% van die BBP teen die einde van die tydperk.

Twee weke gelede het die minister van finansies, mnr. Iipumbu Shiimi, Namibiërs in sy begrotingsrede ingelig openbare skuld staan tans op N$117,5 miljard – N$17 miljard meer as verlede jaar.

Geingob het voorts toegegee daar het dadels gekom van planne om die land se kredietgraderings in stand te hou of te verbeter.

Die hoop om ’n minimum aantal van 8 000 poste in die vervaardigingsbedryf teen vanjaar te skep, het eweneens beskaam.

Die regering het wel daarin geslaag om minstens tien beleggingsgeleenthede te lok deur middel van beleggingsbevorderingsaktiwiteite en só 1 000 poste te skep tydens die Harambee-tydperk, lui die verslag.

Geingob sê hulle was ook in staat om 121 landelike jeugondernemings landswyd op die been te bring wat tussen vyf en tien mense per onderneming in diens neem.

Nuwe finansiële vaartuie is ook bekend gestel om die uitdagings rondom krediet waarvoor kollateraal benodig word, die hoof te bied, lui die verslag.

Pilaar 3: Maatskaplike vooruitgang

Geingob sê die regering se plan om 50 000 toilette in landelike gebiede op te rig, is nie op koers nie.

Maar, sê hy, die meeste ander doelwitte onder dié plan is op dreef.

Onder meer is nog geen sterfte weens honger in die land aangeteken nie, sê hy in die verslag.

Dat 26 000 nuwe woonerwe gediens en 20 000 nuwe behuisingseenhede opgerig is, dui op dié welslae, sê hy.

Pilaar 4: Ontwikkeling van infrastruktuur

’n Lewende ekonomie word deur doeltreffende vervoerinfrastruktuur in stand gehou, het Geingob opnuut benadruk.

Die land se gunstige geografiese posisie aan die suidwestelike kus is daarom veral van belang, sê hy.

Hy het egter toegegee die hoop om te verseker 80% van alle laer- en hoërskole het toegang tot breëbandverbinding om e-onderrig teen vanjaar te fasiliteer, het skipbreuk gely.

Die regering kon ook nie daarin slaag om alle skole en gesondheidsinstellings van elektrisiteit te voorsien nie.

Die plan om landelike elektrifisering van 34% in 2015 tot 50% teen vanjaar uit te brei, is ook nie gehaal nie.

Die plan om kragtens standaarde van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) 600 km van die nasionale spoornetwerkinfrastruktuur op te gradeer, het ook in die stof gebyt, lui die verslag.

Die regering het wel daarin geslaag om te verhoed dat beurtkrag deel van die land se werklikheid word.

Volgens die verslag het 100% van mense ook tans toegang tot veilige drinkwater, terwyl plaaslike kragopwekking ook verbeter het van 400 MW in 2016 tot 600 MW in 2020.

Pilaar 5: Internasionale betrekkinge en samewerking

Internasionale handel hang af van ’n gesamentlike beraadslagingsproses en onderhandelings wat nie heeltemal in Namibiese leiers se hande is nie, sê Geingob.

Andersins het die land goed gevaar op dié gebied, lui die verslag.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!