Hardap skerp sy stryd op
Hardap skerp sy stryd op

Hardap skerp sy stryd op

Mariental se sakegemeenskap het 'n skenking ter waarde van N$500 000 aan die staatshospitaal gemaak, terwyl landbouers sê hulle sal help tot al die ingesamelde geld opraak.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Terwyl skenkings deur Mariental se sakegemeenskap sal help om die staatshospitaal se kapasiteit te vergroot om Covid-19-pasiënte te huisves, het die Mariental Streeklandbou-unie (MSLU) ook 'n inisiatief van stapel gestuur om suurstofnood in dié streek te verlig.

Die Suidedorp se sakegemeenskap het Vrydag skenkings ter waarde van N$500 000 aan die Mariental-staatshospitaal oorhandig. Dit sluit in onder meer opknappings aan die Covid-isolasiesaal, terwyl 300 suurstofsilinders van 9,2 kg elk geskenk is, asook 'n mobiele lykshuis en beddens en matrasse.

Volgens Hardap se waarnemende direkteur vir gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Berrit Platt, beteken die opknapping van die hospitaal se saal vir buitepasiënte dat daar nou 37 pasiënte in isolasie geplaas kan word, waar dié syfer voorheen net 12 was.

Mariental se burgemeester, mnr. Adam Kuhlman, het tydens die geleentheid gesê dié streek het tans die derde meeste Covid-19-gevalle in die land.



INISIATIEF

Terselfdertyd het landbouers ingespring om die nypende tekort aan suurstof te probeer verlig.

Mnr. Chris Smith, voorsitter van die MSLU sê daar is reeds N$45 000 ingesamel as deel van 'n inisiatief om die nood vir suurstof in die Hardapstreek te verlig.

“Ons wil help tot ons geld opraak,” het hy gister telefonies aan Republikein gesê.

Hy sê dit gaan om lewens te red en enige persone in die streek te help wat suurstof benodig – die hulp word nie tot die landboubedryf beperk nie. Volgens kwotasies wat hy ontvang het, kan 50 bottels suurstof met sowat N$25 000 gekoop word.



HULP MET WATER

Kuhlman sê om kwesbare huishoudings op die dorp te help, word 50 liter water daagliks gratis aan hulle geskenk – om hulle te help om beter higiëne te handhaaf.

Grafte word ook gratis aan families gegee wat geliefdes aan Covid-19 verloor het. Kuhlman het gesê om plaaslike besighede se herstel ná die pandemie aan te help, sal hul aanslae met 5% verminder word.

Nampa berig tydens die geleentheid het Hardap se goewerneur, mnr. Salomon April, gesê 'n groter kapasiteit in isolasiesentrums en lykshuise, sal geen verskil maak as mense hulself nie oppas en Covid-19-regulasies nakom nie.

Hy het mediese personeel bedank wat daagliks onder moeilike omstandighede na pasiënte omsien.

[email protected]


FOTO
Die Suidedorp se sakegemeenskap het die afgelope Vrydag skenkings ter waarde van N$500 000 aan die Mariental staatshospitaal oorhandig. FOTO NAMPA

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer