Hardap: D-dag breek aan
Die opdroog van besproeiingswater op die Hardap-skema bedreig meer as ’n duisend huisgesinne, terwyl die landbousektor nou sonder dié lusern sal moet klaarkom.
Elvira Hattingh - “Hierdie is absoluut buite menslike beheer, dit is nou die Hoër Hand wat beskik. Ons kan net met ons knieë op die grond bly en bid, glo en hoop die Here sal op sy tyd voorsien.”
Só het mnr. Dawie de Klerk, ’n besproeiingsboer en ondervoorsitter van die Akkerbouprodusentevereniging (APV), gister aan Republikein gesê ná watertoevoer na besproeiingsboere op die Hardap-skema die afgelope Maandag gestaak is.
Hy sê hul enigste hoop is die reënseisoen wat nog voorlê.
“As dit nie binne drie weke voldoende kom reën nie, sal daar permanente skade aan gewasse wees. Dit sal astronomiese sosioëkonomiese gevolge vir die hele skema inhou,” het hy gesê.
De Klerk sê sowat 1 000 arbeiderhuisgesinne is van die dam se besproeiing afhanklik, wat die besproeiingsboere self en seisoenale werkers uitsluit.
Sowat 2 200 ha se gewasse word deur die Hardap se besproeiingswater gevoed – tot 80% hiervan is lusern.
De Klerk meen die Hardap-skema se watertekort kan verreikende gevolge vir die landbousektor inhou, omdat dié skema homself die afgelope jare as die voer- en ruvoer-voedselmandjie in die land gevestig het en talle vee-, wild- en voerkraalboere daarop staatmaak.
TEGNIESE PROBLEME
Volgens NamWater se damverslag die afgelope Maandag het die dam tans 6,1% water oor.
De Klerk sê die aanvanklike plan was dat besproeiingswater afgesny sou word as die damvlak 4,5% bereik, maar tegniese probleme ontstaan nou omdat die damvlak so laag is.
“Daar is steeds genoeg water vir besproeiing oor tot tyd en wyl die dam ’n vlak van 4,5% bereik, maar omdat die dam tans baie leeg is, ervaar NamWater erge probleme met waterdruk sodra die besproeiingskanaal oopgemaak word.
“Dit veroorsaak dat daar nie genoeg druk in die stelsel is om die watersuiweringswerke te voer nie – sodanig dat die booster-pompe se vloei te laag raak en outomaties afskakel.
“Die besluit is dus geneem sodat die drinkwateropgaartenks voortdurend watertoevoer kan kry. Mens en dier geniet natuurlik groter voorkeur as gewasse,” sê De Klerk.
REUSEWERKSVERLIESE
De Klerk sê besproeiingsboere het ’n reuse-arbeidsmag op Hardap.
“As daar nie ’n inkomste is nie, wat maak jy met jou arbeiders? Daar is ’n menslikheidsfaktor ter sprake, jy wil so veel as moontlik van jou mense tydens die oorbruggingstydperk in diens hou. Die reënseisoen wat voor ons lê, is die enigste ligpunt in die tonnel.”
De Klerk sê sowat 1 000 arbeidergesinne werk op die Hardap en kan deur die huidige omstandighede geraak word.
Dit sluit nie deeltydse werkers, seisoenale werkers of boere self in nie.
2 200 HA MOONTLIK TOT NIET
De Klerk sê altesaam 2 200 ha se gewasse op die Hardap-skema kan ten gronde gaan. Besproeiingsboere het reeds van 1 November af besproeiing op 40% van hul landerye gestaak om die beskikbare water tot die reënseisoen te laat hou.
“Die afgelope jare het die Hardap-skema homself gevestig as die voedingsmandjie van ru- en veevoer in die land. Die alternatief vir veeboere is om nou voer uit Suid-Afrika in te voer.
“Dis ’n sneeubal-effek. Dit raak ook die groter landbousektor, veeboere, die wildbedryf, melkerye en voerkrale,” het De Klerk gesê.
Intussen het NamWater se woordvoerder, mnr. Johannes Shigwedha, laat gistermiddag ’n verklaring uitgereik en gesê verdere ondersoeke dui aan die oorblywende water in die dam is ook nie genoeg om mens en dier vir twee seisoene lank van water te voorsien nie.
Dit sal glo net tot die einde van Februarie volgende jaar hou indien geen water die dam binnevloei nie.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie