Hardap loop gou vol
Hardap loop gou vol

Hardap loop gou vol

Die Hardapdam se vlakke het sedert Maandag met meer as 20% geklim, terwyl drie ander nasionale damme ook sedert Maandag water ontvang het.
Andrew Poolman
Elvira Hattingh – Die Hardapdam sou na verwagting laat gisteraand 70% van sy kapasiteit bereik, wat beteken dié suidedam se sluise sou oopgetrek moes word.

Teen 14:10 gister was die dam reeds 65,1% vol, terwyl reënwater dit steeds teen 635 m³ per sekonde binnegevloei het. Dis meer as die tempo gister om 11:30, toe die water teen 245 m³ per sekonde binnegevloei het.

Tóé het die dam nog op 63,2% gestaan. Die dam was die afgelope Maandag net 47,7% vol.

Sedert die vloed van 2006 toe Mariental oorstroom het, is ooreengekom dat die damvlak om veiligheidsredes rondom ’n maksimum van 70% gehou sal word.

PLAASDAM

Mariental se munisipaliteit het gister bygevoeg die muur van ’n plaasdam met ’n volume van sowat 0,5 miljoen kubieke meter (Mm³) het gebreek. Hoewel die plaasdam se kapasiteit net sowat 0,5% van die Hardapdam verteenwoordig, sou dit steeds die vloei versterk van die Packriemrivier wat die Hardapdam voed.

Lorriedrywers is ook gewaarsku teen baie nat toestande in die Mariental-omgewing. Vloede in die Dabib-gebied beteken water kan in die rivier by die Truck Port-kruising vloei.

Volgens ’n tussentydse damverslag wat Woensdag deur NamWater uitgereik is, het die Hardapdam tussen Maandagoggend en Woensdag altesaam 26,197 miljoen kubieke meter (Mm³) water ingekry, terwyl nog drie ander nasionale damme sedert Maandag ’n inloop van water gehad het.

ANDER DAMME

Die Nautedam, met ’n kapasiteit van 83,580 Mm³, se sluise is ook die afgelope Dinsdag oopgetrek toe dit sowat 108,2% vol was, dui die verslag aan. Toe het dié dam 17,3 m³ water per sekonde ingekry. Sedertdien is die dam se vlakke afgebring tot op 99,4% nadat sy slik-uitlaatkleppe ook oopgemaak is.

Die invloei van water na die Nautedam het teen Woensdagoggend omstreeks tienuur opgehou.

Die Friedenaudam (kapasiteit 6,723 Mm³) het Woensdag om 08:00 sowat 0,5 m³ water per sekonde ontvang, terwyl die Von Bachdam (kapasiteit 47,525 Mm³) 0,027 m³ op Maandag om 20:00 ontvang het. Sedertdien het die invloei van water na dié dam ook opgehou.

Dié invloei het laasgenoemde twee damme se vlakke op onderskeidelik 79,4% en 46,5% te staan gebring, volgens die dambulletin.

Kommentaar

Republikein 2025-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer